Daar was ’n tyd toe mans oortuig was dat hul sperms mikroskopiese mensies was, babas wat net in ’n vrou moes grootword soos ’n vroeggebore kind in ’n broeikas. Sperms was alreeds volwaardig lewe. Vandaar dat masturbasie veroordeel is.

Het ’n vrou dan nie swanger geword nie, is dit tog logies dat sy die man se babas doodmaak! Die vrou was nooit onskuldig nie. Dwarsdeur die Bybel kry ons te doen met getraumatiseerde vroue wat nie kinders kon kry nie. Mans het vir sulke vroue min meegevoel gehad, maar dit is asof God juis sulke vroue uitgekies het om hul stories in die Bybel te vertel. As hulle eindelik tog kinders baar, word juis daardie kinders dié mense wat God se verhaal vertel en God se geskiedenis skryf. Trouens, God en al sy manne moes op vroue reken vir hul eie toekomsplanne. Vroue sou van mans se vrugbegin iets betekenisvol moes laat kom.

Dit het byna ’n beskawing lank gevat, tot net nou die dag toe, vir die vrou om geëmansipeer te word. “Geëmansipeer”, vermoed ek, is egter nie ’n goeie woord vir die lyding wat vroue moes deurmaak nie, want dit klink of hulle mans moes word om mens te kon wees. Maar samelewings verander gelukkig, kultuur hervorm. Kultuur swaai soos ’n pendulum heen en weer, van die een uiterste na die ander, en van almal trek die eerste swaai die verste.

Ek vermoed ons is pas by so ’n draaipunt van die Amerikaans-Westerse beskawing verby. Ons is eensklaps van mans in vrouebaaibroeke wat kla dit knel, tot by vroue wat dreig hulle gaan gemeenskap van mans weerhou as aborsie op aanvraag gestuit word. Ironies, want het jy nie gemeenskap nie, gebeur swangerskap nie, en is aborsie ieder geval oorbodig!

Net die woord “aborsie” is al aanstootlik, en nie net vir die pro-lifers nie. “Aborsie” laat dit klink of ’n fetus geweld aangedoen word. “Beëindiging van swangerskap” klink mooier, sê pro-choice, en onderskryf die vrou se reg. Maar Amnesty International se webblad praat nog van “aborsie”.

“An abortion is a medical procedure that ends a pregnancy. It is a basic healthcare need for millions of women, girls and others who can become pregnant.”

Dat daar naas vroue en meisies ook ander mense is wat swanger kan raak, slaan my dronk, maar dit nou daar gelaat. Hoe dit ook al sy, aborsie is glo vir hierdie mense “’n basiese, ’n grondliggende en gebiedend noodsaaklike, gesondheidsorgbehoefte”. Toegegee, sê Amnesty in dieselfde asem, wat vir húlle fundamenteel voel, maak ander vuurwarm onder die kraag. En tog pryk  aborsie in grondwette en handveste vir menseregte. Én dis in aanvraag:

“Worldwide, an estimated 1 in 4 pregnancies end in an abortion every year.”

Die Bybel sê vroue is mans se gebruiksgoed, so word beweer. Nou kyk, as twakpraat ’n reëndruppel was, was Kampersrus ’n kusdorp. Ja, die Bybel kén die vloerlapvrou. Een en dieselfde Bybel wat destyds se bygelowe, kultusse en kulturele praktyke skerp veroordeel het, vertel ook hoe sagkens God met Hagar gewerk het, en eers die meisiekind, Maria, se instemming kom soek het om haar liggaam vir sy Christus te mog gebruik. God is van kultuur wat eers dié kant toe en dan daardie kant toe swaai, dié Hervormer. Jy gaan vind God was altyd aan die kant van weduwees en kinders sonder pa’s. Die Here is immers julle God … wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee (Deut 10: 17 en 18, AFR2020). Deesdae is net nie alle weduwees se mans en al wat ’n vaderlose kind is, se pa’s al dood nie; dié lieplappers het pad gevat – die swangerskap, oftewel hul vaderskap, doodluiters “beëindig”. God verklaar Homself tot die Pa van vaderloses, en God doen vir die weduvrou wat haar man moes: God baken haar gebied af.

En wat, vra jy, verwag hierdie selfde Pa moet sy kinders doen? Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou (Jak 1: 27, AFR2020).

’n Pa wat op vaderskap sy rug draai, durf nie beweer hy het aan aborsie geen skuld nie, of dat hy nie deur aborsie “besmet” is nie. ’n Pa wat van sy vaderskap af wegloop, is so skuldig aan skade aan sy eie kind se lewe as wat enige vrou sou wees wat ’n ongebore fetus laat aborteer. Meer nog, hy pleeg geweld ook teen die vrou wat hy swanger gemaak het.

Privaatheid

In die waterskeidingsaak Roe v Wade, het die Amerikaanse Hooggeregshof in Roe se guns uitspraak gelewer. Jane Roe was ’n skuilnaam vir Norma McCorvey, Henry Wade die regsverteenwoordiger van die Amerikaanse deelstaat Texas. McCorvey was, toe sy in 1969 weer swanger word, reeds ma van twee kinders. Sy het besluit sy wil die derde kind nie in die wêreld bring nie, maar destyds was beëindiging van swangerskap op aanvraag nog nie in Texas moontlik nie. Aborsie was wel moontlik mits die swangerskap die moeder se lewe in gevaar gestel het, of as daar bevind kon word dat die kind by geboorte ernstig gestrem sou wees. Eers teen 1973 is uitspraak in Roe se guns gelewer. Die destydse uitspraak het berus op die grondwetlike beginsel van privaatheid wat toegepas is om te beteken dat net die vrou oor haar eie liggaam besluite mag neem, en dit die staat nie traak nie.

Die hele aborsiedebat is skielik weer ter tafel nadat ’n dokument uit die VSA se Hooggeregshof gelek het waarin die hoofregters sou blyke gee dat hulle van voornemens is om die saak van nuuts af te bekyk en die Roe v Wade uitspraak ook moontlik te herroep. Dit het Amerika in oproer, ’n kulturele revolusie is in volle gang. “Wokeism” is oënskynlik by sy hoogtepunt verby.

Menslike ontwikkeling

Ons in die RSA het ’n Grondwet wat oor aborsie sê dat vroue tot op 12 weke van swangerskap op aborsie mag besluit sonder om redes te verskaf. Is ’n vrou tussen 13 en 20 weke swanger, kan die swangerskap slegs onder bepaalde omstandighede beëindig word. Na 20 weke van swangerskap is aborsie steeds wettig, maar slegs as die vrou of die fetus se lewe in gevaar is, of indien die kind  hoogs waarskynlik by geboorte ernstige gebreke sal hê.

Hierdie klem op die ouderdom van die swangerskap by beëindiging daarvan, het te make met die fisiese lewensvatbaarheid van die ongebore kind, met hoe ver die fetus al tot mens ontwikkel het. Nie dat selfs ’n kind wat pas en natuurlik gebore is, op haar eie met die lewe sal kan aangaan nie. Selfs klaar uit die baarmoeder uit, met eie asem in die longe en die naelstring afgesny, is ’n baba nog net so van hulp afhanklik soos voor sy gebore is, en dit gaan so bly tot ’n mindere of meerdere mate tot op omtrent ouderdom 18 jaar. Om aborsie te wil probeer reguleer aan die hand van afgehandelde menslike ontwikkeling, of selfs persoonswording (wanneer word ’n biologiese organisme “iemand”?), is ’n drogredenasie. En om te wil uitvis waar God dink lewe begin en wanneer dit mag en moet eindig, is selfs uit die Bybel onmoontlik; dáár is sperme al mense, en oumense wat in sonde vasval, nog ondiere en adders en gedrogte, ver van mense af. Oor waar lewe en persoonwees inskop, gaan nie die wetenskap of die wysbegeerte en, helaas, ook nie die Bybel nie, jou net een finale antwoord gee waarby jy en God met sekerheid kan berus nie.

Privaat en gemeen

Die antwoord lê ook nie by die privaatheidsbeginsel agter Roe v Wade nie. ’n Bekgeveg oor wie se lyf dit nou eintlik is dié – die vrou s’n tog mos!, wil hulle hê ons moet sê – is dié windstorm nie werd nie. Sperme en penisse, eiers en baarmoeders, fetusse en kinders, bly nie privaat nie. Hulle is gebou vir gemeenskap, hulle bestaan vir, uit en danksy gemeenskap. Dáár lê die crux: by met wie jy besluit om hierdie liggaamsdele van jou te deel. By die seksdaad het jy van jou privaatheid afstand gedoen, en is die bevrugte eier die verantwoordelikheid van sowel die eiereienaar as die spermdraer.

Is swangerskap nie een van julle se bedoeling nie, tref beide van julle dan – en nie net een nie – voorsorg. Googleloer tog hoe! Maar ek sal my plig versuim as ek nie hier die Bybel se voorkeurvoorbehoedmiddel bemark nie: selfbeheersing en weerhouding. Dit werk regtig nogal goed. Maar in ’n gesprek oor aborsie, neem ek aan, het daardie skippie klaar geseil.

Gedane sake, besef ek, het (amper) geen keer nie, maar die wêreld eindig ook nie. Ons moet hierdeur, ons moet met lewe aangaan. Maar hoe? dis wat ons wil weet, nè?

Sien heel eerste raak hier is by swangerskap nou minstens drie mense betrokke, elkeen met ewe veel reg op billike verhoor. Hier gaan iemand, die regbank, die staat, God en die kerk, wie ook al, moet instaan vir die stemlose onder die drie.

Maar wat van húlle?

Privaatheid dus, en ’n gewroeg oor wanneer lewe kwansuis begin, gaan nie uitsluitsel gee nie.

Daar is iets wat gesê moet word, anders kyk ons dit mis: Ons praat tot nou toe nog net met en oor onsself. Ons is gelowige mense, redelike en geskoolde mense, ordentlike mense, gesinsmense, mense met vermoëns en vermoëndheid. Ons is nie almal nie. Daar is ook ’n ander wêreld daarbuite van haglike armoede, van tierende geweld teen meisies en vroue, van gruwels teen weerlose kinders. Daar is onnoembare vergrype, dierlike misbruik, ondenkbare afgryse, erge seksuele teistering. Hoef ek hulle regtig nog op die naam te noem? Soms is selfs iets so erg soos die beëindiging van swangerskap, ongeag van my en jou afsku daaraan, vir iemand anders verlossing uit ’n nóg erger nagmerrie. Sulke mense het hulp nodig, bedagsaamheid en deernis, drastiese ingrype, en soms is aborsie al uitweg. Dan is selfs aborsie liefdesbetoning.

Maklike antwoorde is daar nie, maar summiere verbod op alle beëindiging van swangerskap kan so liefdeloos jeens die vrou wees as wat aborsie wreedaardig teenoor die baba is. Nogtans maak dit van aborsie steeds geen basiese gesondheidsorg nie, gesondheidsorg wel, maar nie grondliggend nie. Die beste wat ek daarvan kan sê, is dat aborsie ’n uiterste genadebetoning is, genade se verste swaai van die pendulum, genade tot op ’n uiterste gerek. Maar selfs vir doodslag ís daar nog versagtende omstandighede.

Natuurlik gaan sondaars aborsie op aanvraag vir hul eie gerief uitbuit en misbruik. Sondaars doen dit met alles, met die beste waartoe mense in staat is. Dit behoort niemand te verras nie. Moet nou nie dat húl vergryp aan gelowige goedheid, ons genadebetoning aan bande lê nie. Dog moet ons hier onderskei tussen pastorale sorg aan iemand wat as ’n laaste uitweg van aborsie gebruikmaak, en terapie wat skuld moet onderdruk en gewetes moet paai.

As ons nog, hoe teësinnig en moeitevol ook al, begrip moet probeer kry vir transmense, moet ons gretig meelewing begin betoon met vroue wat weens onhoudbare omstandighede desperaat op soek moet gaan na ’n betroubare verloskundige wat veilige uitkoms bied uit ’n skrikwekkende onreg of ’n verdoemende fout. Aborsie kan so ’n verlossing wees.

Van liefde en geweld

Gee ag: Met liefde, nes met geweld, werk jy nie lukraak nie. Liefde en geweld maak, beide van hulle, ’n te groot verskil.

Ons worsteling is lankal nie meer tussen goed en kwaad nie, maar tussen grade van boosheid. So ver is ons almal al van God af dat daar nie meer ’n “goeie” en ’n “bose” is nie; alles is boos. As ons nog hier oorleef, in hierdie bose verknogtheid aan dood, is dit net danksy Christus, en ook net omdat daar met Hom uit die dood uit opgestaan kan word. Gelowige liefde smag daarna om reg te laat geskied aan weduwees en vaderlose kinders, die Marias en die Jesusse mos, om lewe in te spuit waar die dood dreig. Liefde vergestalt in bedagsaamheid en medelye, en maak die moeilike keuses tussen die duiwel en die diep blou see moontlik.

Openbaringe

Nee, jy kan nie wat ek hier geskryf het, gaan gebruik om teen aborsie op aanvraag te gaan stof opskop nie, en om vroue wat daarvan gebruikmaak om redes waarvan jy niks weet nie, te vervloek nie. Maar jy gaan ook nie met wat ek hier kwytgeraak het, vrye teuels kan gee aan drange en drifte en bandelose verdierliking nie.

Gaan lees Openbaring 21. Dit gaan daar oor ’n Pa wat nie sy rug op sy bruid of sy kinders draai nie. Hy dreig nie eens om te loop nie. Hy woon by hulle, Hy bly daar en verbind Hom. Hy is gewilliglik hulle s’n. Hy sal hul lotgevalle deursien. Weduwees is daar nie, en vaderloses ook nie meer nie. Hy pleeg nie geweld nie, Hy maak nie seer nie, nie jeens sy bruid of teen sy kinders nie. Inteendeel, Hy troos met liefde, Hy dreig nie met veroordeling nie.

Daardie Pa laat blyk dat sonde te make het met die misbruik van dié plek waar God woon: Jou liggaam is die heilige woonplek van God. God maak daar skoon, baken gebied af. Dit is wat genade doen: Genade red, en genade maak heel, en maak gesond. Genade verstaan, en genade vergewe. Genade staan weer op, laat lewe weer. Genade het liewer as wat die kwaad boos is.

Wees genadig en hê lief, met jou hele hart en al jou krag. Hê dan nog méér lief, meer as wat jy gedink het jy kan verduur om te gun. Hê lief, nie net dié wat onbesmet is nie, nie net dié wat nog nooit in ’n hoek gedryf is en aborsie oorweeg het nie. Liefde verg van ons om met deernis die wrewel te bowe te gaan om selfs iets so erg soos die beëindiging van swangerskap toe te laat, omdat dit die beste van die euwels is. Daar is by God genoeg genade ook vir ons wat dit sou toelaat. En raai, daar is selfs genade te vind vir hulle wat moes kies om hul swangerskappe te beëindig. Hou net in gedagte: Rekenskap sal ons almal móét gee.

Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! (Op 21: 6 AFR2020)

God se oplossing is lewe, nie meer dood nie, ook vir ons wat doodmaak. As dood vir ons al opsie is wat oorbly, kom God met ’n aanbod van nuwe lewe by ons aan. God sal sy kinders nie aborteer nie, al moes jy.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap