Wyle prof Piet Dreyer was my Wysbegeertedosent. Hy het eendag die stelling gemaak dat ’n mens deur onderwys weinig leer wat jy sal onthou. Al wat jy uit onderrig wysword, is dat jy bitter min weet, én waar om iets te wete te kom. Ek het nog altyd gehoop dat ’n mens iewers langs die pad darem ook sal agterkom wat kennis werd is, en dat wát jy leer, jou sal leer leef.

Van alles weet ons darem nou al iets. Dog, met die eerste foto’s wat die James Webb-ruimteteleskoop onlangs aarde toe teruggestuur het, was iemand se kommentaar dat dié teleskoop vrae sal beantwoord wat ons nog nie eens weet om te vra nie. Ons is gretig om meer te wete te kom.

Al wat ’n ideologie is, onderrig jou ook graag, maar om jou van hul oortuiginge te oorreed. Baie van wat ons tans geleer word, het al bygedra tot die verfyning van wapentuig of die aftakeling van orde. Dit gaan alles oor afbreek en raakskiet. In slegs die laaste eeu het hoogs beskaafde en seergeleerde Westerlinge die twee grootste menseslagtings ooit gepleeg. Die war to end all wars het toe nie.

Ons is hooggeleerd: Ons weet net mooi niks. Sokrates sou gedink het ons is wys.

Wat ons nie wil leer nie, is om die raad te vra van die Een Persoon wat die aarde aanmekaargesit, lewe geskep en aan mense kom raadgee het oor hoe die lewe ten beste hier kan werk. Dit is nou moeilik om te glo dat teologie eens dié rede vir tersiêre onderwys was. Vandag word in onderwyskringe neerhalend gepraat van ’n nisonderneming soos uitsluitlik Christelike, en erger nog, kerklike teologie. Nêrens in die onderwys is daar vir Godgeleerdheid meer ruimte nie.

Dink jy God is darem in die kerk nog gewild? God is by selfs die gelowigstes onder ons al in onguns, want, jy sien, God kry nie klaargepraat oor sonde nie.

’n Teoloog met die naam James Barr het in die vorige eeu ’n boek geskryf met dié veelseggende titel: What prevents Christian adults from learning? Een van die redes wat hy noem, is dat gelowige grootmense verseg om verkeerd bewys te word. Ons neem gruwelik aanstoot aan die beskuldiging dat ons sondig is.

As ons ons nie wip oor vingerwysings na ons sonde nie, is dit omdat ons met sonde vir lief geneem en dit gelate aanvaar het. Sonde is mos maar wie ons is. God het ons lief nes ons is. Daarom het ons vrede met sonde, is ons gemaklik met hoe ons nou lewe, en het ons geen rede om ons te verknies oor of ons hoef te hervorm nie. Ons is al net soos die res van die wêreld wat nog nie dink ’n verlede van lyke besaai, is ernstig genoeg om te verander aan hoe ons lewe nie.

Jy staan verstom oor skole en kolleges, technikons en universiteite wat afgebrand word. Dit is hoe mense weerstand bied teen wat aan ons wil kom staan en verander. Maar dit kom nie by ons op om te vra oor die leë kerkgeboue wat gemuilband is omdat hulle nie oor sonde, verlossing en dank wou ophou preek nie.

Kom ons hoor maar weer ’n paar onaangename dog basiese waarhede oor onsself, uit die Bybel, want jy gaan dit tog nêrens anders hoor as in die kerk en in die Bybel nie. (Hier is waar jy jou ore toedruk.)

Om te leer, is om jou op ’n pad van verandering te begewe. Jy kan niks weet sonder dat dit die een of ander uitwerking het op wat jy van die lewe maak nie. Om aan jouself te verander, dit is die pynlikste verandering waarvan mense ondervinding het. Hoekom dink jy maak die meeste van ons naderhand maar ’n bitter vrede met dié weergawe van jouself wat nie eens jy kans sien om teë te gaan nie? Ander mense, en God ook, moet maar met jou saamleef soos jy is. God se genade is seker genoeg, en bedek alles!

Onthou net, God is ook die Een wat alles in die stryd werp om by jou weersin te wek vir dié sonde waarmee jy so gemaklik voel.

Jakobus beskryf die wet van God as ’n spieël, maar anders as die een op jou spieëlkas; meer dalk soos die spieël in Harry Potter-stories wat soos die metaalverklikkers op lughawens dwarsdeur jou klere en grimering kyk en jou meer laat sien as wat jy wou wys. Jy kan jou vir ander mense mooimaak, maar nie vir die alsiende oë van God nie.

Spreuke 1 (AFR2020) sê:

7
Ontsag vir die Here
is die begin van kennis;
wysheid en vermaning –
net sotte verag dit.

Luister na en doen die Bybel.

Maar so gepraat van my dae in die Wysbegeerte 1-klas. Ons het ’n Nederlandse handboek gehad. Sy eerste woorde was: Alle begin is moeilik. Dié sinnetjie onthou ek goed oor dit gou geblyk het hoe waar dit is.

Niemand hou van eksamenskryf nie en toetse is deel van die leerproses, en om te leer, is werk. Begin net. Werk aan jouself. As jy besef jy is self nog onder konstruksie, gaan jy nie wat klaar gebou staan, afbreek nie.

Ek dink dis tyd dat ons inskryf as studente van die Here.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap