Net laas week sê iemand vir my: ’n Mens kan ook deesdae niks meer glo tensy jy dit in jou hande vashou nie.

Dit is in ons menslike natuur om bewyse te wil hê. Die wêreld maak dit nie vir ons makliker om anders te funksioneer nie. Met die oorvloed van valse en halwe nuus raak dit moeilik om werklik te kan onderskei tussen wat onwaarheid is, en dit wat ’n mens maar kan glo. Ek lees onlangs dat sommige gelowiges meen dat die oplossing vir die krimpende kerk daarin gesetel is om jongmense met die feitlike inhoud van die Bybel toe te rus sodat hulle die bewyse vir hul oortuigings met ander kan deel.

Maar geloof in God berus tog nie op bewyse vir die Bybel nie, of hoe? Dat God bestaan, aanvaar gelowiges, maar ons is versigtig om dit te probeer bewys. Ons geloof is tog nie gebaseer op fisiese en sensoriese bewyse vir byvoorbeeld die opstanding van Jesus uit die graf nie. Inderdaad het ander ons vertel van die leë graf en dat hulle Jesus lewend gesien het. Hul getuienisse wat vir ons in die Bybel opgeteken staan, is vir ons as gelowiges genoeg bewys. Maar hoe bewys ’n mens nou dit wat jy glo aan ander wat nie glo nie?

Oor die eeue heen het mense probeer om bewyse te lewer dat God bestaan.

Die Italiaans-gebore monnik en teoloog, Anselmus van Kantelberg (1033-1109), het in sy leeftyd die ontologiese argument vir die bestaan van God geformuleer. God bestaan, redeneer Anselmus, want daar is niks groter as God waaraan ’n mens kan dink nie. Indien God die grootste iets denkbaar is, dan moet Hy mos bestaan. Indien God nie bestaan het nie, dan sou ons in staat wees om aan iets groter as God te dink. Vergelyk in hierdie verband Paul Tillich se verduideliking van die ultimate concern.

Die teoloog, Thomas van Aquinas (1224-1274), se kosmologiese argument stel dit dat die wêreld bestaan omdat God dit so gewil het. Die ganse skepping bestaan omdat daar ’n beweegrede vir die bestaan daarvan was – en dit is God. God is die onbeweeglike Beweger, die Oorsaak sonder ’n oorsaak. Die einste Thomas van Aquinas redeneer dat die skepping ’n doel en ’n funksie het. Iets wat met ’n doel en ’n funksie bestaan, iets wat sorgvuldig beplan moes gewees het. Hierdie teleologiese argument wil wys dat ons die Een wat ons glo alles beplan het, God noem.

Vir die Duitse filosoof, Immanuel Kant (1724-1804), is dit onmoontlik om God te bewys. Maar omdat daar tekens van morele waardes en etiek in die samelewing is, vermoed Kant dat die wêreld op ’n morele wyse deur ’n hoër Wese geskep is. Dit impliseer die bestaan van God. Die feit dat mense sommer vanself moreel optree asof hulle bang is dat daar is ’n hoër Wese wat soos ’n regter hulle dophou en hulle eendag sal straf of beloon, skep vir Kant die moontlikheid dat God bestaan.

Hierdie tradisionele Godsbewyse help ons nie om te begryp wie God is en hoe hy is nie. Die teoloog, John de Gruchy, praat konsekwent in sy boek, Led into Mystery (2013) oor die misterie wat ons God noem wanneer hy iets oor God wil sê.

Ons ken God slegs as ’n misterie – die gans-andere noem Rudolf Otto en Karl Barth Hom. Dalk kan ons vandag ook nie anders as om soos Thomas van Aquinas en ander kerkvaders oor God in die negatiewe te praat nie. juis omdat dit makliker is om te sê wie en wat Hy nie is nie. Hierdie apopatiese of negatiewe teologie is nog geen bewys dat God bestaan nie, maar dit skep die reliëf waarin ons iets van God raaksien.

Die God wat ons aanbid is in misterie gehul. ’n God wat ’n mens word (die inkarnasie), ’n God wat skynbaar en willekeurig afwesig kan wees (theodisee), maak dat geleerdes sê dat die onkenbaarheid van God die uitstaande kenmerk van God is. As ons God kan ken en definieer, sê Tillich, reduseer ons God tot die somtotaal van ons argumente, en de-sakraliseer ons die Heilige God. Wanneer ons God volledig ken, word ons diegene wat die voorwaardes vir sy bestaan bepaal.

Hoe leer ons dan kinders om bewyse vir hul geloof in hierdie God aan te bied? Al wat ons van hierdie God weet, is wat Hy mense toelaat om oor Hom te sê. God in sy openbaring wys wie en hoe Hy is. Ons kennis van God is gebaseer op sy Woord en sy Gees en dit wat Hy van Homself in sy skepping vir ons sigbaar maak.

Mense voor ons, het soos ons gesoek na wie hierdie onbekende God is, soos Paulus Hom aan die Grieke in Atene bekendstel. God het ons gemaak; nie ons Hom nie. God het mense gemaak om na Hom te soek, en Hy wil gevind word al moet ons in die duister rondtas (Hand 17: 27). In hul ontmoetinge met God, het mense hul ervaringe en indrukke neergeskryf. As die Bybel dan sê dat die aarde in ses dae geskep is, is dit tog nie ’n wetenskaplike stelling wat as bewys van iets aangebied kan word nie. Dit is hoogstens ’n gelowige se probeer verstaan oor hoe God alles gemaak het.

Aan sy werke en aan die handelinge van sy volgelinge (dissipels), sal ons God se vingerafdrukke sien. Ons ken God dalk slegs aan sy skaduwee. En gelowiges is sy skaduwee. Dalk is dit hoe ons die imago Dei (om ’n afbeelding van God te wees) moet verstaan. Of dalk word ons die skaduwee van God in imitatio Dei (navolging van Jesus) – om in sy voetspore te volg.

Die vraag is dan juis, is gelowiges ’n eerlike weerspieëling van hoe God is? Is ons ’n goeie skadubeeld vir God? Of verwring gelowiges se handel en wandel die beeld van God in die oë van die wêreld? Al kan die wêreld geen bewyse vir die misterieuse God van die Christene oplewer nie, kan ons lewens getuienisse word dat God wel bestaan.

(Prof Jaco Beyers is die adjunkdekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria)