My man is op 6 Desember 2020 by die NG Gemeente Victoria-Wes bevestig. Dit was die eerste en ook die enigste preek wat ek van hom bygewoon het. Nie uit snaaksheid nie, maar omdat ek van toe af elke Sondag by die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) Victoria-Wes gepreek het.

Die VGKSA is nie noodwendig ’n kerkverband met wie Hervormers goed bekend is nie, heel moontlik omdat die geskiedenis van die VGKSA nouer verband hou met die NGK. Verder is die VGKSA (as denominasie op haar eie) ook relatief jonk.

Onlangs het dié kerkverband haar 27ste verjaardag gevier. Die VGKSA het eers in 1994 tot stand gekom toe die NG Sendingkerk (oorspronklik vir bruin lidmate) en die NG Kerk in Afrika (oorspronklik vir swart lidmate) gekies het vir kerkeenheid.

Die pad van kerkeenheid was nie sonder uitdagings nie, veral as in ag geneem word dat die eerste gesprekke al tussen 1974 en 1978 begin het. Dit is uit hierdie gesprekke en die behoefte om kerkeenheid dat die Belhar-belydenis geformuleer is.

Alhoewel die NHKA en die VGKSA deel vorm van dieselfde gereformeerde tradisie, is daar tog ’n paar verskille. Wanneer daar, byvoorbeeld, begrafnis gehou word, word die kis in skofte na die graf gedra. Die begrafnisbriefies word ook in die graf gegooi voordat dit toegemaak word.

Gewoontes en aanspreekvorme wat gewoonlik by die NHKA as “respekvol” gesien word, is nie noodwendig waar vir die VGKSA nie. Ek het sommer vroeg kennis gemaak met die hoofouderling en (uit gewoonte) hom as “Oom” aangespreek. Tydens sosiale byeenkomste is dié aanspreekvorm aanvaarbaar, maar op ’n Sondag in die konsistorie en tydens kerkraadsvergaderings word almal as “Broer” of “Suster” aangespreek.

Publieke godsdienstigheid speel nog ’n vreeslike groot rol. Om as ’n kerkraadslid verkies te word, is ’n eer en ’n plig wat met groot erns en trots benader word. Elkeen het sy of haar werk en hulle sorg dan ook dat die werk gedoen word soos dit moet. Diensbaarheid vir die kerk en gemeenskap is belangriker as die onderlinge struwelinge wat daar soms kan wees.

Die eerste Sondag was ek heel onkant betrap toe ek tydens die prediking ’n hele paar “hallelujas” en “amens” gehoor het. Net toe ek dit gewoond begin raak het, het die beamings vanuit die kerkbanke stil geword. Effe bekommerd het ek by die kerkraad probeer uitvind of daar dalk iets verkeerd is: Nee, Dominee! Ons sit so stil want ons is bang ons mis dalk iets.

My belewenis tydens die prediking was maar een van vele. Met elke lied wat gesing word, kry ’n mens hoendervleis. Daar is net iets daaraan wat jy nie aan ander kan beskryf nie, jy moet dit kan hoor en voel hoe dit deur die kerkgebou weergalm om dit te verstaan.

Dieselfde is waar vir die manier waarop gebid word. Woensdaeaande, na ’n kort oordenking, word daar saam gebid. Daar word vir alles en almal gebid. Daar word nie deftige woorde gebruik nie, ook nie geykte gesegdes nie, maar eenvoudig net dít wat op die hart lê… En baie keer aan die einde word daar spesiaal vir die dominee gebid: Heer, steek haar weg agter u ruwe kruis.

Die afgelope paar maande het ek die maniere van die VGKSA leer ken en ook ’n waardering ontwikkel vir hul manier van doen wat so eie aan die denominasie is. Tussen die prediking, sang, gebede en taalgebruik, het ek mense ontdek wat jou onvoorwaardelik aanvaar en lief het wanneer jy opreg is.

Die ironie is natuurlik dat hierdie lidmate Sondag na Sondag dankie sê vir die lering wat die dominee gegee het, terwyl dit hierdie dominee is wat eintlik vir hulle moet dankie sê vir alles wat hulle haar in ’n kort tydperk geleer het.

(Ds Nastasia Vosloo-Steyn was tot verlede jaar leraar in die NHKA se gemeentes Donegal en Molopo)

af
af
Deel met behulp van
Copy link