Onlangs is ’n geliefde lid van ons gemeente oorlede. Om eerlik te wees, ek is nie heeltemal seker of die woord geliefd beskrywend genoeg is nie. Sy het honderde klein dingetjies gedoen, wat by nabetragting blyk glad nie so klein te wees nie. Sy het my broer en my ouma se begrafnisdienste bygewoon, nadat hulle binne ses maande van mekaar oorlede is. Sy het kaasstokkies gebring om toe te voeg tot die begrafnisbroodjies wat na afloop van die dienste te ete aangebied is. Dit is ’n eg Nederlandse bydrae – sy en ek synde lidmate van die Nederlandssprekende Gemeente van die Kerk. Van haar vriendskappe binne en buite die gemeente het oor 30 tot 60 jaar heen gestrek. Haar naam was Hanja Reina Kettner. Nou, byna ’n maand nadat sy weg is, begin ons dikwels ’n sin met: Hanja het altyd… Die wyse waarop ek haar mis, was vir my ’n openbaring. Sy het baie dieper spore gelaat as wat ek besef het. Een van haar grootste nalatenskappe, onbedag en onverwags, is die wyse waarop haar bestaan (en haar dood) die manier waarop ons uitgelewer is aan ons sosiale konstrukte en denkpatrone, ontmasker het.

Hanja was ’n Nederlandse immigrant. Sy het voor skoolgaande ouderdom saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer. Vir haar was haar lewe een van magtige vryheid: Sy was nie afhanklik van enige een nie, het haar vriendskappe en verhoudings uit eie keuse aangegaan en in stand gehou, en al haar persoonlike sake met haar wetenskaplike vernuf en intelligensie benader. Daardie lewe het nie in enige sosiale konstrukte van hoe verhoudings “behoort te lyk” ingepas nie. Sy was ongetroud en het nie kinders gehad nie. Vir ons, haar vriende, was dit ’n normale bestaan, so normaal soos die son en die lug en die water. Vir ander was haar lewe egter ongewoon en selfs abnormaal en ons het dit op ’n baie slegte manier uitgevind.

Dit het begin die aand toe sy in die hospitaal opgeneem is. ’n Paar mense uit die gemeente – haar familie – verdeel die take wat met haar versorging verband hou. Die Vrydagaand bel ’n dokter my uit die hospitaal. Nadat sy haarself voorgestel het, kom die vrae: Wie is ek? En wat is my verwantskap met die “ou tannie”? Is ek familie? Ek wou toe al stik, want enige iemand wat ’n Nederlander se vasberade lewensenergie beleef het, sal nie waag om hulle “oud” te noem nie (en beslis nie ’n “ou tannie” nie! – dit is egter ’n gesprek vir ’n ander keer). Ek verduidelik aan die dokter die situasie, en na ’n ruk is sy skynbaar tevrede, want sy verskaf sekere inligting.

Die volgende oggend bel die dokter die ander “naasbestaande”. Dié betrokke “naasbestaande” het ’n vriendskap met Hanja wat oor die 30 jaar strek, maar ook sy moet dieselfde vrae antwoord. Die Saterdag sterf Hanja. En toe begin ’n teater van die absurde afspeel. Oor en oor en oor moet verduidelik word wat die verbintenis met Hanja is: aan die hospitaalpersoneel, aan die begrafnisondernemer, aan die bank waar die testament is. Dit hou nie op nie. Sodra aangekondig word dat ons haar “naasbestaandes” is, dat sy nie “bloedfamilie” het nie, vind daar die een of ander kortsluiting aan die ander kant van die telefoonlyn plaas. Dis amper hoorbaar, want daar is ’n kort stilte, en dan ’n lugleegte waarin iemand na woorde hap, en dan is daar die pogings om iets wat nie vir hulle sin maak nie, in hul verwysingsraamwerk te probeer in-vertaal. As dit nie so tragies was nie, sou ’n mens daaroor kon lag. Maar dit is glad nie snaaks nie.

Aan die begin was hierdie episode wat oor en oor afspeel vreemd (want in ons leefwêreld is Hanja se lewe nie ’n uitsondering nie), later was dit irriterend, toe tragies, en nou is dit sommer net onaanvaarbaar. Want dit blyk dat selfs die dood nie sterk genoeg is om die mensdom van mensgemaakte sosiale konstrukte en denkpatrone te bevry nie – in hierdie geval van die sosiale konstruk en denkpatroon oor “familie” en die definisie van “naasbestaande”. Ek het dit oor en oor aan my eie lyf beleef, maar ek het werklik gedink dat die dood sterk genoeg is om mense daarvan te bevry. Moenie glo nie. Die patrone en konstrukte is sterker as die dood.

In die nadraai van Hanja se dood, besluit ek om uiteindelik my eie testament op te stel. Ek maak kontak met my makelaar, en hy verwys my na ’n kundige. En die teater van die absurde begin weer van voor af. Elke voorbeeld wat gebruik word om ’n aspek van die testament te verduidelik, gaan gepaard met ’n familie-metafoor of voorbeeld. Toe ek verduidelik dat dit nie op my van toepassing is nie, vind die kortsluiting weer plaas. En kort voor lank word dieselfde voorbeelde gebruik, maar aan die begin van elke sin, word sê nou net maar ingevoeg. Ek kan steeds niks met die inligting doen nie, want dit is nie op my van toepassing nie.

Die tesourus beskryf “naasbestaande” as: familielid; bloedverwant; huisgenoot; gesinslid. Ek lees dit en ek word teruggevoer na voorgraadse studie toe prof Theuns Dreyer ons geleer het om preek te maak. Die betrokke student het gepreek oor die kosbaarheid van familie – en het die uitdrukking gebruik: Bloed is dikker as water. In my Afrikaanse grootword-konteks het dit dikwels beteken dat bloedfamilie enige meningsverskille of afstande troef. Dat familiebande in tye van nood sekere misverstande en twiste sal oorwin, en dat jy nooit jou familie mag versaak nie. En dat Kersfees ’n tyd is vir familie, al begin familiegevegte oor politiek en godsdiens so ’n halfuur nadat die skaapboud gesny is – onvermydelik as mense mekaar net een of twee keer in ’n jaar sien. In retrospeksie besef ek die interpretasie van die uitdrukking het bygedra tot ons oorbeklemtoning van die gesin en ons verstriktheid in ’n eensydige beskouing van familie. Trouens, Christelike geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen se onbeholpenheid met die verskeidenheid van menslike seksualiteit is ’n teken van hierdie vasgekeerheid.

Terug by prof Theuns. Ek onthou dat hy die student gelyk gegee het, maar hy het bygevoeg: Bloed is dikker as water – maar daar is iets wat nog dikker is as dit – liefde. Dit was my eerste ervaring daarvan dat die uitdrukking bloed is dikker as water miskien nie heeltemal beteken wat ons dink nie.

En weliswaar, so twee jaar gelede ontdek ek met ’n episode van die bekende TV-reeks Grey’s Anatomy dat ons die uitdrukking bloed is dikker as water eintlik verkeerdom gebruik. Die volledige uitdrukking is, die bloed van die verbond is dikker as die water van die geboorte. Navorsing bevestig dat dit korrek is. Daar is verskillende oorspronge van die uitdrukking en elkeen kan etlike eeue terug nagespeur word – selfs een wat rakelings met die Bybel verband hou. Dit blyk bloed ís dikker as water – maar dit is nie “familiebloed” wat hier ter sprake is nie. Dit is ’n ander verbintenis – ’n ander “bloedband”. Die volledige uitdrukking dui aan dat daar verwantskappe is tussen mense wat naby mekaar bestaan en leef (“naas-bestaandes”), wat familieverwantskappe troef. Daardie bande is die werklike “bloedbande”. Daardie verwantskap ís die bloed wat saamsnoer – die “bloed van die verbond”. Dit is verwantskappe wat doelbewus en uit eie/vrye keuse gesluit word.

In ons teologie is ons deeglik bewus van die swaartekrag en blywende, diepgewortelde verhouding wat ’n verbond impliseer. Die volledige uitdrukking, die bloed van die verbond is dikker as die water van die geboorte, impliseer dat die verbintenisse wat jy uit eie keuse aangaan, diegene aan wie jy jouself verbind, juis hulle is wat saam met jou stry en ly, en jou deur dik en dun bystaan – omdat jy hulle gekies het, en hulle vir jou. Dit is daardie verbintenisse wat die sterkste is en inderdaad sterker is as diegene met wie jy deur geboorte (“die water van geboorte”) verbind word. Dit alles toon dat ons definisie van “naasbestaande” ontoereikend en gereduseerd is.

Omdat die verbond in ons Hervormde teologie soveel gewig dra, behoort ons die drakrag van die uitdrukking werklik te kan verstaan en uitleef. So dikwels het ek egter in die Kerk beleef hoe ons denkpatrone en konstrukte skade berokken: Jong predikante (veral vroue) word aanhoudend gevra wanneer hulle gaan trou; pasgetroude pare word aanhoudend gevra wanneer hulle kinders gaan hê. Geskeides word aanhoudend gevra of hulle weer sal trou. Weduwees en wewenaars word aanhoudend aangemoedig om iemand te vind sodat hulle nie alleen oud word nie. Kinders word aanhoudend verwek, sonder inagneming van die finansiële en ekologiese implikasies. Mense wat enkellopend is, moet aanhoudend op uitnodigings na sosiale geleenthede lees “ … en gade/partner”. En die naasbestaandes van Hanja Reina Kettner moet aanhoudend verduidelik hoe dit moontlik is dat ons haar naasbestaandes is. Hierdie herhaaldelike vasloop teen ’n sosiale patroon laat my dink aan die bekende gedig “Draaikewers” van DJ Opperman (geparafraseer):

Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en soet betowering
Van ek en jy, van ek en jy
Dit kring om jou, dit kring om my
Met kring en teenkring, mettertyd
tot ’n verwikkelde onenigheid
Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en brak verbittering
oor wye vlakke van die tyd
in malende eentonigheid
Dit kring om jou, dit kring om my
En kringend gaan die tyd verby, die tyd verby

Is ons só vasgedraai in ons mensgemaakte denkpatrone en sosiale konstrukte, dat ons slawe daarvan geword het? Ons hoor dikwels in hierdie pandemietyd hoe mense hul outonomie, hul selfstandigheid en reg tot selfbeskikking ten alle koste wil beskerm en verseker – wat soms beteken dat hulle teen entstof kies. Dit is dus duidelik dat mense hul “vryheid” hoog op prys stel. Ironies genoeg het dieselfde mense vrede daarmee om uitgelewer te wees aan denkpatrone wat hul vryheid in die gedrang bring en wat onder andere meebring dat Hanja se naasbestaandes ons binne ’n bepaalde patroon moet verantwoord en per implikasie ’n verduideliking vir haar lewe moet verskaf. As geloofsgemeenskap wat ook aan mekaar verbind is op maniere wat nie binne ’n tradisionele verstaan van “naasbestaande” inpas nie, behoort ons by uitstek patrone wat skade berokken, uit te daag. Die bloed van die verbond is dikker as die water van geboorte. Op sy manier, het prof Theuns dit vir my geleer toe hy my geleer het hoe om te preek. En hy het geweet wat hy doen.

 

(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link