Die Hervormde Kerk het nog altyd ’n sterk verwantskap tussen teologie en filosofie aangemoedig. Dit is vanuit hierdie goeie verhouding, vertel dr Hercules Boshoff, wat hy inspirasie vir sy boek Verantwoording: die dialektiek van ’n sinryke bestaan geneem het. Dit is hierdie selfde band wat hom as skrywer en as student oor dekades gevorm het – ’n vormingsproses wat tot dié filosofiese skryfwerk gelei het. Die bekendstelling van hierdie boek het op 21 Januarie 2026 by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns plaasgevind. Dr Boshoff beskryf sy boek as ’n leesstuk vir enige belangstellende leser.

Bo en behalwe die voltooiing van sy BTh aan die Universiteit van Pretoria en MDiv aan die Universiteit Stellenbosch, spog hy ook met ’n meestersgraad in Filosofie. Hy het sy doktorale proefskrif suksesvol by die Universiteit van die Vrystaat voltooi en postdoktorale navorsing by die Universiteit van Potchefstroom gedoen. Sy belangstelling in filosofie het hom toegelaat om na universiteite soos Stellenbosch, die Vrije Universiteit in Amsterdam en Radboud te reis.

Hierdie werk is die produk van sy eie worsteling met en die aanspreek van die probleme van ons samelewing. Hy is van mening dat dit bydra tot gesprekke wat ons behoort te voer – gesprekke oor geloof, taal, die natuur en politiek. Hierdie projek poog om ander aan te moedig om na te dink oor die mate waartoe ons onsself kan verantwoord. Dit sluit in verantwoording teenoor onsself, ander en ook teenoor God.

Dr Boshoff gesels ook oor die tipe verantwoording wat op verskillende kerklike vlakke geskied. Vir jare is hy ’n lidmaat van die Hervormde Kerk en sy teologiese belangstelling was hoofsaaklik teoreties, maar in 2026 gaan dit verander. Vanjaar voltooi hy sy praktiese jaar by Gemeente Kaapstad waar hy vanaf Februarie 2026 betrokke is. Dit is ’n opwindende, maar ook ’n oorweldigende avontuur, vertel hy. Hy is hoopvol oor die leiding wat hy van hierdie gemeente en sy mentor gaan ontvang.

Die Kerk is opgewonde oor hierdie publikasie, en ook oor ander wat binnekort uit sy pen gaan kom. Die boek is aanlyn by Naledi uitgewers op hul webblad beskikbaar of by die volgende skakel: https://naledi.co.za/product/verantwoording/.

(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)

Dr Hercules Boshoff