Ronnie Botha was ons skriba. Ronnie was nie net gelowig nie; Ronnie het oor geloof leiding gegee. Hy was ’n meningvormer. Ronnie het wysheid gehad. Ronnie kon fyn onderskei tussen wat wesenlik en randeiersaak is, en met ’n gestry oor beuselagtigheid het hy hom nie opgehou nie. Hy het op ’n dag by ’n opruiende vergadering uitgeloop en doodgewoon gesê: My dogter kuier by ons. Dis belangriker.   

Twee jaar gelede begin toe Ronnie se stryd met kanker van die brein. In sy vroeë vyftigs en ’n sersant-majoor in die Lugmag, het alles aanvanklik goed verloop en die breinoperasie het daarin geslaag om die gewas grootliks te verwyder. Die hoofpyne was dadelik draagliker, en Ronnie het so flink gedink en geglo soos ons van hom gewoond was. Maar Ronnie het begin bewe, sodat hy naderhand beswaarlik sy koppie koffie op Sondae by die kerk kon vashou. Skryf kon ons skriba ook nie meer nie, maar ons het besluit, Ronnie bly skriba tot hy gesond is. Hy het gesorg dat iemand anders teken waar hy eintlik moes, en niks het agterweë gebly nie. En elke Sondag was Ronnie op sy pos, hier voor, net regs van die kansel, Ronnie én Delia. Woensdaeaande was hulle by Bybelklets, en het hulle deurdag deelgeneem.

Ronnie het epilepsie begin kry, en begin skuifel, en Ronnie het moeg geword. Chemoterapie en bestraling het hul eie tol geëis. Teen laat verlede jaar het dit begin duidelik word dat Ronnie sy stryd verloor. Hy het self gesê dis nou genoeg. Op die tweede dag van 2020 het Ronnie vreedsaam tuis gesterf, omring deur sy geliefdes.

Net ek het nie heeltemal vrede nie. Ek is tussen twee vure. 

Hierdie waardige en gerespekteerde gelowige man het besluit daar sou geen kerkdiens wees nie; rou-, troos-, gedenk- of erediens, ongeag van wat jy dit wil noem, nie een daarvan sou plaasvind nie. Niemand sou van ver af kom om te groet nie. Daar sou ook geen teraardebestelling wees nie, net verassing.

Ons is in braakland. Die gemeente wat vir Ronnie liefhet, weet nie hoe om respek te betoon nie. Dit sluit my in.

Ronnie het glo gesê hy skerm teen ’n militêre “sirkus”. En Ronnie was lief vir Delia en die kinders, só lief dat hy hulle die verdere ontsteltenis van enige begrafnisgedoente wou spaar. Op Vrydagaand, so nooi ’n WhatsApp ons uit, kom vriende van Ronnie op die brug oor die nasionale pad byeen. Die brugroete tussen die Lugmagbasis en die woonkwartiere word afgesper. Ons gaan braai. Ons sal die son vandaar sien sak.

Maar die Vrydag is toe grys. ’n Puma kom laag en stadig oorgevlieg. Ek kon aan die ding vat, so voel dit! Ronnie het dié vliegmasjien in die lug help hou. Die helikopter gooi toe ’n wye draai oor Drakensig, en met die terugkomslag kom die ding net hier neffens ons, byna op ooghoogte, in die lug hang, oorverdowend soos ’n brullende gedierte. Hy knik, salueer, die son agter hom. Die son het net vir dié geleentheid sy verskyning gemaak; dit het netnou nog gereën. Dan styg hy loodreg hoër en hoër, en kry koers iewers heen. Dis skielik stil. Almal snik. Ek ook. 

Dít was nou eie aan Ronnie! sê iemand.

Ek kon ons Hervormers op my een hand tel. Ek kon nie anders as om hulle te mis nie. En ek wou met God oor Ronnie praat. (Maar dié kon ek seker maar ook op my eie gaan doen?) Dié deel van Ronnie het nie ’n beurt gekry nie.

Ek is daaroor tussen twee vure.

Ons is met mekaar oor baie goed in voorheen onbevaarde waters. Die vryheid wat ons opeis, dek moontlikhede oop wat nie gemaklik pas in ou wynsakke nie. Die gewone formules en liturgieë wat voorafvervaardig in ons Diensboek staan, is vir oorgangsrites nie meer genoeg nie, en miskien nie eens meer geskik nie. Ons kan afwysend oordeel oor “giere” en “grille”, maar waar sit die liefde dáárin? Mits daar nog getrou word, trou mense selde nog in ons kerkgeboue; venues is mooier. En begrafnisse dan?

Hoe ontvanklik kán ons wees vir voorkeur, of willekeur?

Ons het die Sondag daarna by ons gewone erediens ’n foto van Ronnie op ons flitsbord geprojekteer, en ’n rukkie in stilte opgestaan. Die bedoeling was om ook ’n graflied te laat sing, maar ESKOM het net tóé die krag afgesit.

af
af
Deel met behulp van
Copy link