Het jy gehoor? Die kerk van die Here is in ’n perfekte storm. Die Covid-19-pandemie en sy nagevolge het boonop alle gemeentes in hierdie storm ingedwing. Dié perfekte storm woed buite die kerk, maar ook vir seker binne-in die kerk. Dié storm is lewensgevaarlik en bedreig alles soos ons dit geken het.

Prof Stephan Joubert skryf in sy boek Die perfekte storm die volgende: …ingeoefende godsdienstige opruimingsaksies vanuit die verlede sal ook glad nie help nie … Kerklike noodplanne wat in vorige krisisse gebruik is, sal dié keer nie werk nie. Wat gaan ons doen? Wat gaan die kerk doen? Wat gaan die plaaslike gemeente doen? Wat gaan ek doen? In plaas daarvan dat lede van kerkraadsvergaderings mekaar van die storm moet probeer oortuig, behoort bogenoemde kritiese vrae beantwoord te word. Die Brugspan van die SGB wil gemeentes graag daarmee help.

Oor die jare het brugbediening ontwikkel as ’n fasiliteringsproses om vakante gemeentes te help om ’n brug in die hede te bou wat vanuit die verlede na die nuwe toekoms strek. Daar is uit jare se navorsing bevind dat vakante gemeentes die maklikste by veranderende omstandighede aanpas. Dit is hoofsaaklik omdat vakante gemeentes besef hulle leef in veranderende tye en daarom bereid is om by verandering aan te pas.

Ek is oortuig dat die Covid-19-pandemie alle gemeentes binne die leefruimte van ’n veranderende wêreld gedwing het. In sy artikel op die Interim Ministry Network se webblad, Where we have been, where we are, what lies ahead, bevind Alan Mead dat meer en meer gemeentes in die VSA begin om staat te maak op die fasiliterende prosesse en kundigheid van brugbediening. Hierdie gemeentes besef nou dat alle gemeentes nuut oor kerkwees in die toekoms sal moet nadink, daarvoor beplan en dan in ’n nuwe rigting beweeg.

Matthias Horx skryf in sy artikel The Post-corona World ons leef in ’n historiese moment waarin …the future changes direction. Dink net hoe die huidige storm ons verhoudings met God, onsself, die natuur en ander mense beïnvloed. Aanlyn kerk, WhatsApp-huisbesoek, e-pos-kerkraadsvergaderings, Zoom-opleiding en vele meer. Daar is geleentheid vir ’n nuwe vorm van sosiale interaksie, en nou word ons as’t ware gedwing om daarmee te eksperimenteer. Dit speel ’n belangrike rol in verhoudings.

’n Onderhoud getiteld Hier kom ’n tele-toekoms, wat Murray La Vita met dr Morne Mostert, ’n toekomskundige, in Beeld van 3 April 2020 gevoer het, bevestig ons gedagtes. Mostert sê: ’n Toekomskundige is nie ’n toekomsvoorspeller nie. Ons kyk na wat moontlik is en wat waarskynlik is. Een van die grootste invloede wat die pandemie op ons daaglikse bestaan het en wat ons leefwyse moontlik blywend gaan beïnvloed, is versnelde digitalisering.

Prof Carol Dweck sê: We need a Growth Mindset. In hierdie YouTube-video vergelyk sy ’n Fixed Mindset met ’n Growth Mindset. Om in hierdie uitdagend-veranderende tyd vorentoe te beweeg, het ons ’n Growth Mindset nodig. Ek lys bloot die waarde van ’n Growth Mindset:

  • Gebruik verliese en uitdagings as ’n geleentheid om te leer.
  • Gebruik kritiek as ’n geleentheid om te leer.
  • Omarm uitdagende geleenthede.
  • Eksperimenteer met uitdagings en nuwe geleenthede.
  • Gaan op ’n reis van groei en ontwikkeling.
  • Ontwikkel kreatiewe waagmoed.

The Unstuck Group (https://theunstuckgroup.com) is ’n navorsingsgroep wat gemeentes met hierdie prosesse ondersteun. Paul Alexander se navorsing bevind dat hierdie prosesse van verandering om verskeie redes vir gemeentes moeilik is. Om die proses in ’n gemeente te fasiliteer, verg ’n kundige (ervare en opgeleide) persoon. Weerstand van mense in die gemeente wat nie kans sien vir verandering nie, is algemeen. Boonop is kerke (gemeentes) maar traag om by enige vorm van verandering betrokke te raak. Argumente soos dat God onveranderlik is en daarom ook die plaaslike gemeente, is algemeen. Hy voer aan dat gemeentes in transisie ten minste oor tien dinge gesprek behoort te voer:

  1. Geen verandering word ooit perfek uitgevoer nie.
  2. Goeie kommunikasie is ononderhandelbaar.
  3. Elkeen dra twee emmers. Die een help verandering aan en die ander een vertraag verandering.
  4. Dink vooruit.
  5. Verandering is nie maklik nie.
  6. Verandering het altyd ’n rimpeleffek.
  7. Die minderheid in die kerk het gewoonlik die meerderheid sê.
  8. Verskillende mense verg verskillende uitdagings.
  9. Klein veranderings kan groot ongemak veroorsaak.
  10. Gemeentes moet meer uitgedaag as opgelei word.

Ek wil begin afsluit, en dan met gedagtes van Lorean Mead. Ná jare se navorsing oor en ervaring van brugbediening in die VSA, het hy net voor sy dood ’n boekie geskryf: The Parish is the Issue. What I learned and how I learned it. In hierdie boekie skryf hy dat die kerk ’n sprong vorentoe moet gee. God is die Heer van die kerk, maar in die proses van verandering is die plaaslike gemeente die issue. Geen proses in en deur die kerk kan by die SGB begin nie. Dit begin in die hart van die lidmate van die plaaslike gemeente wat besef ons moet ’n brug na die nuwe toekoms bou. Die brugpredikant en al sy gereedskap is middels tot die doel en nie die doel op sigself nie.

Vir meer inligting oor die Brugspan van die SGB, is u welkom om my, as sameroeper van die Brugspan, te kontak: HannesSGB@nhk.co.za en 082 927 3700.

(Dr Hannes Janse van Rensburg is deeltyds betrokke by die SGB en voltyds by Gemeente Zuurfontein)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap