Die 40 dae van Lydenstyd is ’n geskikte tyd om diep oor ons verhouding met ons gekruisigde Heer Jesus na te dink. Een van die kernpunte waaroor ons in hierdie dae kan besin, is óf ons onsself by die Christendom aan die een kant, óf Christenskap aan die ander kant skaar.

Eugene Peterson tref hierdie onderskeid duidelik. Hy is ’n voorstander van pastorale teologie (Christenskap) teenoor ’n teologie wat imperiums of koninkryke vestig (Christendom). Ons persoonlike verhouding met Jesus hoort op die voorgrond en die skep van aardse koninkryke hoort, aldus Peterson, nêrens nie. Die ongemak wat hy met koninkryke het, is dat daar altyd regeerders is. Daar is persone met sogenaamde sterstatus. Dit verwys na mense wie se eie belange soms selfs bo die belang van die Blye Boodskap verhef word. Diensknegte raak soms stelselmatig gemaklik met die sogenaamde sterstatus. Om verslaaf te raak aan roem en erkenning is nie so moeilik nie.

Die bekende Amerikaanse akteur, Kevin Bacon, het jare nadat hy reeds een van die bekendste gesigte op aarde geword het, gewonder hoe dit sou voel om anoniem deur die strate van Los Angeles te beweeg. Hy het ’n grimeerkunstenaar genader om sy voorkoms so te verander dat hy onherkenbaar sou wees. Ná ’n dag van anonimiteit het hy in ’n onderhoud in 2017 gesê dat die ervaring glad nie aangenaam was nie. Hy moes toustaan in winkels en mense het by hom verbygestap, dikwels nors en onvriendelik. Hy het dus eerder sy sterstatus verkies.

Yuval Noah Harari, bekende skrywer en historikus wat roem verwerf het danksy onder andere sy vele publikasies en die lesings wat hy wêreldwyd aangebied het, het weer verkies om in die massa te verdwyn. As gevolg van sy bekendheid is hy gedwing om gereeld tyd deur te bring met leiers en ander bekendes. Hierdie onnodige kontak het na sy oordeel sy eie produktiwiteit nadelig beïnvloed. Eerder in die skadu’s, besig met kosbare werk, sou sy lewensleuse wees.

Ons kry kolligmense en ons kry skadumense wanneer ons aan dienswerk in die kerk dink. Lidmate en kerkleiers behoort sonder twyfel in die kategorie van stille diens aan die Here, maar om een of ander rede gebeur dit nie altyd so nie.

Søren Kierkegaard (1813-1855), die bekende eksistensialis en filosoof, was veral in die laaste jare van sy bediening uitgesproke oor die begrip Christenskap as oorgawe aan Jesus Christus en oor toegewyde diens in sy naam. Die wegraak in die massa, ons anonimiteit, het dus na sy oordeel oor stille nadenke en toegewyde diens gegaan.

Aldus Kierkegaard loop die Christendom – die lidmate en leiers van ’n suiwer institusionele liggaam – die risiko om sterstatus-gedrewe weergawes van gelowiges te word. Dit kan die soeke na erkenning vir die nakoming van bepaalde gebruike tot gevolg hê. 

Die soeke na sterstatus maak in baie opsigte vreemde gedrag wakker. Individue smag later so na erkenning, floreer op komplimente en die spreekwoordelike applous van die gehoor dat hulle om daardie rede hul optrede aanpas om die gewenste reaksie te ontlok. Jy ontwikkel gebruike en gewoontes wat na jou oordeel gewild by jou gehoor sal wees.

Kierkegaard meld dat kerkleiers of lidmate wat so optree, in wese die kruisboodskap verraai wat hulle onderskeidelik week ná week getrou verkondig en aanhoor. Hy noem dat diesulkes die risiko loop om van die kerk ’n teater te maak waarin leiers en lidmate die akteurs word en ander die gehoor wat vermaak moet word.

Volgens Dietrich Bonhoeffer behoort geloof veel eerder te beteken om God en jou naaste in ’n geloofsgemeenskap te dien. ’n Gemeenskap wat Christusgesentreerd is en nie mensgesentreerd nie. Kerkleiers en lidmate is nie sterre nie. Teen die agtergrond van die Lydenstyd wat ons in hierdie dae gevier het, is ons in wese voetewasmense. Ons roeping is om saam met Jesus en mense te staan, om bande te bevorder. Ons droom kan nooit wees om ’n geïdealiseerde gemeenskap te help vorm nie. Ons droom is om in die gemeenskap waarin ons leef en dien – ’n gees te help skep waarin die Evangelie waarlik leef.

Kierkegaard het van radikale nederigheid gepraat toe hy aan Jesus se voetwassing gedink het. Menslike trots en strewe na erkenning word nietig verklaar wanneer jy jouself tot op ’n slaaf se vlak verlaag.

As jy dus nog nie, by wyse van spreke, vuil voete in jou hande gehad het nie; as jy nog nie die beperkte ruimte van ’n pondok gevoel het nie; as jy nog nie werklik gely en prysgegee het op elke vlak van kerklike arbeid nie, is dit moeilik om ’n aanvoeling te ontwikkel vir wat Jesus op aarde moes deurgaan om sy boodskap van liefde en hoop te vestig.

Radikale nederigheid daag ons uit om verby die normale grense te skuif. Lydenstyd herinner aan prysgawe en offergawe. Ware prysgawe vereis ernstige studie, eerlike verkondiging, opregte oomblikke van stof tot nadenke, oomblikke van gesukkel, episodes van trane afvee. Die gees waarin elke aksie plaasvind, bly ’n voetewasgees. Ons is diensknegte.

Waar vind die wêreld ons? Wagtend op die toejuiging of by die voete van ons medemens?