Meer as ’n jaar gelede het die Covid-19-virus van die Wuhanprovinsie in China versprei na alle kante van die wêreld. Op 21 Januarie 2020 is die eerste geval van dié virus aangemeld in die Verenigde State. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het later in die maand die virus as ’n wêreldwye gesondheidsnoodgeval aangekondig. Van Januarie af het die noodtoestand ’n groot impak gehad op die werkinge van die land.

Ons eerste semester by Rogers State University was nie soos enige ander nie. Ons het die jaar begin met normaliteit en groot opgewondenheid. Ons gevoelens het vinnig verander nadat die staat aangekondig het dat universiteite se klasse aanlyn sal wees en ander skole gesluit sal bly. Vir meer as ’n maand het laer vlakke van onderwys gestol.

Alhoewel Amerika se stryd teen armoede nie so groot is soos Suid-Afrika s’n nie, is dit steeds teenwoordig. Die meeste skole in die VSA bied tydens pouse vir hul leerders maaltye aan, maar met skole gesluit, is hierdie bron van kos nou weg. Skole in ons omgewing het vir alle studente, van oud tot jonk, wegneemetes aangebied wat ontbyt en middagete ingesluit het.

Soos die gevalle van die virus minder gestyg het, het skole weer begin oopmaak. Sommige skole vereis dat hul leerders maskers moet dra tydens skooltyd, behalwe kinders onder die ouderdom van ses, en skole in kleiner gemeenskappe vereis net dat hul leerders gereeld hande moet was en by die huis moet bly as hulle nie lekker voel nie.

Kerke is ook in hierdie tyd gesluit, wat baie mense ontstel het. Baie gemeenskappe in die suide van die VSA is sterk gelowiges, wat met hul hele hart en siel glo aan die Here en die meeste van hul tyd by die kerk deurbring. In plaas daarvan om drie keer ’n week kerk toe te gaan, is die mense verplig om tuis te bly. Kerke het later begin om aanlyn dienste te hou om die mense se behoefte aan die evangelie te bevredig. Teen Julie het die kerke weer begin oopmaak, nadat die senators klagtes ontvang het van gelowiges wat voel dat hul regte weggeneem is.

Die werkloosheidsyfer het drasties gestyg namate die maande verbygegaan het. Kerke het meer maaltye aan families in nood gegee as ooit tevore. Berigte van maatskappye en besighede wat hul deure finaal sluit, het die koerante gevul. Besighede wat wel oopgebly het, is verplig om vroeër toe te maak om blootstelling aan die virus te verminder.

Die virus het nie net fisies nie, maar ook emosioneel die bevolking aangetas. Mense was verdeeld oor hul gevoelens oor die virus. Baie burgers het geweier om maskers te dra of enige maatreëls te volg, terwyl ander in vrees agter hul maskers geskuil het. Mense het mekaar begin aanval in die straat oor hul gevoelens teenoor die maskerstorie. Baie is verwyder van apteke, besighede en selfs van vliegtuie.

Terwyl ons hier in Amerika was, het altwee ons ouers in Suider-Afrika Covid-19 gekry en oorwin. Dit was ’n moeilike tyd, aangesien die meeste kinders na hul ouers sal omsien as hulle siek is, maar wat doen ’n mens as jy aan die ander kant van die wêreld sit? Baie mense het familie of vriende verloor aan die virus, hoe weet ons dat ons ouers nie volgende is nie? Dis ’n vrees wat ons geen kind of ouer toewens nie.

Die virus het vir mense tyd gegee om hul opleiding te verbeter, tyd met hul families deur te bring en nuwe werksgeleenthede te ontdek, maar dit het ook moeiliker tye vir hulle gebring. Al waarvoor ons kan hoop, en kan bid, is dat die omstandighede sal verbeter, nie net in Amerika nie, maar oral in die wêreld.

(Die tweeling Robin en Carmin Schutte is Suid-Afrikaners wat in die VSA studeer)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap