Die Covid-19-pandemie het tot grootskaalse ontwrigting en verplasing gelei. Soos enige ander traumatiese gebeurtenis, het dit vinnig gebeur met langwerkende effek. Ons het die kurwe met groot belangstelling dopgehou: Covid-19 is op ons en die impak daarvan oorweldigend. Hoe deurmekaar en chaoties was dit regtig in werkruimtes van die NHKA?

Die leiers het onmiddellik soos in enige ramptoestand met skadebeheer begin. Wat is ons risiko’s: Gaan ons die storm oorleef? Die sekondewyser tik voort en die stories van genade begin die rondte doen: Dit is alles net genade… Ons kan dit nie verklaar nie… Ons inkomste gedurende die grendeltyd oorskry ons verwagte en begrote inkomste… Die aanpassings wat die kerkraad gedoen het, help ons om beweeglik te bly en te doen wat nou so nodig is… Ons hoor God se stem: Wees my kerk in ’n tyd soos dié! Die Here het ons voorberei vir hierdie tyd…

Die vyf stories van hoop en genade wat ons hier vertel (en vele ander), het die volgende vraag by my laat opkom: Hoe onderskei gelowiges die oomblik? Die winde van verandering waai; die storm woed; die afbreek van die sigbare is opmerklik; maar God hou self sy kerk in stand.

Dr Rudy Denton van Gemeente Potchefstroom-Studente sê dit gaan daaroor om ons roeping in hierdie storm uit te leef. “Hierdie jaar het anders uitgedraai as wat ons gedroom, beplan en gehoop het. Ons kan rebelleer teen dit wat ons nou as ’n nuwe anderse normaal vind, maar as daar een ding is wat die inperking, sosiale afstand en die Covid-19-pandemie my geleer het, is dit om dankbaar te wees en nie een dag in my lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie.

In hierdie Covid-19-krisis is die uitdaging om die situasie in ’n geleentheid te omskep, tree vir tree, dag vir dag. Ons het ’n verskeidenheid unieke uitdagings, maar nie een van die uitdagings is in elke gemeente dieselfde nie. Ons is in dieselfde storm, soms in dieselfde boot, en soms glad nie in dieselfde boot nie. Die storm kan ’n verskeidenheid vrese by mense en gemeentes oproep, en die gevolge van die krisis kan geweldig wees, maar dit help nie om paniekerig daarop te reageer nie. Dit is nou die tyd dat ons met die beste kennis en vertroue die krisis hanteer. Werksdruk, uitdagings en vele ander struikelblokke het nie in hierdie storm verminder nie, maar dit is anders. Deur die nuwe anderse normaal het ons, behalwe krisispastoraat, die bediening virtueel en digitaal aangepak deur eredienste en gemeente-aktiwiteite weekliks met video’s, SMS’e en WhatsApp-boodskappe te kommunikeer. Dit is met dankbaarheid dat ons elke dag die bediening ook so kan aanpak en met ons roeping besig kan wees, sonder om selftevrede terug te sit en nie die boodskap van hoop te deel nie. Ongeag ons nuwe anderse normaal is daar net één hoop en één Normaal wat ons verkondig wat altyd dieselfde is en bly: God se genade is groter as ons omstandighede, ons storm en ons krisis, want God is altyd in beheer.”

Ds Willem Breytenbach van Witrivier, Sabie en Hazyview sê by God is alles goed vir hierdie gemeentes. “’n Klein, ’n nog kleiner en ’n baie klein gemeente! Só kan jy praat van hierdie drie gemeentes. Omgekeerd kan jy ook sê: oud, ouer, stokoud!

Maar klein beteken nie swak en oud beteken nie jy kan nie meer nie. In die Covid-pandemie het hierdie ou-klein gemeentetjies ’n Gideonsbende se karakter openbaar. Drie handjies vol mense wat, met vertroue in die Here, hartlik aanhou en blymoedig saamwerk, die virusswaard teen élkeen se nek. Eenvoudige vertroue in die Here, wat energeer!

Daar is/was geen groot en massa-aksies in hierdie tyd nie. Maar één WhatsApp-boodskap roep aldrie tot noodleniging. Was dié drie nie hier nie, dan was die pandemie nader aan pandemonies!

Ons is nog nie deur dié pandemie nie, maar ons gáán met vertroue in God, wat alle mag het, vorentoe, in die vaste geloof dat Hý ook in en deur Pandemie-2020 alles ten goede sal laat meewerk.

Ons sing soos Paulus: Hiervan is ons oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Jesus Christus ons Here (Rom 8: 38-39).”

Ds Adriaan Roets van Swartkop vertel só: “Gemeente Swartkop se storie van hoop gedurende Covid-19 het ’n lang aanloop gehad. Ons glo die Here het deur sy genade ons reeds lankal terug begin voorberei vir die uitdagings wat die jaar 2020 op ons pad sou plaas.

Die gemeente het by twee geleenthede in die verlede aan die Kerkspieël-projek deelgeneem. Dit het daartoe gelei dat ons in ons bediening groot klem gelê het op verhoudings en in besonder daarop om ’n gees te skep waar die sense of belonging versterk word. Ons verhouding met God versterk ons verhouding met mekaar en met die wêreld waarheen ons gestuur word. Hierdie verstaan het die fondasie gevorm vir ons bediening in 2020.

Ons het reeds verlede jaar begin met die uitsaai van eredienste en kon met die uitbreek van Covid-19 vinnig aanpassings maak om lidmate, maar ook wyer as die gemeente, op verskillende maniere te bedien met die evangelie.

Die verhoudings wat oor ’n lang tyd opgebou is, het gemaak dat almal bande met mekaar en die gemeente gehou het in die tyd van afsondering. Dit het ook tot gevolg gehad dat almal saamgestaan het en in die gemeenskap betrokke geraak het by die uitdagings wat ontstaan het.

Ons het hierdie jaar baie seën beleef en die Here se teenwoordigheid op ’n besondere manier ervaar.”

Ds Dalene Lourens van Selcourt vertel hul verhaal: “Ek skryf vroeër die jaar in ’n artikel dat die ekonomiese gevolge van Covid-19 rampspoedig gaan wees. ’n Daling in offergawes, verlies aan inkomste van fondsinsamelings, en die groter barmhartigheidsnood is van ons grootste vrese.

Die ekonomie het slegter gevaar as wat die meeste ekonome gewaag het om te voorspel, en tog het ons in gemeentes Selcourt en Springs-Noord ’n wonder beleef. Kundiges het ons aangespoor om nuut en buite die kassie te dink, maar voordat ons kon dink of planne maak, het God voorsien, meer as wat ons kon dink of vra.

Ons inkomste in albei gemeentes is baie beter as verlede jaar hierdie tyd, soveel as R100 000 meer sonder ons grootste fondsinsamelingsprojekte. Hoe het dit gebeur? Ons kan dit self nie verklaar nie. Ons dank God en gemeentelede wat die welstand van ons gemeentes na aan die hart dra.

Die nood van mense was toe ook groter as wat ons gevrees het. Saam het die gemeentes verantwoordelikheid geneem vir gesinne binne die gemeente sowel as in die gemeenskap. Gemeentelede het spontaan en ruim tot die koskas bygedra, selfs mense buite die gemeente het groot bydraes gemaak. Verlede maand het ons ’n halwe ton vleis ontvang.

Ons kan met dankbaarheid getuig God maak ’n pad en voorsien fonteine in die woestyn.”

Ds Marius Kramer van Krugersdorp-Oos se storie van hoop heet: Gestroop, geseënd en gereed! “Krugersdorp-Oos was deeglik bewus van die gestrooptheid wat deur die grendeltyd veroorsaak is. Ons was gestroop van alles wat vir ons bekend, gemaklik en beskermend was. Enige saailand moet van tyd tot tyd gestroop word, sodat nuwe groei kan plaasvind.

Die oomblik toe die bekende weg is, het daar op alle vlakke van ons bediening buitengewone groei plaasgevind. Aanvanklik het ons op digitale platforms die evangelie oral in die wêreld verkondig. Die deure van die kerkgebou was dalk gesluit, maar die mure was weg.

Danksy ’n toestel wat uit die buiteland bekom is, kon ons later met inrydienste begin. Lidmate parkeer hul voertuie op ’n parkeerterrein, stel hul radio in en deel in die erediens. Vir die moraal van die gemeente was dit goed om mekaar weer te kon sien.

Key West-winkelsentrum het ’n parkeervlak gratis beskikbaar gestel, sodat gemeentes in ons ring ook hierin kon deel. So help ons mekaar – die winkelsentrum word ons tydelike kerkgeboue, ons kerkperseel huisves nou ’n tuisonderrigsentrum, en ons pastorie is omskep in bekostigbare verblyf vir bejaardes. Dit maak dat die bediening ook finansieel in hierdie tyd kon oorleef.

Al is ons van baie gestroop, is ons in alle opsigte geseënd en was ons nog nooit so gereed soos nou nie om tot eer van God te groei.”

Inderdaad! Die NHKA dank die Here vir sy groot genade in hierdie tyd. Ons bid ook onophoudelik vir gemeentes wat broos is en besig is om weer vastrapplek te kry!

Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees! (2 Kor 13: 13)

Ek het, toe wilde storms gewoed het,
diep onder, vaste rots gevind.
Die woord wat my van ramp behoed het:
God is my Vader; ek sy kind.
My anker is dáár vasgemaak
– ek glo! – niks sal dit los laat raak.

Dié vastigheid het die Getroue,
my Heiland, met sy dood gelê.
Ek is Gods kind en in vertroue
kan ek dit glo; sal ek dit sê.
Al kom daar onweerswolke aan,
die woord is vas: Die rots bly staan.
(Gesang 501: 1 en 2)

(Dr Frikkie Labuschagne is algemene sekretaris van die NHKA en direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap