Dit is winter en weer tyd vir trooskos – sop en brood. In die SP Engelbrecht-museum is allerlei kombuistoebehore wat die storie van kos vertel – en spesifiek winterkos. Dít alles uit ’n tyd toe die internet en Google-resepte nie ’n vanselfsprekende alledaagsheid was nie. Tradisionele boeresop is nie ’n waterige, effentjiese affêre nie. Nee! Dit is vullend en sommer baie – ’n diepbord vol. Dit is ’n maaltyd op sy eie met ’n gawe stuk brood. Hierdie manier van sop kook, is van die Franse Hugenote geërf.

Jakob in die Bybel het al geweet hoe geurige lensiesop sy broer se mond sal laat water. Esau het vir seker ook ’n broodjie daarby gebreek. By vele kerkfunksies in die winter, soos by Hemelvaarteredienste, is sop die versterking teen die aandkoue. Sopkombuise om armes en haweloses te voed, was en is ’n groot deel van kerke en gemeenskappe se barmhartigheidswerk.

Ons Museum lewer ook ’n bydrae tot die kennis en geskiedenis van sop. Van ons Museumvader prof SP Engelbrecht se kleinkinders hoor ons hoe baie lief Oupa Fanie vir sop was. Sy vrou Tante Olive (uitgespreek Ólif) het altyd sop gereed gehad – ook vir die altyd-honger-studente wat in sy studeerkamer eksamens kom aflê het.

En dan natuurlik moes talle monde gevoed word in skool- en universiteitskoshuise; ons Kerk se Jac van Belkum-kinderhuis te Krugersdorp inkluis. Vir bykans 80 jaar moes die reuse, ovaal, swaar gietysterpot (Holcroft, gemaak in 1932, 40x31x25 cm) keer op keer met sy 27-liter potsop die kinderhuiskinders se magies se leë gaatjies vol maak. Ons het ook ’n ronde deksel (deursnee 41 cm) sonder ’n pot.

Veral kosbaar is die twee soplepels van tante Lenie Retief (1782-1852), vrou van Piet Retief, waarmee sy onder andere vir haar 15 kinders (vier is vroeg oorlede) sop opgeskep het. Die een lepel het ’n lang metaalsteel (32×9,5 cm) met ’n diep skeparea wat in ongeveer 1830 gemaak is. Die skepdeel het ’n skeur in wat duidelik sigbaar is. Die tweede opskeplepel (21×10,5 cm) se steel ontbreek ’n gedeelte.

Kan ons in ons gedagtes die Bloedrivierheld Andries Pretorius (1798-1853) sien sit en sy sop met sy silwer eetlepel geniet? Dít is ook in bewaring in ons Museum. Agterop die handvatsel is sy voorletters gegraveer: AWJP en langsaan in vloeiende skrif die voorletters MP. Dit stem ooreen met die handtekening van Andries se seun Marthinus Wessel Pretorius (1829-1901) wat die eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek was. Ons kan aflei dat Marthinus die lepel (21,5×4,5 cm) van sy pa geërf het. Op die soplepels en die eetlepel is die silwermakersmerktekens sigbaar.

Ken julle die oom-en-tante-sop? Dit kom van ver af – al van voor die Voortrekkertyd uit die Overberg. Vir hierdie sop is gebreekte mielies (stampmielies of kaboemielies) en rooi Engelse gespikkelde suikerboontjies, beesskenkels, uie, sout en peper nodig. Maar net so nodig is die geurige, sout varkspek. Oom-en-tante is so dik dat die lepel amper daarin kan staan. Daar word vertel as die boontjies en mielies nie wil blus nie, is dit nog nie oom-en-tante nie. Druk dit effens met ’n aartappeldrukker om dit te laat trou. Dis diep gewortel in ons kosgeheue: Iets soos die pottages wat die Romeinse kok Apicius aan die begin van die jaartelling beskryf en gemaak het.

Maar die geheim om lékker sop te eet, is brood! Die Museum het ook broodpanne uit die Kinderhuis se kombuis. Hierdie drie panne is uit dikboomparaffienblikke gemaak met grootte 33x12x9 cm en een pan van 38x12x9 cm. Wat is ’n brood sonder ’n mes? Ons het ’n broodmes met ‘n bok- of beeshoringhef (35×3,5 tot skerppunt 2 cm) uit CJ Bodenstein (1827-1885) se huishouding. Hy was die voorsitter van die volksraad en vise-president van die ZAR. Die mes laat ’n mens dink aan sommige oumas wat die groot brode so teen hul voorskoot vasgedruk en snye afgesny het. Perfek reguit. Wie het dit nog self gesien? Dié lekker groot brode het te veel op die kombuistafel rondgegly tydens die snyery. Almal het nie sulke groot broodplanke gehad om op te sny nie. Dan is die snye partymaal sulke ekstra dik ska’wagtersnye (skaapwagtersnye).

Daar is dikwels oor die korsie baklei. Ouma kon dit so op haar handpalm mildelik met uitgebraaide skaap-, varkvet of botter smeer met lekker taaierige konfyt. ’n Heerlike vieruureetding vir honger kinders as aandete nog ’n paar ure weg is.

Party brode kon egter slegs getem word met ’n broodsnyer van hout en metaal. Die Museum s’n (model no 430, 41x25x17 cm) is aan die begin van die 1900’s deur die Duitse maatskappy Aleksanderwerk vervaardig. Yslike groot brode, soms doodgooiers genoem, roep beelde van buitebakoonde op. Lank is daar sélf gebak voordat daar voor bakkerybrood geswig is. Dié winkelbrood is afwysend spookasem genoem.

Sommige ooms vertel hoe hulle altyd gewag het as daar brood in die buiteoond gebak word. Sodra die brood uit die panne gegooi is, gaps hulle een en laat spaander daarmee. Die warm brood word dan soos ’n rugbybal heen en weer aangegee. En doer eenkant word dit stuk-stuk verorber.

Sjoe, ek sou wat wou gee om al die sop en brode bymekaar te kon sien wat met hierdie kosgoeters in die Museum mense gevoed het. Versadig en verkwik, word daar dan gedank: Voor spijs en drank, seggen wij U lof, eer en dank. Amen.

(Die beskrywing van voorwerpe word gegee ter wille van interessantheid, maar dit dien ook as boekstawing.)

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)