Ek kan insien dat ek kan aanstoot gee, met wat ek sê, skryf en doen.

Ek gee toe dat die dinge waarin ek glo en waarvoor ek staan, ander mense kan afstoot.

Ek is gemaklik daarmee dat die mense met wie ek my vereenselwig, ander kan vervreem.

Ek verstaan ook die ding dat verskillende mense verskillend reageer, dat sommige sensitiewer is, ander weer eerliker, of meer op die man af, of fyn aanvoeling kortkom.

Ons is almal anders, eenders maar ook anders. Nie so eenders dat jy almal oor dieselfde kam kan skeer nie, maar ook nie so anders dat jy hulle uit die weg moet ruim om vrede te vind nie.

Ek verstaan dit, en ek wil eerlik glo ek probeer om nie moedswillig te wees, die pot te roer en mense die herrie in te jaag nie. Ek soek nie skoor nie, want ek is nie so goed met die opruiming van die skoor as ek dit eers gevind het nie.

Nie alle mense staan mý aan nie. Alle mense is my medemense, my naastes, nie dat ek met almal ewe intiem is of wil wees nie.

Dis net dat God een reël maak oor hoe ek ander mense, alle ander mense, moet sien en met hulle moet saamleef: in Christus.

Dit vereenvoudig alles, voel dit met die eerste oogopslag. Vir Jesus Christus het ek regtig baie lief. Maar daar’s my probleem. Só word wat eenvoudig was, nou gekompliseerd. Ek moet my liefde vir Christus versoen met my weersin in mense wat my nie aanstaan nie. Ek moet tussen hierdie twee teenstrydighede ’n vrede sluit. Ek was heeltemal bereid om vir diegene wat mý nie kan veel nie, te sê ek het daarmee vrede, vermy my net en ek sal van my kant af dieselfde doen. Dis ’n sosiale afstand wat ek graag sou wou handhaaf, Covid-19 of nie. Maar dit werk nie. Ek loop hulle in die supermark raak, by die kerk, op straat. Vir my voel dit ek vermy hulle, maar God bestier “toevallige” ontmoetings, dwing my om meer te doen as net rug te draai. Vermyding is net nie genoeg nie. Om te keer dat ek hul oë uit die kaste krap, moet ek noodgedwonge diegene vir wie ek andersins min ooghare het, sien, hoor, groet en gesels, liefhê selfs.

Liefhê, verlang na, begeer, lus, hou van… Al die goed verstaan ek, dink ek mos nou. Aantrekking en assosiasie kom vanself, vryelik.

Maar wrewelrige haat ook: Afsku en verwyt het hul eie goeie redes, en weersin en wraak vra nie toestemming nie, die onreg wat dit moet aanspreek, is immers voor die hand liggend.

Verdraagsaamheid teenoor my vyande is ’n swaar las om te dra. Dit verg meer as net ’n wag voor my mond. Respek stuit my al teen die bors. Gelykheid is beledigend.

Die grootste uitdaging is om diegene wat my grief, te moet verduur. Die dag as al my wye draaie nie meer óm die hele gemeenskap geloop kry nie, moet ek noodgedwonge daardéúr.

Sosiale media het nou ’n vindingryke nuwe kultuurverskynsel wat met dié dilemma help: Jy kanselleer die mens net! Jy maak of so iemand nie meer bestaan nie. Niks frustreer so as om geïgnoreer te word nie. Maar dáár hou kansellasie nie op nie. Alle tekens dat so iemand ooit geleef het, word uitgewis, en nie net vir jou nie. Sy word wortel en tak uitgeroei, sy skryfwerk, haar musiek, sy beeld, haar stem, en eindelik ook hy en sy, verdwyn.

Sosiale oorlogvoering is vernietigend. Ons is sosiale wesens. Om ons plek in die samelewing te verloor, maak seer waar dit saakmaak, veral vir diegene wat juis in die omgang met ander hul identiteit vind. Roem raak berug. Kansellasie is ’n “finale oplossing”, is genadeloos. Gegewe dat dit geruggedrewe is, sonder die opsie van ’n regverdige gehoor, is dit net ’n kortkop agter openbare geweld.

Kansellasie se kortbroekbroer is sensuur. Ons was al daar. Ek het vir die eerste keer gesien hoe Nelson Mandela lyk, die dag toe hy met die Parade gepraat het. Destyds was dit die “linkse” stem wat stilgehou is, en regs was reg. Die bordjies is verhang, die pendulum nou so ver anderkant toe dat dit vir die een op die skoppelmaai voel sy bas sit nie meer nie. Regs is weg, links is in.

Ek is nie een van die twee nie, nie links of regs nie. Nie omdat skoppelmaai ry my naarkry nie; tuimeltreine kan vir my nie groot genoeg wees nie. Ek is albei. Daarom eien ek my die reg toe om te sê kansellasie is erger as wat sensuur ooit was. Sensuur was ’n sonde van die staat. Kansellasie is wat ons almal dink ons reg is.

Ek word kwaad as Facebook voel jy is nie mooi genoeg vir ander om te sien nie, as YouTube besluit ek gaan nie van jou hou nie, daarom spaar hulle my die moeite om self te kyk en te besluit. In gemeenskappe, veral in geloofsgemeenskappe, leer jy dat hoe meer dikwels ons mekaar, teen ons sin in, sien en hoor, leer ons mekaar ken, en leer ons liefhê.

Die wagte voor die monde is nou die veiligheidspolisie ver verby. Liefde word gesmoor. Vryheid gaan verlore. Stemme word stilgemaak. Mense verdwyn.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link