In elke interaksie het elkeen van ons die geleentheid om die ander persoon op te bou, of af te breek… So klink Jo Black se woorde tydens ’n onderhoud op die kykNET-program Reis na gister. Dié woorde laat ’n blywende indruk op my – na ’n moeilike paar weke by die werk waar ons hele span oorwerk is en gefrustreerd met die situasie waarin skole hulself bevind.

’n Mens is so geneig om te oorreageer wanneer dinge nie heeltemal verloop soos wat ’n mens dit verkies nie. Jou woorde kan iemand seermaak sonder dat jy dit eens besef. Wanneer jou man alweer sy sokkies langs die wasgoedmandjie los, wanneer jou vrou die tandepasta op die voorpunt in plaas van die agterpunt druk, wanneer jou wederhelfte laat tuis kom en jou niks laat weet het nie, wanneer jou kind weier om sy kos te eet… en in elke interaksie kan jou reaksie en woorde die ander persoon opbou, of afbreek.

As spraak-taalterapeut by ’n spesiale skool in Pretoria-Wes neem ek daagliks deel aan interaksies met onderwysers, leerders, ouers en nog soveel ander mense. Ek sélf het die geleentheid om ander mense op te bou, of af te breek. Dit is veral waar van my interaksies met hierdie jong tiener-leerders. ’n Mens kan so gefrustreerd en kwaad raak as jongmense nie luister na dissiplinering nie. En dan is dit maklik om lelik te reageer en te vergeet om in liefde te kommunikeer. Maar wat ’n klein oomblik in ons lewens is, kan ’n verreikende effek op ’n ontwikkelende brein hê. Hoeveel erger is dit dan nie om ’n jongmens af te breek nie? Soos Carson McCullers telkens sê: But the hearts of small children are delicate organs. A cruel beginning in this world can twist them into curious shapes.

As jou werk jou in ’n posisie plaas om mense te leer of op te voed, is dit ook belangrik om te kyk na jou manier van korreksies maak. Daar is ’n fyn lyn tussen negatiewe en positiewe kritiek. Ons ken almal daardie een persoon in ons vriendekring of familie wat alles weet, en elke ding wat jy sê opponeer. In so ’n gesprek raak ek gewoonlik so gefrustreerd met daardie beterweterigheid dat ek later net als beaam, en nie voortgaan om my opinie te gee nie. So ’n oorvloed van negatiewe terugvoer is op die ou end afbrekend.

So, is jy ’n bouer of ’n breker? Dis nie altyd maklik om hierdie vraag in gedagte te hou nie. Hoe bly ’n mens dan kalm in moeilike omstandighede, hoe raak jy dan nie paniekbevange nie as die land in ’n nasionale noodtoestand gedompel word?

As Christene en kinders van God, het ons uit Jesus se lewe geleer van hoop, geloof, verdraagsaamheid, geduld, omgee, en bowenal liefde. Om iemand op te bou, beteken tog bloot om uit liefde te reageer, en om al die goeie vrugte van die Gees uit te leef. Om kalm te bly in moeilike omstandighede is vir ons gebaseer op ons vaste geloof dat God ’n plan met als het, en dat Hy ons veilig bewaar in sy hande. Ja, makliker gesê as gedaan!

Indien elkeen van ons net ’n bietjie dink oor die impak wat ons woorde en dade op die mense om ons kan hê, hetsy gelowiges of ongelowiges, kan ons so ’n groot verskil in ons interaksies, verhoudings en gemeenskappe maak. En so kan ons moontlik op ons eie klein manier God se koninkryk uitbrei en vermeerder. As ons wegdraai van sonde en werklik elke dag liefde uitleef, en mense opbou eerder as om hulle af te breek, kan dit ons hele wêreld verander.

Soos daar in 2 Kronieke 7: 13-14 staan: As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link