Die vertaling van die Bybel gebeur nie in ’n vakuum nie. Dit ontwikkel en groei vanuit vorige vertalings. Dit is belangrik om hierdie groeiproses in ag te neem.
Soos te wagte kan wees, was die vertaling van die Bybel in Afrikaans uit die brontale van Hebreeus en Grieks nie ’n geïsoleerde gebeurtenis nie. Dit het geheel en al in spesifieke kontekste plaasgevind. Die wyer konteks het uiteindelik ’n groot invloed op die vertalings gehad. Hierdie konteks kan soos volg opgesom word (Naude 2005:168):
Suid-Afrikaanse geskiedenis | Westerse ekonomiese model | Tydgees | Bybelvertaling |
Hollandse periode 1652-1795 |
Merkantiel | Slawerny | Statevertaling |
Engelse periode 1795-1924/48 |
Koloniaal | Emansipasie | Vertalings deur SJ du Toit ea |
Afrikaanse periode 1924/48-1990 |
Modernisties | Menseregte |
1933 – eerste amptelike Afrikaanse vertaling (OAV) 1953 – hersiening van OAV 1982 – Lewende Bybel 1983 – Nuwe Afrikaanse vertaling (NAV) |
Demokratiese periode (sedert 1994) |
Nuwe wêreldorde | Globalisasie |
2002 – Die Boodskap 2002 – diebybel@kinders 2007 – Afrikaanse Bybel vir Dowes |
Die geskiedenis van die vertaling van die Bybel in Afrikaans
Afrikaans is tans die huistaal van ongeveer sewe miljoen Suid-Afrikaners. Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer, met ’n taalkundige hersiening van die Afrikaans in 1953: die 1933/1953-vertaling. Soos alle vertalings tot in die helfte van die 20ste eeu, was dit ’n redelik letterlike, of woord-vir-woord-vertaling.
In 1965 publiseer die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) Die Bybel met Deuterokanonieke boeke, wat die teks van die 1933/1953-vertaling bevat, asook die deuterokanonieke boeke, wat deur die Anglikaanse Kerk, Katolieke Kerk en Lutherse Kerk gebruik word. Die vertaling van die deuterokanonieke boeke in daardie uitgawe is nie deur die BSA onderneem nie. Die deuterokanonieke boeke (apokriewe boeke) was ingesluit in die Nederlandse Statevertaling, wat in Suid-Afrika gebruik is tot voor die verskyning van die 1933/1953-vertaling.
Daarna publiseer die BSA in 1983 ’n nuwe vertaling, waarin die klem sterk op die weergawe van die betekenis van die bronteks val, ’n ander vertaalbenadering as in 1933.
In 2007 word Die Bybel vir Dowes gepubliseer, ’n spesiale vertaling met die oog op die unieke behoeftes van dowes wat doof gebore is of wat gebaretaal gebruik. In antwoord op die algemene aanvraag is hierdie vertaling in 2008 as Die Bybel vir Almal gepubliseer.
Die Bybel AFR2020
Intussen was daar ’n behoefte by kerke aan ’n vertaling wat nader aan die struktuur van die bronteks bly en steeds op die beste beskikbare brontekste gebaseer word. Reeds in 1997 dien ’n versoek vir ’n sogenaamde konkordante vertaling by die Kerklike Advieskomitee: Die Bybel in Afrikaans (KABA), ’n advieskomitee van die BSA wat alle kerke verteenwoordig wat die Bybel in Afrikaans in die erediens en tuis gebruik.
Ná intensiewe navorsing en ’n markopname deur die BSA, versoek die KABA op 25 Oktober 2004 die BSA om met so ’n nuwe vertaling voort te gaan. Die BSA keur dit op 17 Februarie 2005 goed, waarna die lidkerke van die KABA om amptelike bevestiging van en ondersteuning van die projek gevra word. Die BSA nooi daarna alle lidkerke van die KABA uit om medewerkers te nomineer, terwyl so ’n uitnodiging ook aan vakverenigings van taalpraktisyns/vertalers en Afrikaanse taal- en letterkundiges gerig is.
’n Belangrike kenmerk van hierdie vertaling is dat die oorgrote meerderheid van kerke wat Afrikaans gebruik, vir die eerste keer aan ’n vertaling kon saamwerk. Dit is ook die eerste keer dat vroulike medewerkers by ’n Afrikaanse Bybelvertaling van die BSA betrokke was. In totaal was daar minstens 142 medewerkers.
Die Begeleidingskomitee (as beleidskomitee deur die BSA benoem) vergader vir die eerste keer op 28 Februarie 2006. Die laaste werkvergaderings van die Redaksionele Komitees het gedurende 2019 plaasgevind. Die Begeleidingskomitee het die vertaling op 2 Mei 2019 finaal goedgekeur, en op 1 Julie 2019 is die vertaling aan die BSA oorhandig vir verdere verwerking met die oog op publikasie.
Ontwikkeling in die vertaling van die Bybel in Afrikaans
Vertaling van die Bybel is ’n komplekse aangeleentheid wat deel uitmaak van die groter en ingewikkelde verskynsel. Op die webblad van Die Bybel: ’n Direkte Vertaling (www.bybeldirektevertaling.co.za) word die volgende agtergrond verskaf:
Vertaalkunde het as ’n wetenskap geweldig ontwikkel sedert die publikasie van die 1983-vertaling in Afrikaans. Tot in die helfte van die vorige eeu het alle vertalings ’n letterlike of woord-vir-woord-benadering gevolg, soos die 1933/53-vertaling. Die 1983-vertaling verteenwoordig die verdere ontwikkeling in vertaalkunde waarin die klem meer val op ’n gedagte-vir-gedagte- of betekenis-georiënteerde vertaling. Alhoewel hierdie vertalings vir baie lesers die Bybel meer toeganklik maak, verg hulle heelwat meer interpretasie van die kant van vertalers as in die geval van woord-vir-woord-vertalings. Dit is dus te verstane dat sommige gevestigde kerke en meer ernstige Bybellesers (byvoorbeeld in Bybelstudiekringe) begin voel het dat hierdie vertalings hulle soms van die bronteks vervreem.
Onlangse ontwikkelinge in Bybelvertaalkunde het ook bevestig dat daar met reg by kerke en Bybellesers behoefte mag wees aan vertalings wat verskillende funksies vervul. Terwyl die aard en omvang van hierdie funksies oordryf kan word, is daar konsensus dat gevestigde kerke behoefte sal hê aan ’n vertaling wat nie net so naby moontlik aan die bronteks is nie, maar ook aan die vreemdheid en andersheid van die Bybel as antieke godsdienstige teks reg sal laat geskied. Hierdie soort vertaling fokus nie daarop om die Bybel vir lesers in terme van hul eie leefwêreld lekker te laat lees nie. Dit neem eerder lesers na die Bybel se eie tyd en leefwêreld. Alhoewel dit altyd gangbare idiomatiese Afrikaans moet wees, word die letterkundige aard en struktuur van die bronteks, asook die gebruike, nie gemoderniseer nie.
Daar is dus duidelik ’n behoefte aan so ’n vertaling van die Bybel in hedendaagse Afrikaans naas die bestaande woord-vir-woord-vertaling van 1933/53 en die dinamiese vertaling van 1983, asook ander vertalings wat nie deur die BSA voorberei is nie.
Direkte vertaling as vertaalmetode
In die inleiding tot die Bybel AFR2020 word vermeld dat hierdie vertaling ’n direkte vertaling is wat daarna streef om só te vertaal asof die Bybelskrywers in hul eie woorde van duisende jare gelede self aan die woord gestel word, en in vloeiende, idiomatiese Afrikaans. In hierdie opsig verskil die vertaling van ’n woord-vir-woord-vertaling. Dit kan beteken dat ’n sinskonstruksie wat met ’n bepaalde doel in die bronteks ongewoon is, indien moontlik in Afrikaans ook so (ongewoon) weergegee word.
Daar is groot verskille in die struktuur en segswyse van die brontale en Afrikaans. Baie van die verskille hou verband met die eiesoortigheid van konvensies en ervaringswêrelde van die verskillende taalgemeenskappe. Aangesien blote formele ooreenkomste tussen die brontale en Afrikaans nie getrouheid aan die brontale waarborg nie, is daar gepoog om die betekenis en/of funksie van elke brontaalkonstruksie en beeld, hetsy op woord-, sins- of teksvlak, te verstaan, met inagneming van die eie aard van die brontaalgemeenskap, en dan weer te gee op ’n manier wat rekening hou met die eiesoortigheid van Afrikaans.
Anders as ’n direkte vertaling, poog indirekte (of dinamiese) vertalings om die teks van die vertaling aan te pas deur byvoorbeeld eietydse eenhede uit die konseptuele wêreld van moderne lesers (soos rand en kilometer) te gebruik. Die AFR2020-vertaling poog egter om die Bybelse bronteks en leefwêreld so ver moontlik te weerspieël. Woorde vir metrieke mate en gewigte word daarom nie gebruik nie. Die terminologie van die brontaal (soos sikkels, handbreedte, el en dagreis) word so ver moontlik gehandhaaf. Moderne lesers se wêreld word eerder met behulp van inleidings by boeke, voetnote, kruisverwysings, sosiokulturele inligting, kaarte en ’n woordelys verbreed, om sodoende hulp te verleen met die verstaan van vreemde begrippe, metafore en beelde, mate en gewigte.
Dit sluit aan by ’n ou tradisie, soos ook weerspieël in die Statevertaling. Daar word in voetnote dikwels daarop gewys dat daar ander geldige en bekende vertaalmoontlikhede bestaan, of dat daar onsekerheid bestaan oor die betekenis van die bronteks. Spesiale aandag is gegee aan die vorm van liedere en gedigte, sodat die eie aard van Bybelse poësie so ver moontlik behoue bly.
Bogenoemde uiteensetting dui daarop dat die Bybel AFR2020, as ’n sogenaamde direkte vertaling, daarna strewe om die andersheid (Miller-Naude CL en Naude JA 2018), dit wil sê die afstand tussen die bronteks en die vertaling, te weerspieël.
Rol van die BSA
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is een van meer as 150 Bybelgenootskappe wat in ongeveer 200 lande betrokke is. Die kerntaak van die Bybelgenootskap is in die eerste plek die vertaling van die Bybel in die taal van mense se keuse en nie noodwendig, soos die opvatting soms by mense bestaan, die verspreiding van Bybels nie. Hierdie vertalings geskied gekontroleerd onder die wakende oog van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe en in samewerking met baie verskillende kerke. Die vertaalwerk wat deur die Bybelgenootskappe onderneem word, is dus van hoogstaande gehalte en baie betroubaar. Die gevaar van individuele voorkeure en manipulering van die vertaling vir die een of ander doel is dus uiters beperk.
Verwysings
- Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2014. Nuwe Testament en Psalms. ’n Direkte Vertaling. Amity Printing Co Ltd: Nanjing.
- Miller-Naude CL en Naude JA 2018. Alterity in Bible Translation. In Noss, Philip A and Charles S Houser, eds. A Guide to Bible Translation: People, Languages, and Topics. Maitland, FL: Xulon Press; and Swindon, Eng: United Bible Societies, 2019.
- Naude JA 2005. The Afrikaans Bible translations and the formation of cultural, political and religious identities in South Africa. In House, J, Ruano RM & Baumgarten, N (eds). Translation Yearbook of the International Association for Translation & Intercultural Studies, Seoul: IATIS, pp167-179.
(Dr Gerhard Lindeque is organiserende sekretaris van die BSA)
