Lank-lank gelede het predikante tydens huisbesoek die lidmate se Bybel gevra en daaruit gelees. Dit was om te sien of lidmate ’n Bybel besit en gebruik. By sommige huise het die predikant nog nie behoorlik sy sit gekry nie, dan kom een van die kinders met die Bybel, by ander huise moet die ma uitvoerige instruksies vir die kind gee om die Bybel op te spoor en af te stof. Vandag nog, lê die Bybel by sommige huise gereed vir gebruik.

Ek doen huisbesoek, jonk en onervare. Die lidmaat is in die Vloot en hy is met ’n Engelse dame getroud. Ek vra ’n Bybel, die vrou gaan soek. Later gaan die man ook soek, maar hulle kom onverrigtersake terug.

Daar sit ek, entoesiastiese jong dominee, verleë, sonder my gereedskap, sonder ’n Bybel. Ek het die volgende oggend vir hulle ’n Bybel gaan aflewer, maar voor ek dit met die volgende huisbesoek kon gebruik, het die Vloot hom verplaas. Ek hoop hulle het darem daardie Bybel begin lees.

Dit is my eerste huisbesoek by ’n baie ou dame. Sy is vriendelik en interessant. Ek vra ’n Bybel en sy bring haar Bybel. Ek slaan dit oop en sien dit is Nederlands. Ek kan dit lees, maar as ek dit hardop lees, gaan sy lag en ons praat nou oor ernstige sake. Ek vra toe dat sy liewer die gedeelte lees. Daarna was dit die gebruik dat sy self Bybel lees tydens huisbesoek. Ek het later haar 60-jarige seun as volwassene gekatkiseer. Dit was ’n hoogtepunt.

Rekenaars was nog nie so volop nie. Die telefoon lui. Die Bybel is oop op my rekenaar se skerm, dit was nog voor Windows, toe net een program op ’n keer kon loop. ’n Prominente dame in die dorp, nie van ons gemeente nie, skakel en vra of ek haar kan help. Sy begin met ’n lang aanloop, maar ek hoor gou waarheen sy mik, en tik solank die soekwoord in. Sy wil weet waar staan iets in die Bybel. Toe sy klaar gepraat het, vra ek of sy ’n skryfding het en rits die tekste af. Die volgende vraag, dieselfde ding. Sy dink tot vandag toe ek het ’n baie besondere kennis van die Bybel. Ek het haar nog nie reggehelp nie, en gaan ook nie.

Vir huisbesoek het ek jare lank ’n klein formaat volledige Bybel in my motor saamgery. Dit was altyd daar en het baie huisbesoekgesprekke ingelei en baie vrae beantwoord, maar toe kom die tyd dat my arms te kort word wanneer ek daaruit wil lees. Daarna het ek my Kindle saamgeneem, ’n mens kan sy lettergrootte stel en dit het ’n nuttige soekfunksie wanneer lidmate vra: Dominee, waar staan…?

Ek doen huisbesoek by lidmate en daar is ’n besoeker by hulle. Hy is een van daardie mense wat ’n stryd voer teen al wat kerk is, want almal is verkeerd en net hy verstaan die Bybel reg. Hy sien die geleentheid en begin gooi my met tekste, uit verband en sonder konteks, maar dit klink vir hom reg. Soms moet ’n mens vuur met vuur beveg. Gelukkig is hy breedsprakig en dit gee kans dat ek vinnig in die Bybel op my Kindle soek en ek elke keer kon antwoord: Maar daar staan ook geskrywe... Soms ook uit verband, maar dit is al wat hy verstaan. Dit gaan soos ’n tenniswedstryd heen en weer. Toe, o wee, verskyn die boodskap dat die Kindle se battery pap is en ek dit moet afskakel. Ek skrik, gelukkig is my laaste teks ’n kishou en ek wen ses stroop.

Deesdae, met die Bybel op die selfoon, is die Bybel altyd byderhand. Sorg net dat die battery vol gelaai is…

(Ds Thomas Joubert is leraar in Swellendam)