Die ou Transvaalse Republiek se Grondwet het vereis dat die leraar van die staatskerk, die Nederduitsch Hervormde Gemeente, die Volksraadsitting met gebed moes open en afsluit. Ds Begemann het by twee geleenthede, naamlik in 1864 en 1865, gevra om verskoon te word. Die Volksraad was daaroor ontstem.

’n Paar maande later het daar iets gebeur wat die herstel van die breuk baie moeilik gemaak het. In Pretoria was verskillende vrymesselaars wat byna almal lid van die gemeente was, en ook getroue lidmate. Pres MW Pretorius was ook ’n vrymesselaar. Hulle het ’n nuwe losie gebou en ds Begemann in Augustus uitgenooi om met die ingebruikneming daarvan ’n gepaste gebed te kom doen.

Alhoewel ds Begemann nie ’n vrymesselaar was nie, het hy tog aan die uitnodiging gehoor gegee. Daardeur het hy die beswaardes heeltemal van hom vervreem, en hulle het hom by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aangekla. Die Kommissie was van oordeel dat hy met die doen van die gebed hom nie strafbaar gemaak het nie, en het die klag van die hand gewys. Die uiteinde van die saak was dat ’n aantal beswaardes die sogenaamde Konsulentsgemeente van Pretoria (later bekend as Witfontein, nog later Erasmus, en nou Bronkhorstspruit) gestig het, met ds GW Smits as predikant. Hierdie gemeente sou ’n deurslaggewende rol speel as “Ark” in die voortbestaan van die NHKA ná die onverkwiklike kerkvereniging van 1885.

Aan die begin van 1872 was daar nuwe moeilikheid. Ds Begemann het die akademiese vraagstuk van tekskritiek in die gemeente gebring. Hy het eers in ’n privaatgesprek en daarna in ’n kerkraadsvergadering gesê dat 1 Johannes 5: 7 later in die Bybel ingevoeg sou gewees het en nie daarin hoort nie, en net so ook die eerste verse van die agtste hoofstuk van die Evangelie van Johannes. En ook dat men groote oogen zoude opzetten, indien bekend werd wat hij wist. Die kerkraad kon dit nie daarby laat nie en het hom by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aangekla.

Die uiteinde van die saak was dat die Kommissie besluit het om hare afkeuring te kennen te geven over de woorden, door den Predikant A.J. Begemann gebezigd, en veroordeelt den Predikant A.J. Begemann tot een schorsing in de dienst van drie maande vanaf heden af te rekenen, met verlies van tractement. Hy moes ook die koste van die Kommissiesitting dra.

Aangesien ds Begemann in elk geval van plan was om af te tree, het hy onmiddellik die pastorie ontruim en ’n ander woning betrek, en toe die skorsingstyd om was, het hy sy ontslag gevra en sy emeritaat verkry op 29 Junie 1872. Na kwalik 11 jaar in die bediening in die Transvaalse Republiek neem hierdie omstrede eerste predikant van Pretoria op 30 Junie afskeid van die gemeente. Hulle het toe vyf kinders jonger as tien jaar gehad. Daarna sou hulle nog ses kinders kry.

As emeritus het hy in 1905 tydens die inwyding van die Du Toitstraat-kerkgebou van Gemeente Pretoria vanaf die kansel ’n roerende toespraak oor vervloë pioniersdae gehou. Die saal langs die kerkgebou in Du Toitstraat is na hom vernoem, asook ’n straat in Eloffsdal in die Pretoria-Moot, en ’n straat in Heidelberg.

Ds en mev Begemann

Die Ark van ds Begemann met die familie voor die huis ca 1880

Ds Begemann het tot sy dood op 15 November 1925 om 22:10 in die ouderdom van 94 jaar in Pretoria gewoon in sy eie huis, “Die Ark”, in Jacob Maréstraat 293, oorkant Burgerspark, op die hoek van Jacob Maréstraat/Scheidingstraat en Van der Waltstraat (vandag Lillian Ngoyistraat). (Op die hoek was Parkzicht waar die Boereafvaardiging op 31 Mei 1902 tuisgegaan het.) “Die Ark” was geleë aan Scheidingstraat naby aan die koetshuis van Melrosehuis, die tuin en huis se voorkant noordwaarts na Jacob Maréstraat (vandag Jeff Masemolastraat). Hier was een van die pragtigste tuine wat Pretoria destyds gehad het, volgens Eugène Marais.Mev Begemann het al die huisvroue van die dorp van pompelmoese (pomelo’s) en konfyt voorsien! Wes was hul bure Melrosehuis, verder wes Parkzicht en Barton Keep, en oos oorkant die Apiesrivier was dit Johanna van Warmelo (later Brandt) en haar moeder op die plasie Harmonie.

Hulle het 11 kinders gehad: ses seuns (een tweeling seuns) en vyf dogters. Die twee jongste dogtertjies sterf in die 1880’s onderskeidelik op ouderdom 4 in 1885 en 6 in 1889, en ’n dogter (45) in 1918 aan bors- en longkanker. Twee van hul seuns sneuwel tydens die Anglo-Boereoorlog: Simon (37), sy oudste seun, toe mynkommissaris op Barberton, in die Vrystaat by Sandrivier op 10 Mei 1900; en Frederik (33), toe belastinggaarder op Volksrust, by Dundee op 4 Oktober 1899. In die Ventersburg-begraafplaas is ’n burgermonument ter ere van kommandant Simon Begemann en vier ander wat tydens die Anglo-Boereoorlog by Sandrivier gesneuwel het. Drie seuns het prokureurs geword.

Ds Begemann het in die openbare lewe veral op kultuurterrein tot op hoë ouderdom ’n aktiewe rol gespeel. Hy het hom veral vir die onderwys beywer. Sedert 1864 was hy lid van die skool- en onderwyskomitees in verskillende hoedanighede; hy het selfs lang tye Nederlands onderrig en byvoorbeeld ook vir Eugène Marais sy heel eerste formele Nederlandse taallesse gegee. Sedert 1867 was hy lid van die begraafplaaskomitee toe die begraafplaas in Kerkstraat-Wes aangelê is. Hy was later die eerste hoofbibliotekaris van die Staatsbiblioteek (1887-1893), terwyl hy ook ’n leeueaandeel gehad het in die oprigting van die Staatsmeisjesskool in Visagiestraat in 1894.

Hy en sy eggenote lê begrawe in die ou begraafplaas in Kerkstraat-Wes. Op sy sterfsertifikaat word seniliteit vir die duur van “maande” aangegee as oorsaak van sy dood; sy eggenote is oorlede aan hartspierinflammasie waaraan sy drie maande lank gely het.

Hierdie ou dominee was een van die baanbrekers van die organisering in ons Kerk en die uitkring van beskawing waarvan ons vandag nog die vrug geniet!

(Ds C Johann de Bruin is Kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap