Daar kan tog geen redelike twyfel daaroor bestaan nie: dat God van gelowiges verwag om op elke moontlike terrein van ons lewens getrou te wees? En dit sluit tog seker ook hoe ons handeldryf in?

Die profeet Miga sien onreg op straat. Dit is versigtig verdoesel in die ou klein dingetjies wat gewone mense nie sommer gaan agterkom nie. Maar God weet. Miga besef God gaan dit nie ongesiens laat verbygaan nie; God gaan daar ’n stokkie voor steek, die vraag is net: Wanneer? En die tragiese daarvan is hoedat Miga dink God daaraan ’n einde gaan maak. Hierdie bedrog gaan nie klein bly nie, want die uitbuiting van brose mense wat aan skelms uitgelewer is, is nie sommer ’n onbenulligheid nie. Juis gewone mense is hulle met wie God bande het. Die verbond is op die spel, en die grond waarop en waaruit hulle leef, gaan soos die spreekwoordelike dam onder die eend uitgeruk word. Daar kom ’n ramp, oorloë wat Israel en Juda tot op die grond sal afbreek, en die volk sal slawe word in ’n bannelingland.

Waar is hierdie skelmstreke aan’t tier? Orals waar handel gedryf word.

Bedrieërs is dikwels diskreet, want so kom jy hul streke nie sommer agter nie. Natuurlik is daar ook van hulle wat skaamteloos steel, soos om bejaardes heuning om die mond te smeer en dié se aftreegeld in eie gatsak te steek, of omkoopgeld vir tenders te aanvaar. Daar staan glo ’n hek op die strand in Umhlanga wat miljoene sou gekos het, ’n hek wat nie kan toe nie. En ook net die hek, sonder heining.

Oor sulke bedrog is ons met reg verontwaardig. Sulke boosheid kom aan die lig, en dis te hope dat iemand daarvoor aan die pen sal ry, hoewel ons met goeie rede ook daaraan kan twyfel. By “skaamteloos” kan jy dalk ook “vreesloos” voeg, want die reg het nie meer tande nie.

Maar skelms is nie altyd so blatant nie. Jy ken ’n skelm nie altyd aan gierigheid uit nie. Skelms is dikwels slinkser; hulle maak vrede met klein bietjies op ’n slag. Want dan is daar nog ’n volgende keer, hulle verneuk jou weer en hul winste is meer. Hulle kul jou sienderoë. Dis maklik: Die maatband is net vyf sentimeter minder as die meter waarvoor jy gevra het, die skaal weeg ’n skrale honderd gram te min af. Die profeet Miga sê dit gebeur in sy tyd al.

MIGA 6

10
Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?

11
Moet Ek die eienaar van ’n onbetroubare weegskaal vryspreek,
een met ’n sak vol vals gewigte?

12
Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg en hulle bedrieg.

Pa en Ma is in hul tagtigs. In dié Derdewêreldland waarin ons woon, het die owerhede ’n obsessie met aanlyn administrasie, en op hul oudag moet my ouers leer rekenaars gebruik. Pa vertrou die masjien glad nie en kan buitendien nie goed sien nie. Ma moet alles druk en vir hom wys. Vandaar die drukker waarvan die ink nou op is, na net twee keer se vervanging. Die drukker het vyf jaar gelede R500 gekos, toe al baie geld, in hul verwysingsraam. ’n Nuwe inkrak gaan hulle nou R1 600 uit die sak jaag. Hulle kan daarmee drie splinternuwe drukkers koop.

Die evolusie van die rekenaardrukker is ’n geskiedenis van te kort maatlyne en vals gewigte. Aanvanklik kon jy inkpotjies koop as hulle opraak, dúúr inkpotjies, tot iemand met generiese plaasvervangers vorendag gekom het en geen vermanings oor die etiek van net oorspronklike ink te gebruik, meer met die prys van nagemaakte plaasvervangers kon meeding nie. Toe word die ink in die potjies al hoe minder, dog die potjies al duurder om te koop. Die oplossing was ’n nuwe generasie drukkers waarvan jy die ganse binnegoed moes uithaal en vervang as jy dieselfde drukker weer wou gebruik. Dis hierdie nuwe binnegoed wat nou drie keer die koopprys van die drukker self kos.

Gaan loop nou langs ’n rak af waar die nuutste drukkers om koopprys staan en kompeteer; spotgoedkoop, goedkoper selfs as Pa en Ma se drukkertjie van vyf jaar terug. Nee, sy ink is klaar in hom, mos, sê die verkoopsman, daar hang nog nie van dié model se inkrakke of inkpotjies elders nie. As jy ’n jaar later sou terugkom, sal hulle daar hang, belowe die verkoopsman. En dan gaan so ’n inkrak jou ’n plaas kos, maar dít vertel die verkoopsman jou natuurlik nie. (Ek is nie vir die verkoopsman kwaad nie; die vervaardiger is die een wat met ’n slap riem jag.)

Nou, sien ek, is die nuutste tegnologie ’n terugkeer na inktenks, so noem hulle dit, seker om die indruk te skep van groot inkreserwes. Jy kry sommer ook ’n hele klomp ink “gratis”, genoeg vir vyf jaar se gebruik! Hierdie nuwe drukkers is wel onbeskaamd duur, daar waar hulle op die winkelrak tussen liggewig mededingers pryk, ongetwyfeld ter wille van mense soos ek wat nou al agter die kap van die byl gekom het. Maar ek vermoed die slang skuil nog steeds in die lang gras. Slim (of slinks) gee hulle nou uit die staanspoor al toe dat jy ’n drukker, enige drukker, eenmalig vol ink koop. As die ink opraak, gaan stal jy hom eers vir ’n paar jaar in jou pakkamer uit, saam met al die ander drukkers wat jy oor die jare daar versamel het. Nie een van hulle makeer iets nie, sien, en om hulle sommer net weg te gooi, sou gruwelike vermorsing wees! Dis net dat jy hul ink nie meer te koop kry of kan bekostig nie. Daarom, daar in jou pakkamer staan hulle op ’n ry tot die dag dat jy trek, of opruim, of iets dergeliks. Op daardie dag vra jy vir oulaas, dog by voorbaat al tevergeefs, of iemand nie dalk die ding kan benut nie? Maar dié doen jy sommer al op pad asblik toe, en jy bereken dit so dat die slag waarmee die verdoemde drukker die rommel tref, jou kragwoord demp.

So ook, vermoed ek, met die nuwe generasie inktenkdrukkers. Alles dui daarop: Jy moenie oor vyf jaar, as die ink opraak, weer vir hierdie drukker se ink of binnegoed in ’n winkel kom soek nie, want geen mens, die vervaardiger ingesluit, gaan dan nog kan onthou dat daar al ooit so ’n ding soos jou model drukker bestaan het nie.

Ek preek nie daar gaan ’n oorlog kom nie (Here, behoed ons!), nie eens in die lande waar hierdie bose planne uitgedink en bedrieglike drukkers gebaar word nie, waar op aarde dit ook al mag wees. Ek treur oor my ouers wat met dieselfde geld nou kleiner verpakkings kos koop en nie kan kleinkry waarom die geel margarien al teen halfmaand opraak nie.

Iets daarvan is goddeloos.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap