Op Maandag 3 Junie 2024 het een van die bekendste teoloë van die 20ste eeu, professor Jürgen Dankwart Moltmann (1926-2024), die grense van hierdie lewe oorgesteek en die onbeperkte ruimte (Job 36: 16, AFR2020) van God betree.
Van die nagenoeg 60 boeke (kyk hier) wat uit sy pen verskyn het, sluit hy sy laaste boek wat einde 2023 verskyn het (kyk hier), af met ’n oordenking na aanleiding van Job 36: 16 (in die publikasie per ongeluk as vers 26 aangedui!). Moltmann skryf in hierdie laaste paragraaf dat met die dood, jy uit die kake van benoudheid weggelok word (vers 16, AFR2020).
Hierdie gedagte sluit natuurlik ook nóú aan by sy welbekende boeke, soos In the End – The Beginning: The Life of Hope (2004) en veral sy outobiografie, A Broad Place (2008). Die titels spreek vanself. Kyk ook Psalm 31: 9 vir die ruim plek waar God ons heen lei en wat Moltmann as titel van sy lewensverhaal gekies het.
Die Universiteit van Pretoria (UP) het op 6 April 2017 ’n eredoktorsgraad in die Teologie aan Moltmann toegeken. Dit was sy 17de eredoktorsgraad, en verlede jaar het die Universiteit van Wuppertal – waar sy akademiese loopbaan in 1958 begin het – aan hom sy laaste eredoktorsgraad toegeken.
Moltmann het met UP se gradeplegtigheid destyds ook die hoofrede gelewer en het juis oor bogenoemde wysheid gehandel. Hy sê toe in sy slotparagraaf aan die studente die volgende (luister hier na sy toespraak):
In the end, there is a beginning. Young men and women, let your hope arise. We have so much sick and dying hope around us. There is resignation. There is the arrogance of the powerful and the apathy of the powerless. Drop arrogance and learn to listen to others. Get out of apathy, lift your head, and raise your voice. Break out of indifference and get involved. Life is so beautiful!
Ek het vir etlike jare reeds ’n persoonlike verhouding met Jürgen gehad – hy het daarop aangedring om op die voornaam genoem te word. Ek het hom ook in Junie 2016 aan sy huis in Biesingerstraat 25, Tübingen, Duitsland, besoek en die oggend daar met hom deurgebring. 28 April 2024 (waardering betuig vir verjaardagwense aan hom gestuur) was die laaste keer dat ek ’n e-pos van hom ontvang het.
Moltmann het nooit op ’n rekenaar of woordverwerker gewerk nie, maar die laaste drie jaar tog by wyse van e-pos op ’n iPad gekorrespondeer, en ek kon waardevolle paragrawe van ons korrespondensie bewaar.
Om terug te kom na die betoog van ’n onbeperkte ruimte en die begin wat aan die einde is, wil ek ’n spesifieke paragraaf uit ons persoonlike korrespondensie met die lesers deel. Opvallend is uiteraard sy uitsien na die ewige lewe, maar nie sonder die bewussyn van lyding in hierdie lewe nie. (Kyk sy bogenoemde aanhaling gerig aan die studente tydens die gradeplegtigheid.)
Ons het in Duits gekommunikeer, en ek vertaal die volgende paragraaf wat hy op 13 Februarie 2023 aan my geskryf het, so noukeurig moontlik:
Ek besin in my aand-uur oor my dood en wederopstanding. Dit kan nie meer ver wees nie. Ek is daarvan oortuig dat ons nie uit ons grafte opgewek sal word nie, maar reeds in ons sterfuur. So berei ek myself voor op my persoonlike wederopstanding tot die ewige lewe. Die ewige lewe is [vir my] ook geleefde lewe. Ek berei myself daarop voor deur elke oggend die nuwe dag met vreugde en dankbaarheid te verwelkom.
Opmerklik is dat Moltmann tot in sy laaste jare hoopvol bly lewe het, maar nie die wandade en selfs gruwels van hierdie lewe geïgnoreer het nie. Op een van die briewe waarin ek my waardering teenoor hom betuig het, antwoord hy op 10 Augustus 2023 soos volg (uit Duits vertaal):
Ek dink nie so baie van myself soos jy in jou brief van my dink nie. Op my ouderdom kom die vergete sondes en die verdronge nederlae snags in herinnering. Dit is wel bemoedigend om te glo dat God “al jou sondes vergewe het en jou lewe van verderf verlos het”.
Ek het reeds verwys na die laaste boek wat Moltmann geskryf het. Die laaste artikel wat hy geskryf het, is in 2023 gepubliseer toe hy tot my LXX Festschrift bygedra het. In die Acknowledgements (kyk hier vir die geheel) beskryf hy die grond van ons besondere band:
I am delighted to contribute to this Festschrift of my friend Johan Buitendag. […]. During his visit to Tübingen in 2016, he found me in a state of sorrow over my wife, Elisabeth, who had died three weeks ago in my arms. A year before that, his wife Engela had passed as well. These losses created an emotional bond between us. We have been close friends ever since.
Hierdie gemeenskaplike verlies van ons albei se lewensmaats, het ’n emosionele band tussen ons gesmee wat nie net in ons vriendskap nie, maar ook in ons teologie tot uitdrukking gekom het. Ek kan onomwonde getuig dat geen gedagtekonstruk my eie teologie so gevorm het, en dat geen persoon my menswees so geraak het, as juis dié van Jürgen Moltmann nie. Daarom was dit ook ’n eer toe een van sy kinders (vier dogters, drie skoonseuns en hul kinders) die begrafnis-kennisgewing aan my persoonlik gestuur het en my boonop gevra het om ’n paar gedagtes neer te pen van ons twee se verhouding waarvan, soos dit my voorkom, uittreksels dalk opgeneem mag word in ’n beoogde herinneringsbundel.
Die lewensverhaal van Moltmann het natuurlik sy eie menswees onteenseglik gevorm. Hy is op 8 April 1926 in Hamburg gebore. As jeugdige was hy verplig om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem en is weldra deur die Geallieerdes gevange geneem. Hy begin sy teologiese studies as krygsgevangene in Engeland. Met die terugkeer na sy vaderland in 1948, het hy hom aan die Universiteit van Göttingen in die teologie ingegrawe.
Daar ontmoet hy vir Elisabeth Wendel met wie hy getroud was tot haar afsterwe op 7 Junie 2016. Albei van hulle voltooi hul doktorsgrade onder die bekende Barth-kenner, Otto Weber.
Moltmann begin, soos reeds gesê, sy akademiese loopbaan in 1958 as professor in Sistematiese Teologie in Wuppertal. In 1963 kry hy ’n aanstelling by Bonn Universiteit en vanaf 1967 tot en met sy aftrede in 1994, is hy by Tübingen Universiteit. Om ’n breë oorsig oor sy teologie te kry, kan uiteraard baie bronne geraadpleeg word. Om selfs net ’n klompie aanhalings uit sy werke te lees, is al klaar baie bevredigend. (Kyk hier vir sekere populêre sitate van Moltmann.)
Moltmann het in die vorige eeu geen goeie indruk van Suid-Afrika gehad nie. In 1974 ontvang hy ’n eerste uitnodiging om Suid-Afrika te besoek, na aanleiding van ’n inisiatief van Desmond Tutu, maar die destydse regering weier sy visumaansoek. ’n Tweede aansoek volg later en hierdie keer bekom hy wel ’n visum en besoek hy Suid-Afrika in 1978.
Dit was vir Moltmann geen goeie ervaring nie. In sy outobiografie (bl 235) beskryf hy sy weersin in die rassediskriminasie wat hy in Suid-Afrika waargeneem het, byvoorbeeld in restaurante, op lughawens of waar hy hom ook al bevind het. Hy skryf bewoë van die icy rejection wat hy in Potchefstroom ervaar het. Tydens sy terugvlug na afloop van die besoek het hy gevolglik ’n besliste onderneming aan homself gemaak om Suid-Afrika nooit weer te besoek alvorens apartheid opgehef en verwyder is nie.
Die doel van my besoek in 2016 aan hom in Tübingen was juis om hierdie perspektief te probeer verander, en ek het ook ’n lywige dokument voorberei oor die destydse status van UP en transformasie – en wat ek hom voor die tyd per koerier laat bekom het.
Moltmann was tydens die ongeveer tien dae wat hy in Suid-Afrika was, aangenaam verras en het op etlike plekke en geskrifte van sy positiewe indrukke getuig. Hy het later dieselfde jaar in Leipzig die hoofrede gehou met die 500-jarige viering van die Hervorming van Martin Luther deur die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WCRC) en pertinent in sy toespraak na UP verwys en die Eeufeesjaar se tema van die Oopmaak van die hekke… aangeprys. (Kyk hier vir die toespraak.)
In ’n latere boek van hom, Christliche Erneuerungen in schwierigen Zeiten (2018), herhaal hy hierdie erkenning en skryf hy op bladsy 44 dat die wêreld kennis behoort te neem van Tukkies se “Oopmaak-teologie”.
Moltmann se teologie is die eerste keer deur Hervormde teoloë aan UP bekend gestel deur prof Frans van Zyl toe hy in die 1970’s Moltmann se Theology of Hope (reeds verskyn in 1964) aan studente voorgeskryf het.
Vanaf die vroeë 1990’s, toe ek as deeltydse dosent aan die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aangestel is, is Moltmann se teologie met erns gedoseer. Dit is vandag steeds die geval. My voormalige kollegas skryf in Beeld van 5 Junie 2024 ook in hul huldeblyk aan Moltmann dat al meer as 50 studente net aan UP se Fakulteit Teologie en Religie, hul nagraadse studies oor Moltmann se teologie voltooi het.
As inleiding tot Moltmann se teologie en tegelyk ook as ’n breë perspektief vir studente, het ek in die 1990’s Moltmann se The Future of Creation (1979) voorgeskryf. (Kyk hier vir inligting oor die boek.)
Met die vestiging van die veelkerklike Fakulteit Teologie aan UP in 2000, is daar stelselmatig ook meer aandag aan van Moltmann se ander werke gegee, byvoorbeeld: Theology of Hope (1964); The Crucified God (1972); The Church in the Power of the Spirit (1979); Trinity and the Kingdom of God (1980); God in Creation (1985); The Way of Jesus Christ (1989); The Spirit of Life (1991); The Coming of God (1995); Experiences in Theology (1999); Science and Wisdom (2002); In the End the Beginning (2004); A Broad Place: An Autobiography (2009); Sun of Righteousness, Arise! (2010); Ethics of Hope (2012); The Living God and the Fullness of Life (2015); en The Spirit of Hope: Theology for a World in Peril (2020).
In een van my laaste briewe aan Moltmann het ek afgesluit met ’n gedig, getitel Der Abschied, uit die bundel Das Lied von der Erde (1908) van Hans Bethge, getoonset deur Gustav Mahler, in wie se musiek ’n mens ook sy eie lyding hoor. Die gedig is natuurlik in Duits vir Moltmann gesiteer. (Kyk hier vir die oorspronklike teks met ’n Engelse vertaling daarnaas). ’n Afrikaanse vertaling van die laaste twee strofes lui soos volg:
Waar gaan ek heen? Ek loop, onderweg in die berge.
Ek soek rus vir my eensame hart.
Ek skry voort na my tuiste, my rusplek.
Nooit sal ek weer in die vreemde ronddwaal nie.
My hart is stil en wag dat sy uur kom.
Oral spruit die liewe aarde
Lentebloeisels en word weer groen –
Opnuut! Oral en ewig
Word die vertes weer blou!
Ewig … ewig…
Die laaste reël van die eerste strofe hierbo aangehaal, funksioneer as ’n oorgang na die (ewige) rus en is aangrypend, veral in die oorspronklike vorm: Still ist mein Herz und harret [wartet] seiner Stunde!
Lees nou weer die opskrif van hierdie persoonlike refleksie; albei is frases wat Moltmann self geformuleer het: Die ewige lewe is geleefde lewe, en, Aan die einde is die begin.
*** Hierdie artikel is ook as ’n meningstuk op LitNet gepubliseer.
(Prof Johan Buitendag is ’n emerituspredikant van die NHKA)