Twee maande gelede het ek in my redaksionele artikel ’n stelling gemaak dat net die tyd sal leer of ons in 2020 voortydig opgetree of oorreageer het. In daardie stadium het baie mense in totale onkunde geglo ons gaan drie maande by die huis wees en dan is alles weer normaal.
Intussen het die realiteit van ’n maande lange grendelstaat ons almal getref. Ons land se ekonomie gaan baie lank vat om van hierdie terugslag te herstel. Almal van ons ken iemand wat sy of haar werk of ’n gedeelte van hul inkomste verloor het. Dalk is dit jy! Baie kleinhandelaars gaan toemaak, selfs ou bekende name van groot besighede waarmee ons grootgeword het, gaan nie hierdie tyd oorleef nie.
Ook die Kerk het nie hierdie “tsoenami” van verlies en hierdie oorlewingstryd vrygespring nie. Die eerste uitdaging was hoe om voort te gaan om die evangelie te verkondig as die kerkdeure moet toe bly. Kollegas het op allerhande vindingryke maniere begin om die evangelie te verkondig. Nou is die vrae wat kollegas vra of jy moet live stream of vooraf moet opneem en dan uitsaai. Is Facebook, YouTube, WhatsApp die beste manier om die evangelie by mense uit te kry? Slagspreuke soos Ons gaan nie kerk toe nie, maar ons het nie opgehou om kerk te wees nie is deel van die Kerk se algemene gesels.
Sommige mense sê ons moet net ’n bietjie vasbyt, alles gaan weer wees soos dit altyd was, dis net ’n kwessie van tyd… Ek is egter nie so seker daarvan nie. Ek dink baie dinge sal nooit weer wees soos wat dit was nie en dat, selfs nadat Covid-19 as bedreiging verdwyn het, ons nog met die littekens van hierdie seerkry gaan sit.
Die bydraes in hierdie uitgawe help ons om hierdie verandering te bestuur en die pad vorentoe met hoop en moed aan te durf.
Toe ek dr André Ungerer geskakel het en gevra het dat hy ’n voorbladartikel met ’n boodskap van hoop moet skryf, het ek geweet dat dit iets spesiaal sou wees. Ek dink sy boodskap help ons om verby die valse leë hoop te kom wat glo dat alles teen hierdie of daardie tyd weer sal wees soos dit was. Hy help ons om anders te kyk na die toekoms. Hy gebruik die beeld van die sogenaamde Stockdale Paradox saam met Jeremia 28 en 29 om ons te help om iets te verstaan van hoe om hierdie tyd te bestuur. Hy skryf: Intussen moet ons vashou aan die geloof dat dit wel weer beter sal gaan – dat die virus oorwin sal word en dat ons ’n nuwe (en beter) normaal sal vind waar die welstand van die breër gemeenskap net so belangrik soos ons eie welstand sal wees. Hoe lank dit sal neem, weet ons nie. Ons moet dit doen met God se belofte aan Israel wat ook tot ons in hierdie tyd eggo: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
Dr Frikkie Labuschagne se artikel, ’n Beter greep op wat met ons gebeur, help ook gemeentes en individue om ’n beter begrip te hê van die verandering waarbinne ons ons bevind en om te weet hoe om dit te bestuur en te oorleef. Nadat hy vir ons ’n blik gee op die bestuur van verandering en ons ook daarop wys dat ’n persentasie van lidmate weerstand teen verandering sal hê, maak hy die volgende treffende stelling: Iemand het by geleentheid gesê: Die probleem is nie daar buite nie, maar hier binne! Momente van verandering toets ons vermoë om aanpassings te doen. Die vraag is: Is ons veerkragtig genoeg om die aanpassings deur te voer?
Feit bly, daar sal altyd verandering wees. Soms word ons eenvoudig daar ingestamp soos nou. Aan die veranderinge kan ons nie veel doen nie; dr Labuschagne benadruk dat waaroor jy wel beheer het, die manier is hoe jy op die verandering reageer.
Dr Johan Nel se artikel, Ons praat pastoraat, Covid-19-pastoraat, is net so kosbaar. Dit help ons om vanuit ’n pastorale perspektief na Covid-19 te kyk. Soos met drr Ungerer en Labuschagne se artikels, kry ons weer ’n positiewe blik op die werklikheid wat ons help om heel deur hierdie tyd te kom.
Ek sluit af met ’n verhaaltjie wat ’n kapelaan-generaal in my Weermagdae vertel het. Hy was eers ’n sendeling en moes ’n ou lidmaat gaan oplaai vir ’n vergadering. Daar aangekom, was die ouderling nog besig met dit en dat, en hulle kom laat by sy huis weg. Die goeie generaal het vinniger gery om betyds te probeer wees. Muruti, jy gaan ons verongeluk, reken die ouderling. Moenie kommer nie, ek het gebid, antwoord die dominee. Dit is goed Muruti, reken die ouderling, toe ek klein was het twee mans in die bos geloop. Hulle kry toe ’n leeu. Die een het gebid, en die ander een het in die boom geklim en gebid. Watter een leef nog?
Kom ons benader hierdie krisis in geloof en gebed én ons doen alles wat vir ons as mense moontlik is, sodat ons nie net sit en wag nie, maar help om die verandering te bestuur.