Dr Hercules Boshoff en mev Rolandi Mc Geer, finalejaarstudente aan die NHKA, het die week van 9 Februarie hul praktiese jaar by Origins Retreatsentrum in Kromdraai afgeskop. Dr Hein Delport, die intredende hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), het hulle vergesel.

Dr Delport beskryf dié geleentheid as ’n drempel-ruimte wat studente nie net toerus vir bediening nie, maar ook anker. Vir hom behels hierdie vertrekpunt veel meer juis omrede dit as ’n oorgang na hul praktiese jaar funksioneer, geanker in innerlike helderheid en geestelike dissipline. Hierdie week het dus ’n ruimte geskep waar die studente geestelik stil kon word en hulself kon voorberei vir die aanvang van hul praktiese jaar.

Maar die Hervies was nie alleen nie. Die NGK en NHKA se finalejaarstudente deel jaarliks hierdie spasie. Die fokus op kontemplatiewe spiritualiteit tydens hierdie wegbreek is nou al vir etlike jare deur dr André Ungerer van die Hervormde Kerk en dr Kobus Myburgh van die NG Kerk gehandhaaf. Dr Delport spreek sy dankbaarheid uit dat die studente gedurende die week deur verskillende aanbieders deur ’n geïntegreerde proses geneem is – van kontemplatiewe gebed en stil word, na dieper selfrefleksie en geloofspraktyke, en uiteindelik na roeping, identiteit en beliggaamde spiritualiteit.

Die verskeie fasette van spiritualiteit is deur die loop van die week bespreek asook praktiese riglyne vir die hoe. Elke student het toerusting ontvang om hul spiritualiteit op hul eie unieke maniere te vorm. Hierdie spiritualiteit behoort dan in hul alledaagse lewe en ook hul bediening verweef te word. Dr Delport skryf die volgende oor sulke samewewing: Persoonlik het ek weereens besef in ’n tyd waar bediening maklik oor spoed en prestasie kan gaan, leer ons studente hier om te begin by stilte, eerlikheid en te luister sodat hul bediening later nie net uit vaardighede vloei nie, maar uit ’n lewe wat diep in God se teenwoordigheid geanker is. Hy noem vervolgens dat dit duidelik is dat dié praktiese beoefening van spiritualiteit van die uiterste belang is, nie net vir hierdie samewerkingsprogram nie maar ook vir hul praktiese jaar en uiteindelike bediening wat voorlê. Sulke inisiatiewe beaam die uitgangspunt van die opleiding van teologiestudente aan die HTK. Predikante benodig beide teoretiese én praktiese opleiding om die bediening op ’n verantwoordelike wyse te betree. Hy vertel dat dit nie bloot net ’n wegbreek aan die begin van hul praktiese jaar is nie, maar ’n doelbewuste deel van hul institusionele vorming.

Hercules verstaan die eis van hierdie protestante spiritualiteit as die volle hart, die volle siel, die volle verstand en al ons inspanning. Hy waarsku wel dat versigtigheid en onderskeiding steeds toegepas moet word op ’n individuele vlak aangesien sulke tegnieke die mens beide kan vóórberei vir ’n ontmoeting met God maar ook dikwels sy of haar aandag kan aftrek. Hy meen dus dat elkeen binne sy of haar unieke omstandighede en menswees moet bepaal watter tegnieke op sinvolle maniere tot hul spirituele lewe kan bydra.

Rolandi erken dat die stil word aanvanklik moeilik was, maar al meer noodsaaklik was soos die week verloop het. Tydens ons laaste kontemplatiewe gebedsessie het ek opgemerk dat ’n klompie van ons bly sit het nadat die twintig minute verby was. Dit was asof ons net vir nog ’n klein rukkie in hierdie nodige ruimte wou bly voordat ons weer die gejaag van die wêreld moes betree, vertel sy. Dié ervaring dui op die wesenlike impak wat só begeleidingsprogram vir studente bied wat hierdie jaar werksaam gaan wees in gemeentes. Dr Delport vertel dat verskeie temas deel gevorm het van hierdie week, onder andere, die verstaan van jou eie geloofsverhaal, praktyke van bewustelikheid en onderskeiding, geloofsontwikkeling en die spanningsveld tussen ego en bediening. Verskeie fasiliteerders het die studente deur hierdie temas begelei.

Hercules verduidelik hoe geloof as ’n individuele én gesamentlike praktyk dissipline en toewyding verg. Dit is aspekte wat onderskeidelik en deurlopend deur die week beoefen is. Hy benadruk dat sulke oefeninge eerlikheid binne ’n reflekterende spasie verg. Rolandi noem dat die teerheid haar juis konstant uitgedaag het. Sulke intense binnewerk word deur Hercules beskryf as ’n geleentheid wat ruimte skep om ’n mens daadwerklik in die praktyke te begewe. Dit is volgens hom ook ’n geleentheid om ander toekomstige predikante te ontmoet en die toewyding en entoesiasme vir bediening by hulle te kan beleef. Dié spasie het dan óók by die studente ’n vrymoedigheid geskep om mekaar te kan ondersteun deur die uitdagings wat met só afrondingsjaar gepaard gaan. Dit skep ’n tipe spilpunt, verduidelik dr Delport, ’n oomblik waar ’n mens weer leer. Ons werk begin nie by wat ons doen nie, maar by wie ons voor God word.

Te oordeel aan wat Rolandi te sê het, was die week ’n groot sukses. Elkeen van ons het Maandag as ’n spesifieke mens by Origins opgedaag, en elkeen van ons het Vrydag veranderd daar weggestap.

(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)

Die finalejaarstudente van die NHKA en NGK