Die bewering dat tussen vier- en vyfhonderd mense die erediens bygewoon het die vorige Sondag, word met ongeloof begroet: Daar was kwalik 50! skat iemand. Maar 50 ís tog tussen 4 en 500! kom die antwoord blitsvinnig.

Dit is min of meer die indruk wat verslaggewing oor die tragiese en voortslepende konflik in Oekraïne soms wek. ’n Gulsige media gryp skaamteloos na bedenklike statistieke wat hulle gevoer word rakende sterfgevalle. In lui leunstoeljoernalistiek (wat soms selfs op sosiale media steun vir inligting!) bly die waarheid noodwendig gereeld in die slag – ironies van ’n oorlog wat as’t ware voor jou oë in die palm van jou hand op ’n slimfoon afspeel. En dit is maar een voorbeeld. In die era van digitale (dis)informasie het ons dikwels geen idee of ons nog ons oë en ore kan glo nie.

Die aard van die snelveranderende medialandskap is welbekend – gerieflik, onmiddellik en opwindend, maar ook verwarrend en onbetroubaar, waar korrektheid en kwaliteit besonder maklik opgeoffer word ten gunste van minder edele oogmerke.

Dit is nie net die hoofstroommedia wat geraak word nie. Dit is ook vir kerklike media ’n fyn kuns om die voordele van die digitale media-omgewing optimaal te benut, sonder om die nadele daarvan ten prooi te val. Kerkjoernalistiek is weliswaar net so eiesoortig soos die kerk self. Die onmiddellikheid van nuus is byvoorbeeld nie die ruggraat van ’n kerkkoerant nie. Die Kerk se missie en die spesifieke nismark se leesbehoeftes, met ’n klem op indiepte-artikels, is nie aan die lot van die oomblik oorgelewer nie. Die eise van kwaliteit, waarheid en etiek behoort daarom besonder swaar te weeg.

Die lesers is natuurlik medeverantwoordelik vir die sukses van kerklike media en lesersdeelname word altyd verwelkom. Die Hervormer se lesers word aangemoedig om bydraes vir publikasie aan te bied. Goeddeurdagte, gebalanseerde kommentaar, ook krities, is van veel groter waarde as ’n klabrief.

Die kommentaarfunksie van gerespekteerde aanlyn nuusplatforms bied ’n interessante blik op die hartklop van die lesers, maar soms vertoon dit ongelukkig ’n minder-mooi prentjie. Persoonlike aanvalle en laster, en ander onvanpaste opmerkings, is aan die orde van die dag – en dit is net dié wat die moderering ontglip. Maar wat ook opval, is dat sekere lesers kommentaar lewer met min of meer die volgende strekking: Dit is nie nuuswaardig nie, waarom publiseer julle dit? Of: Snert soos hierdie interesseer my nie in die minste nie. Die ironie dat die leser die skakel (wat reeds aandui waaroor die betrokke berig handel) gevolg het en ten minste ’n deel daarvan gelees het, én nog tyd moes afknyp om sy of haar misnoeë te boekstaaf, gaan ’n mens nie verby nie. Kritiseer gerus die inhoud, maar vermy liefs ’n gemor oor die aard van bydraes wat geplaas word – die een se verveling is immers ’n ander se opwinding.

Die Hervormer is al dikwels in die verlede tereg vergelyk met ’n buffetmaaltyd waar daar altyd iets behoort te wees wat jou geval – en waar jy kan skep waarvan jy wil, en kan los wat jy wil. Die vorige redaksie, onder leiding van ’n bekwame redakteur, het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Die nuwe redaksie onderneem om daarop voort te bou en steeds ’n wye spektrum van gehaltebydraes aan te bied – van teologiese artikels, ontleding van aktuele kwessies en kerknuus tot kerkhistoriese bydraes, opiniestukke en selfs satire, en alles tussenin, en dit grafies en visueel keurig te verpak. Gesprek sal hopelik gestimuleer word waar ook ongemaklike vrae gevra kan word – maar die hoë eise van betroubaarheid en geloofwaardigheid sal prioriteit geniet terwyl daar noukeurig genavigeer word deur die mynveld van etiese, sosiale en teologiese eise en uitdagings, sowel as leserverwagtinge en -voorkeure.

’n Aangename leeservaring vir elkeen bly na alles die redaksie se hoofoogmerk. In hierdie strewe word Die Hervormer as amptelike mondstuk van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 2023 gelei deur die missie van die Kerk, naamlik om werklik Kerk van Christus te wees deur te fokus op viering, gemeenskap, diens en getuienis.

*** Hiermee verwelkom ons die nuwe redakteur, dr Johan van Staden. Ons sien uit daarna om steeds en nou nog meer met hom saam te werk! Op die foto is dr Johan saam met sy vrou, dr Sheryl van Staden, en hul kinders, Ashlyn (7) en Jenna (10).