Die opskrif van hierdie essay/opstel (in twee dele) wil die voordeel beskryf van die kerk wat buite die invloedsfeer van regeerders staan en vry is van die druk van ideologie, praktiese partypolitiek en geldmag, sodat die kerk op ’n onbevange wyse die evangelie van verlossing en ’n lewenstyl wat voldoen aan sekere standaarde, kan handhaaf.

Om dáárby uit te kom, moet eers kortliks iets oor die begrip polis gesê word. Hierdie begrip word deur Plato gebruik as ’n beskrywing vir die “stad”. Plato brei uit op die begrip en beskryf verskillende regeringsvorme vir die “polis”.

Vir Plato was die ideale stad een wat ’n spieëlbeeld van die kosmos en die individu is. Die ideale stad of polis is een wat gekenmerk word deur ’n regeringsvorm gebaseer op geregtigheid en menslike deugde. Dit sou ’n vorm van sosiale en politieke organisasie wees wat mense in staat stel om hul volle potensiaal te kan uitleef, medeburgers te ondersteun en in ooreenstemming met algemeen geldige waardes en norme te leef. Vir ons doeleindes kan ons sê: Dit beteken om beskaafd te leef.

Vir dié doel het hy ’n vyfledige klassifikasiemodel beskryf. Die beste model vir die regering van die polis was regeringskap deur wat hy noem ’n “aristokratiese model” waar die “Philosopher King” in beheer is. Tweedens is daar die sogenaamde “timokrasie” waar ’n bevoorregte elite die sterk mense/manne is wat in staat is om die waardes in stand te hou, terwyl die derde model beskryf word as ’n “oligargie” wat deur slegs ’n paar regeer word. “Demokrasie” en “tirannie” is die laaste twee modelle, en hierdie vorms beskryf hy as die demokrasie.

Ons leef, minstens in die Westerse wêreld, in ’n geestesklimaat van demokrasieë. Die stem van die meerderheid geld vir die daarstelling van die regering van die staat deur verkose persone, ongeag of hulle daartoe in staat is of nie. Die meerderheid regeer, dus is dit ONS wat regeer en omdat dit ons stem is wat bepalend is vir die regeringspersoon, kan ons doen wat ons wil.

Dit bring my by die ekstreme en gewelddadige gedrag wat in ons demokrasieë sigbaar word en skynbaar hand oor hand toeneem. Die ekstreme gedrag wat ons gedurende TV-nuusuitsendings sien, is (dalk) die teken van wanorde wat vreesloos en soos ’n besetene onder die invloed van die een of ander dwelm op ons afstorm. Wanorde het deel van ons demokratiese wêreld geword; daarmee saam gewelddadige en aggressiewe en vernietigende gedragspatrone. Dit is immers persone se reg tot vryheid wat aan hulle die mandaat gee om op te tree soos wat hulle wil. Die verontregting van ander en die feit dat mense nie meedoen aan die gedragspatroon nie, is nie van enige belang nie. So word my en jou reg tot vrede verontagsaam. Wie nie saamgaan nie, word óf geïgnoreer óf deur dwang van die een of ander aard saamgesleep.

Hierdie wanorde het sy wortels in die illusie van mag. As ek nie mag op ’n normale manier kan bekom nie, sal ek dit deur die wanorde van die sinlose en onnadenkende skare gryp en af-forseer. Dit is uiteraard ’n belangrike instrument om die Christelike lewenswyse en veral die kerk te verwring en uit te hol totdat daar net ’n leë dop oorbly.

Opvallend is die dawerende stilte van die kerk, so asof ons die ongemaklike boodskap van beheerstheid en verantwoordelikheid voor God te moeilik vind om te verwoord.

Die kerk sal dit al hoe moeiliker vind om ’n kontra-boodskap te bring teenoor die waansinnigheid van die gedrag van mense wat gedryf word deur ’n vernietigingsdrang, en hulle tot orde te roep met die alternatief: Bou op en bewaar. Hoekom so? Want die kerk leef in ’n gemaksone binne die “laer of stad” – of Plato se “polis” – en kan onmoontlik onbevange praat terwyl die kerk self soms aan hierdie wanorde en afbreek van sekere waardes en etiese sisteme deelneem.

As kerk kan die gelowiges die Waarheid (met ’n hoofletter) dra, want die kerk is nie veronderstel om die handlanger van politieke mag of geldbaronne te wees nie; ook nie van ’n politieke sisteem of ideologiese raamwerk nie. (Tog jammer dat dit soms wel gebeur dat mense, hetsy groepe of individue, die kerk wil kaap vir eie belang.) Die tragedie is nie die pogings van mense nie, maar die gewilligheid om toe te gee aan hierdie pogings.

Ongelukkig is daar ook doelbewuste pogings uit kerklike kringe om saam met ideoloë, politici en geldbaronne in die bed te spring en snoesig onder die gemaklike duvet van mag en invloed rustig te snork, terwyl die mense van ons tyd en wêreld smag na ’n spirituele en geloofstuiste waarin hulle veilig in God se teenwoordigheid kan bestaan. Maar laat ons nie ons koppe nou hieroor breek nie – daar is ’n ander perspektief wat ek graag na vore wil bring.

In die Ou Testament is daar ’n belangrike metafoor of beeld waarvan, dink ek, die kerk van die Here kennis moet neem. Die kerk is eintlik deur die genade van God bestem om buite die laer of die kamp, alhoewel aan die grens daarvan, te funksioneer. So sal die kerk nie onder druk van wie ook al swig nie.

In Eksodus 33:7 lees ons: Moses het ’n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan.

Ek dink onwillekeurig aan die kruis buite die stadsmure.

(Lees in die volgende aflewering meer hieroor.)

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link