In Eksodus 33:7 lees ons: Moses het ’n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan.

Ek dink onwillekeurig aan die kruis buite die stadsmure.

In Moses se geval het hy die tent van ontmoeting letterlik buite die Israeliete se kamp gaan opslaan. In ons perspektief kan ons dit interpreteer as sou die Kerk – ook ’n ruimte van ontmoeting met God (maar nie die enigste ruimte nie) – veronderstel wees om buite die laer te funksioneer, dus om nie deel te wees van die gewoel en gewerskaf van die alledaagse nie en daarom nie veronderstel is om daardeur op sleeptou geneem te word nie. Dit beteken nie dat die kerk op ’n afstand staan en ’n Pontius-Pilatus-handewas-houding inneem nie, maar juis om profeties en gehoorsaam ’n deurdagte perspektief op die lewe in die “polis” in te neem, waar te neem en profeties in te tree volgens die wil van God. (Natuurlik is die laaste stelling problematies vanuit ’n teologiese hoek, maar ek laat dit vir eers daar.)

Geen ander organisasie of groepering geniet hierdie soort vryheid nie. Die kerk, by monde van gelowiges (wat gesamentlik die kerk uitmaak), kan juis op so ’n manier die charismata (die gawes) wat aan die kerk geskenk is, gebruik om die lig van God se genade, sorg en liefde op die wêreld (mense in die wêreld) te laat skyn; om die helende krag van die evangelie in ’n stukkende wêreld wat dors na geregtigheid, te dra: Kom na my toe.

Die optrede van Moses was of kon dalk die wortel gewees het van die latere profetiese tradisie in Israel. ’n Tradisie wat merendeels los gestaan het van die invloed van die “polis” of die regeerder. Hierdie soort posisionering van die kerk is radikaal anders as ’n liberale en sekulêre gedagtegang dat alles op kennis moet berus, en dit geld dan ook die kerk. So ’n posisionering van die kerk is ook anders as ’n konserwatiewe perspektief op kerkwees wat ’n soort beheptheid het met grense en strukture; met orde en streng beheer. Die evangelie en die profetiese roeping van die kerk funksioneer anders. Dit is gebou op ’n “oordenkende” manier van kerkwees in die wêreld, gegrond in die verhouding wat God met mense tot stand bring en waarvan die kerk die profetiese funksie moet vervul. Dit is ’n oordenkende en kontemplatiewe manier van leef en in die wêreld wees wat gegrond is in die deernis van God met die wêreld. Hierdie leefstyl van die kerk is nie ’n leefstyl “van die wêreld” nie – dit is juis waarvan die kerk moet losraak.

Die vroeë kerk het in hierdie vryheid geleef tot die vierde eeu toe die Christendom haarself oorgegee het aan die magte van die destydse magtige empires. Hier het die vrye bestaan van God se mense binne die ruimte van sy teenwoordigheid (Immanuel) plek gemaak vir ’n pakt met die wêreld. Die kerk het van buite die laer na binne die laer gemigreer, en op die lang duur is die kerk se integriteit vernietig en haar profetiese roeping uitgehol: Ons leef nou maar soos die wêreld. Buite die laer, dus as die kerk van die Here sonder die bagasie van verbintenisse met die magte van die wêreld kan bestaan, sal ons weer leer wat dit beteken om in die denk- en geestesklimaat van God se verhouding met ons – die kerk in die wêreld – te leef; om die wil van God te soek sonder dat die dinamika van die strominge, binne die laer, die kerk se roeping uithol en tot niks wil afmaak.

Om vanuit ’n posisie van mag met die ondersteuning van die empire te praat, is altyd baie gerieflik. Jy kan amper nie ’n fout maak nie, solank dit in belang van die maghebber is – of dit nou ’n geldmag of ’n politieke mag is.

Om te profeteer wanneer jou stem ’n minderheidstem is, is geen maklike taak nie. Maar feit is – en dit is juis die punt van die redenasie – dat die profete (op enkele uitsonderings na) en uiteindelik Jesus self uit die tent van samekoms, buite die laer, buite die politiek, buite die polis (stad) en buite die plek van mag was.

In Hebreërs 13: 13-14 lees ons die volgende: Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

Baie mense beskou godsdiens as ’n soort kosmiese eier wat universele waarheid bevat. Hierdie soort perspektief verwag dat daar ’n waarheid gaan uitbroei wat vir alle tye geldig is. Ongelukkig is daar krake in hierdie “eier” wat soos die tentakels van ’n seekat in alle rigtings uitsprei en vasgryp waaraan vasgegryp kan word – ons leef in ’n kokon, elkeen sy eie, toegespin soos ’n sywurm sou maak. In hierdie kokon is daar derduisende illusies en verleidings en bedrog. Hierdie gewaande waarhede is deurtrek van nihilisme en bedrog wat uit ons na-moderne samelewing spruit, een daarvan die ontkenning van beskaafdheid: Dit is ’n ander soort pandemie. Die betekenis van woorde en die Waarheid is op die spel solank die kerk nog ter wille van die gerief daarvan steeds daarna op soek is om verknog binne die polis te leef.

Die kerk moet met Jesus beweeg in ’n ritmiese dans op die maat van genade en waarheid, die liefde van die Vader en die teenwoordigheid van die Gees. Dit kan alleen gebeur wanneer ons opnuut weer die diepte en die pyn van verwerping van die Mens aan die kruis ons eie maak en besef dat dit ook ons pyn is wat aan die kruis agtergebly het. Dit moet gedra word deur die geloof dat ons nou hier is en die vertroue dat die Een wat ons geroep het om nou hier te wees, ons deur die hier en die nou sal dra sodat ons kan volhou om ons roeping uit te leef.

Eksodus 33: 10-11 voorsien ons van die volgende beskrywing: Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

Die roeping van die kerk in die wêreld is om toe te tree tot God se ontmoeting met ons, met sy kerk, sodat ons iets van die waarheid, hoe divers dit ook al in individue se gedagtes mag wees, die wêreld in kan dra soos ’n profeet van ouds wat die stem van die Here laat hoor. Dit gaan juis oor hierdie ontmoeting en die gevolge daarvan vir elke individu en vir die kerk in sy geheel. Die ruimte van ontmoeting is ’n gawe van God. Die ontmoeting vind plaas buite die invloed van die “polis” waar waansin hoogty vier en waar die wanorde van die massa – die meerderheid – ongebreideld die samelewing op alle terreine op sy knieë dwing en waar alle beskaafdheid vernietig word.

Die ongemaklike boodskap van die pyn van die Here is juis die helende salf wat die meerderheid en sy regeringsvorme wat slegs verwoes, op sy knieë moet dwing om die genadeboodskap van die kruis en die oop graf te verwelkom en te omarm. Hierdie ongemaklike boodskap moet in die laer ingedra word sodat elkeen in die massa minstens kan hoor en dan die geseënde teenwoordigheid van Immanuel kan wedervaar.

Optimisties? Natuurlik is dit optimisties!

Is dit haalbaar? As die dawerende swye van die kerk van die Here verbreek word, sal die stem van die Heer van die kerk in die laer hoorbaar word.

Wie weet? God alleen weet…

(Hierdie opstel is geïnspireer deur die werk van Richard Röhr en Scott London, aan wie ek dank verskuldig is.)

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link