In die era van elektroniese media is dit van die uiterste belang dat die kerk, ook ons Kerk, ’n internetvoetspoor moet hê. Daarom is die totstandkoming van GLOmedia.tv ’n baie groot oomblik in die lewe van Afrikaanse gelowiges. Die kerk, ook ons Kerk, het nou weer die geleentheid om haar stem in die wêreld te laat hoor.
Ek het grootgeword met die stem van die kerk, eers op die radio en later op TV, met Sondag-eredienste wat ook uit gemeentes van ons Kerk uitgesaai is, en die daaglikse godsdiens in die aand. Dit was ’n ritueel in die Sauers se huis voor die koms van televisie om saans in ons ouers se kamer op die vloer te sit en die godsdiens, nuus en vervolgverhaal te luister. Later het ons op Sondaeaande eredienste uit Hervormde gemeentes gesit en kyk op TV.
Soos die tyd aangestap het, het die voetspoor van ons Kerk en ander Afrikaanse kerke stelselmatig verdof. Dit is baie jammer, want ek onthou die goeie terugvoer wat ek van reg oor die wêreld gekry het die kere toe ek wel in die verlede oor RSG eredienste kon uitsaai.
Maar ek onthou ook die kere dat ek wel na dit wat elektronies aangebied word, gekyk of geluister het, en meestal teleurgesteld was oor die tipe teologie wat beoefen word.
In ons wêreld is die klem baie sterk op die elektroniese. My kinders kan, terwyl ons oor iets gesels, in ’n oogwink al die inligting gaan google. Verder word hul lewens totaal deur sosiale media en goed soos YouTube gevul en beïnvloed. In hierdie wêreld is dit uiters belangrik dat die Kerk se stem ook op hierdie platform gehoor word. Ek is opgewonde! Ek hoop net dat die mense van ons Kerk hierdie geleentheid gaan aangryp. Belê in jou kinders en kleinkinders se geloofservaring sodat hulle met stof wat pas by ons verstaan van God en sy liefde en genade, gevoed kan word. Ek hoop werklik dat GLOmedia.tv ’n reusesukses sal wees.
Die Hervormer wil ook in hierdie jaar waarin ons saam met die Bybelgenootskap hul 200ste bestaansjaar vier, ons beskeie bydrae maak ten opsigte van beter Bybelkennis. Vir baie jare reeds hoor ons hoe kollegas telkens hul bekommernis uitspreek oor mense se gebrekkige Bybelkennis. ’n Mens kan dit amper nie glo nie, aangesien feitlik elke kind en volwassene wat ek ken die Bybeltoepassing op hul slimfone afgelaai het. Om nie eens te praat van al die Bybels wat op bedkassies en boekrakke staan nie. Wat het verkeerd geloop? Hoekom lees mense nie die Bybel nie? Wat het die kerk, ons Kerk, verkeerd gedoen dat mense nie eens meer weet wat ’n gelykenis is nie? Wat kan ons doen om beter algemene Bybelkennis te verseker?
Die redaksie het besluit om oor die volgende paar uitgawes die middelblad te gebruik vir ’n tydlyn van die Bybel. April en Mei se uitgawes sal die tydlyn van die Ou Testament en Junie dié van die Nuwe Testament bevat. Ons hoop dat dit ’n bruikbare hulpmiddel sal wees wat uitgehaal en in kategeselokale opgesit kan word om te help dat ons kinders ’n beter verstaan van die Bybel sal kry.
In hierdie uitgawe deel prof Jaco Beyers in ’n artikel getitel Nadenke oor sending ’n waardevolle inset om ons as gewone lesers te help om te verstaan wat met die woord sending be-doel word. Ons leef in ’n tyd in die kerk waar die term missionaal ’n gonswoord geword het wat gereeld in publikasies verskyn en op vergaderings gebruik word. ’n Mens kry soms die indruk dat baie mense nie ’n idee het van wat nou eintlik bedoel word nie. Om hierdie rede is prof Beyers se artikel nie net interessant nie, maar ook tydig binne die huidige debat in die Kerk.
Nog ’n spesiale bydrae kom van prof Bieks Beukes. In ’n skrywe getitel Ek is oud… deel hy iets van sy ervaring van ’n lyf wat stadiger word. Hy wil hê dat lesers moet verstaan dat ouderdom net ’n getal is. Ouderdom beteken nie dat jy moet ophou werk en lewe en droom nie. Aftreeouderdom van 65 is in elk geval net ’n wêreldse reëling wat weens praktiese redes gemaak is. Dit beteken nie dat jou lewe oor is die dag as hulle jou groet by die werk nie.
In hierdie uitgawe kyk ons ook weer na die werk wat in studentegemeentes gedoen word. Ons sien watter rol die gemeentes in die lewe van die studente speel en ook hoe die studente kerk en godsdiens beleef.
Lekker lees!