Die Covid-19-krisis het ons gekonfronteer met wette, regulasies en voorskrifte. Baie van ons wat nooit daarin belanggestel het om die Staatskoerant te lees nie, het dit begin doen om die wette en regulasies te probeer verstaan. Sommige van hierdie wette is vir ons irrasioneel, ander is sinvol, nog ander laat ons net die kop skud – om nie eens van die inkonsekwensie van die toepassing daarvan te praat nie!
Wette en voorskrifte is egter so oud soos beskawing self. Ook ons Bybel is vol daarvan. Hoeveel van ons lees nog Levitikus met aandag, of Deuteronomium met die doel om God se wil te probeer verstaan? Jesus het ons immers vrygemaak van die wet. En tog lees ons in ’n post-apostoliese brief van die koninklike wet – nomos basilikos (Jak 2: 8) – en dat dit goed is om dit te onderhou.
Die koninklike wet, soos Jakobus dit noem, is om jou naaste lief te hê soos jouself. Vir Jakobus is hierdie liefde (agape) die werk van geloof, ’n vereiste van geloof, en word dit moontlik gemaak deur geloof. Liefde is om ons plig teenoor ons naaste na te kom, en bevestiging daarvan dat almal wat God liefhet, my broers en susters is, my naaste – al is hulle verrinneweer, haweloos, verwaarloos.
Merkwaardig genoeg is Jakobus nie die gewildste boek in die Nuwe Testament nie, en beskou sommige die boek as amper humanisties. Miskien is dit omdat Jakobus sê dat geloof, as dit nie op dade uitloop nie, dood is. Maar sê hy regtig iets anders as sê maar Paulus, of Johannes? Sê hy werklik iets anders as Jesus?
Ons, as hervormers, kinders van die reformasie, vind sterk aansluiting by Paulus. Deur Jesus se offer aan die kruis is ons immers nou vry van die bande wat die wet meebring. Die Joodse wet en godsdienstige reëls is vir Paulus waardeloos. Vir hom staan geloof voorop – geloof wat deur liefde (agape) tot aksie kom (Gal 5: 6), wat deur liefde geaktualiseer word.
God stort sy liefde deur sy Gees in ons uit (Rom 5: 5). Ons is hierin passief, maar die Gees bevry ons tot aksie, tot liefde. Die vryheid wat ons in Christus het, word vervul in liefde. Die doel is dat jy, as vrygemaakte mens, jou lewe in liefde gee vir jou naaste – mekaar se laste help dra. En dit is hierdie liefde wat die huidige epog deurbreek na die toekoms, wat God se toekoms vir ons alreeds sigbaar maak, al het dit nog nie aangebreek nie. Wanneer Paulus die driedeling van geloof, hoop en liefde gebruik, is liefde vir hom die grootste (1 Kor 13: 13). Want geloof en hoop in hierdie epog verander in werklikheid en vervulling, maar liefde bly liefde.
Ons verloor soms ons besef van hoe radikaal Jesus as aardse mens werklik was. Hy het die sabbatswette en reinheidsvoorskrifte herhaaldelik verontagsaam. Hy het met sondaars en randfigure in die samelewing gemeng. Hy het hulle aanvaar deur saam met hulle te eet. Hy het liefde betoon aan kinders, onrein vroue en heidene. Om die terme in die eerste paragraaf te gebruik: Die Fariseërs en Skrifgeleerdes sou sekerlik gedink het Jesus is irrasioneel. Hulle sou die kop vir hom geskud het.
Wanneer dit kom by wette en reëls, of gebooie, staan liefde vir God voorop by Jesus. Maar hierdie liefde vir God vereis dat jy jou naaste liefhet soos jouself. Wat Jesus doen, is om naasteliefde vry te maak van die binding van die eie groep. Jesus fokus naasteliefde nie op die mede-Jood nie, maar op die hulpelose man langs die pad. Hy verander die wetlike vraag oor wie kwalifiseer as my naaste, in ’n saak van die hart met ’n dringendheid waarvan nie ontsnap kan word nie. Op die beslissende oomblik is daar twee wat ver langs verbystap, wat hul plig teenoor hul naaste versaak. Maar die Samaritaan doen wat op die beslissende oomblik gevra word. Hy doen wat gedoen moet word, en wat hy in staat is om te doen.
Jesus het ’n nuwe orde in die mensdom gebring. Hy het vergifnis van sonde gebring, waardeur ’n oorvloedige liefde ontsluit word by hulle wat dit ontvang. Hierdie oorvloedige liefde word gegee sonder om iets terug te verwag. Dit word uitgestort, al is daar geen hoop op terugbetaling nie. Daar is geen beperking aan die liefde en barmhartigheid wat bewys word nie – selfs nie eens teenoor dié wat jou haat nie. Wanneer jy Jesus volg, aanvaar jy die vyandigheid van die wêreld gewillig en self-opofferend. Die veroordeling wat die wet meebring, verander in die vryheid van liefde vir God en jou naaste.
Wanneer ons God só liefhet, word dit ’n gloeiende passie waardeur ons gelowig volhard en onwankelbaar liefde aan ons naaste bewys, te midde van elke uitdaging, krisis, ramp of nood wat ons mag tref.
Die grootste krisis waardeur mense gaan, is om gekonfronteer te word met die dood. En vir Jesus was dit sekerlik geen uitsondering nie. Die Getsemane-vertellings spreek vanself. Maar tog, wanneer Jesus weet die tyd van sy lyding en sterwe is voor die deur, gee Hy die liefde as nuwe gebod. In Johannes 13: 34-35 is Jesus aan tafel met sy dissipels die aand voor sy kruisiging. Hy praat met hulle openlik oor wat vir Hom voorlê, en gee hulle ’n nuwe gebod – om mekaar lief te hê. En Matteus gee Jesus se opdrag tot liefde en barmhartigheid as die laaste deel van Jesus se laaste toespraak – die hoogtepunt van sy lering voordat Hy Jerusalem ingaan vir sy lyding en kruisiging (Matt 25).
En midde-in die huidige Covid-19-krisis, word ons gekonfronteer met siekte en dood. En tog, midde-in hierdie krisis, sien ons hoe gelowiges hul geloof deur liefde sigbaar maak. Die geskiedenis is vol verhale van gelowiges wat, in tye van krisis, geloofsonderskeidend opgetree het deur liefde te bewys – deur liefde te lééf! Geloof, wat deur liefde oorgegaan het in dade, was so kragtig dat die getal volgelinge van Jesus gegroei het van ’n klein handjievol mense in Jerusalem tot miljarde mense oor die wêreld.
Die huidige tyd van krisis en nood word gekenmerk deur gelowiges wat selfverloënend liefde bewys, wat barmhartigheid bewys aan ander, maak nie saak wie hulle is nie. Wat nie gestop word deur irrasionele wette of regulasies nie, maar wat aanhou om die koninklike wet te gehoorsaam.
Die koninklike wet is nie ’n rigiede reël nie, maar ’n leefwyse, ’n kultuur. Dit is die manier waarop ons lewe in die koninkryk van God. Dit is ’n vryheid wat moontlik gemaak word deur Jesus se oorwinning oor die sonde en dood. Dit is beslissende optrede wat moontlik gemaak word deur die krag van die Heilige Gees. Dit is die sigbaarmaking van God se liefde vir die wêreld!
En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde!
(Ds Gerhard Stoltz is sekretaris van die Algemene Diakensvergadering)
