Daar is eindeloos meer as net die sigbare van hierdie wêreld en lewe. Daar is ’n transendente werklikheid oorkant, anderkant alles wat ons hier ken en weet. Dit [hierdie boek] verwoord ’n vooruitblik op die Kerk se verwagting van die heerlikheid van God wat straks ten volle geopenbaar sal word maar wat nie deur die mensdom geken en gevrees, verwag en eerbiedig word nie. Só verwoord dr DJC van Wyk (sr) die kern van sy boek, Die Koninkryk van God: Perspektiewe op die eindtyd.
In die voorwoord van die boek beskryf dr Van Wyk dit as ’n noodkreet wat uitgaan na die Kerk en teologie in hierdie 21ste eeu ná Christus. Hy roep die Kerk, teoloë en predikers op om opnuut te luister na die eskatologiese toonhoogte van die evangelie van Jesus Christus. Die Here kom! Die koninkryk van God kom! Sy pleidooi is dat hulle sal ontwaak en aandag gee aan die Bybels-profetiese aanduidings van die koninkryk wat op hande is. Dit is die belofte van God se volkome heerskappy. Die koninkryk het reeds in Christus gekom, maar het nog nie ten volle aangebreek nie. Dit kom nog in volmaaktheid – die wederkoms van Christus, die nuwe hemel en aarde, die ewige heerlikheid van God. Hierdie spanning roep gelowiges op tot waaksaamheid, bekering, hoop en heilige erns.
In die boek tree dr Van Wyk in kritiese gesprek met ’n tydsgees waarin die fokus van die moderne teologie en geloof verskuif het: weg van God en sy groot dade na die mens en sy verhoudings – weg van die transendente, die wêreld anderkant die sigbare; weg van die ewigheid van God na die duskant, die sigbare hier en nou. Daarom het prediking en geloofsgesprek oor die wederkoms van Christus, die opstanding en die lewe ná die dood in die Kerk stil geword. Ons leef in ’n tyd van afvalligheid, en van verwêreldliking wat van die koninkryk ’n karikatuur maak. Die laaste woord oor hierdie wêreld is egter nie chaos nie, maar Christus. Die koninkryk van God is die verskil tussen lig en duisternis, tussen lewe en dood, tussen ’n sinvolle en ’n sinlose bestaan.
Die boek getuig van selfstandige denke en navorsing. Die skrywer was nie rekenaarvaardig nie, en kon daarom geen internetsoektogte doen of van kunsmatige intelligensie gebruik maak nie. Die Bybel was sy primêre bron. Die hele boek getuig van ’n eerlike en diepgaande omgang met die Skrif, asook verantwoordelike eksegese en hermeneutiek waardeur hy die Woord laat spreek oor die komende koninkryk van God, die beloftes wat dit voorspel, die eindtyd en die ewige lewe. Naas die Bybel het hy van kommentare en aktuele publikasies gebruik gemaak. Hy beklemtoon dat hy nie te selfversekerd is om met te veel sekerheid finaal oor hierdie moeilike geloofsake te praat en te skryf nie. Daarom gaan hy met versigtigheid en nederigheid met hierdie gelaaide temas om.
Die boek het ’n sterk eksistensiële karakter. Dr Van Wyk het elke woord met die hand, met pen op papier geskryf. Aangesien sy handskrif die afgelope paar jaar nie duidelik leesbaar was nie, het hy die teks voorgelees terwyl sy vrou, Frieda, dit op die rekenaar getik het. Sy het dit dan uitgedruk, en hy het dit geproeflees en geredigeer. Hy het dan vir haar die gekorrigeerde weergawe gelees terwyl sy die veranderinge op die rekenaar aangebring het. In die agtergrond van hierdie spanpoging het Mozart, Beethoven of gewyde musiek altyd sag gespeel. Só het die boek gedurende die laaste twee jaar voor dr Van Wyk se dood vorm aangeneem. As sy seun het ek baie ure saam met hom deurgebring waartydens ons die inhoud en verskillende temas bespreek het. Teen die agtergrond van hierdie gesprekke was my pa se stryd met liggaamlike verswakking en veroudering, fisieke pyn en sy eie worsteling met die dood voortdurend aanwesig, maar sy geloof was rotsvas. Hy het die Bybel geglo, en hy het geglo wat hy geskryf het. Tog was dit, eg menslik, nie sonder eksistensiële worsteling nie. Tydens die ses maand lange siekbed voor sy dood het ek op ’n keer gemerk dat hy neerslagtig en ietwat moedeloos was. Ek het hom gevra of hy dan nie alles glo wat hy self geskryf het nie. Sy reguit antwoord het my aanvanklik verras. Hy glo, het hy gesê, maar daar is tog die tye van wanhoop. Ons kon daarna sinvol verder praat oor die feit dat geloof nooit volmaak en sonder vertwyfeling is nie – nie eens vir ’n predikant, kerkleier, teoloog en iemand wat met soveel krag ’n boek oor die lewe na die dood skryf nie.
Die boek was, wat vorm en inhoud betref, klaar toe die skrywer aan die begin van Mei 2025 ernstig siek geword het. Die manuskrip moes nog finaal geproeflees en geredigeer word, waarna die bladuitleg gedoen moes word voordat dit persgereed sou wees. Voordat dit kon gebeur, het sy gesondheid egter drasties verswak. Hy het tien dae in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal deurgebring. Ná sy ontslag was hy deurmekaar en gedisoriënteerd en aanvanklik het hy geen belangstelling in die boek getoon nie. Dit het vyf maande lank so voortgeduur. Toe was daar ’n skielike en wonderbaarlike herstel. Hy was helder van verstand en het ’n dringende dryf gehad om die boek finaal te redigeer en te laat uitgee. Die familie het gehelp en binne twee weke is die boek na die drukkers gestuur. Die dag voordat die boek van die drukkers af teruggekom het, het dr Van Wyk ’n massiewe beroerte gehad. Ons weet nie of hy ten volle kon besef dat hy die boek in ontvangs geneem het nie. Drie dae later is hy oorlede.
Dié boek bied diepgaande teologiese besinning oor die finale koms van die koninkryk van God, die wederkoms en die lewe ná die dood. Dit kan predikante handig te pas kom by preekvoorbereiding en Bybelstudie. Dit is egter ook toeganklik vir algemene lesers wat prikkelende leesstof oor hierdie onderwerpe soek. Dan sal die boek in besonder nadenke bied en vertroosting bring as getuienis en worsteling van ’n verganklike, sterflike mens wat die Woord ernstig geneem het dat hierdie lewe nie met die dood eindig nie, maar dat ons blik gerig moet wees op die werklikheid anderkant die graf – die lewe in ewige heerlikheid by God.
(Dr Daan van Wyk (jr) is leraar van Gemeente Van der Hoff)