In 2008 gee my goeie vriend, klasmaat en kollega ds Thomas Joubert (aan sy tydgenote ook bekend as Sparks) vir my ’n klein boekie. Dié boekie sou ek weer en weer lees, veral ná my eggenote Hanlie in 2011 vanweë kanker oorlede is. Dis Randy Pausch se boek The Last Lecture. Pausch, ’n professor in rekenaarwetenskap, is gevra om deel te neem aan ’n reeks lesings waarin dosente ’n lesing sou gee oor dit wat hulle graag sou wou sê as hulle geweet het dat dit hul laaste lesing is. Pausch het die uitnodiging aanvaar, maar voordat hy die lesing kon lewer, is hy gediagnoseer met pankreaskanker. Hy het sy lesing op 18 September 2007 gelewer en is op 25 Julie 2008 oorlede. Dit was toe in effek sy laaste lesing.

Op 3 Junie 2025 stuur Thomas vir my ’n e-pos. Hy skryf graag en baie goed, maar is altyd baie beskeie. Hy skryf: Hier is iets meer vir Blitspos of Hervormer. As julle dit kan/wil gebruik laat weet my dan werk ek daaraan ten spyte van my vliegtuigverkouedowwekop. Ek konsulteer met dr Johan van Staden, redakteur van Die Hervormer, en ons besluit om vir Thomas te vra om ’n artikel te skryf vir die voorblad van die Augustus-uitgawe en om ’n fotobeeld van hul oorsese reis te maak vir die middelblad van die September-uitgawe.

Thomas stem in, maar sê dat hy nie dadelik sal kan skryf nie want sy kop is nog dowwerig. Op 22 Junie laat weet hy: Ons dokter het hier ingeloer en my tydsperspektief reggestel, nou gaan dit sommer baie beter met my. Vier dae later bel Thomas en sê dat hy weer sukkel. Ons kom ooreen dat hy net die September-middelblad sal doen om hom sodoende genoeg tyd te gee om te herstel.

Op 4 Julie kom die verpletterende nuus: Ds Thomas Joubert se neuroloog en vier ander neuroloë het na al die toetse, simptome en data gekyk en al vyf stem saam dat dit Creutzfeldt-Jakob-siekte is. Daar is geen behandeling daarvoor nie. Creutzfeldt-Jakob-siekte (CJD) is ’n seldsame, degeneratiewe breinsiekte wat vinnig vorder en dodelik is. Dit word veroorsaak deur abnormale proteïene genaamd prions wat die brein beskadig en lei tot geheueverlies, gedragsveranderinge en verlies van koördinasie.

Vrydag, 11 Julie, laat weet Dawie, Thomas se seun: Twaalfuurkop is in wolke gehul. My pa het net ná 5 rustig gesterf, ons gesin was by hom. Twaalfuurkop is een van die koppe in die berge rondom Swellendam (sien foto hiernaas). Thomas het dié koppe gereeld uitgeklim.

Ds Rudi Janse van Rensburg van Gemeente Swellendam waar Thomas lank die predikant was, sê vir my dat Thomas baie opgewonde was dat ’n artikel van hom op die voorblad van Die Hervormer sou verskyn en ook oor die fotoblad wat ons in die vooruitsig gestel het. Hier is Thomas se artikel. Hy het soos altyd vir Ronel, sy eggenote, gevra om dit na te sien. Dis sy laaste artikel:

Ons was in Mei in Boedapest, Hongarye. Ons het die Sondagoggend ver gaan stap en met die terugkom naby ons blyplek by ’n Hongaarse Hervormde Kerk (Church of Homecoming) verby gestap en gesien die diens begin oor twintig minute. Ons besluit ons gaan luister en gaan sit buite op ’n bankie en wag. ’n Man met ’n oorpak aan het gou die trappe voor die kerkingang gewas. Ons het ingestap en ’n vriendelike lidmaat het ons verwelkom net soos dit in Sannieshof sou gebeur het. Die eerste indruk van die kerkruimte was nugter en bekend en ons het tuis gevoel. Daar is meer kleur in die vorm van vlae en heraldiese wapens in die gebou. Wat ons opgeval het, is dat daar meer jonger mense as oueres in die diens was. So driekwart het kerkklere aangehad, ander was meer informeel aangetrek.

Voor die preekstoel was ’n ronde tafel met iets onder ’n wit doek. Daar was ’n wye ring stoele in ’n halfmaan. Later het daar ’n klompie jongmense met enkele kindertjies gaan sit.

Die orrelvoorspel het myns insiens nie reg laat geskied aan die groot orrel met 218 orrelpype nie. Die mikrofone is verstel, die koster het die liedere op die bord verander. Die man met die oorpak het intussen sy werkklere vir ander werkklere verruil – ’n toga sonder ’n bef. Hy het onder pragtige orrelspel saam met twee ouderlinge ingestap, op die preekstoel geklim en die seën uitgespreek, sonder om sy hande uit te steek.

Hy het toe afgeklim en by die tafel gaan staan en gepraat, die doopformulier voorgedra en gebid. Hy het drie kleuters, twee seuntjies en ’n dogtertjie van dieselfde gesin gedoop. Gedoop so met water uit ’n metaalbekertjie en ’n bakkie waarin hy die water onder die kind se ken opvang. Ongelukkig kon ek nie alles mooi sien nie. Ná die doop het hy die seën met hande opgehef oor kinders, ouers en peetouers uitgespreek. 

Die predikant het weer op die preekstoel geklim en begin preek. Die Skriflesing was kort. Hy het beredeneerd en oortuigend gepreek. Die lidmate wat ek kon sien, het aandagtig geluister. Natuurlik het ons nie ’n woord verstaan nie, behalwe ‘Jézus’. Die atmosfeer was tog bekend. Die gewyde atmosfeer en die nederige houding van die dominee en die mense het aan God die eer gegee. Die eerste lied se inleiding het bekend geklink, dit was ons Gesang 354 (dankie prof A van Selms en ds Attie van der Colf). Ronel het dit sag saamgesing in Afrikaans. ‘O, Christus ons verlange…’

My keel het so toegetrek dat ek nie kon sing nie. 

Ná die preek het die lidmate die Apostolicum hardop saam opgesê. Ek kon ‘Maria’ en ‘Pontius Pilatus’ hoor en die gemeenskap van die heiliges het ek baie duidelik gevoel. 

Ons moes ongelukkig tydens die slotsang uitstap vir ’n ander afspraak en kon nie met die lidmate of dominee gesels nie.

Die geloof kom deur die hoor van die Woord in ’n taal wat jy verstaan. Om dit aan moedersknie in jou moedertaal te hoor, is sekerlik die wenslikste. Of in jou moedertaal op Pinksterdag. 

(Ds Etienne Fourie is emeritus en leraar in Gemeente Benoryn)