Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) se 27ste Algemene Vergadering (AV) het op 14 tot 23 Oktober 2025 in Chiang Mai, Thailand, plaasgevind. Die NHKA was bevoorreg om ’n afvaardiging te kon stuur om aan hierdie ekumeniese vergadering deel te neem. Drr Wouter van Wyk, Marina Kok-Pretorius en mnr Johan Hattingh het die NHKA by die vergadering verteenwoordig.

Volhard in jou getuienis – ’n boodskap van hoop en bemoediging

Die tema van die AV is uit Hebreërs 12: 1-3 geneem met die fokus op vers 1: Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het … laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop… (AFR83). Dit het van die begin van die vergadering af geblyk dat hierdie tema uiters relevant is vir die tyd en omstandighede waarin die AV byeenkom.

In die afgelope agt jaar sedert die vorige AV het verskeie dinge in die wêreld gebeur en verander. Ons kan maar net dink aan die langdurige impak van die Covid-pandemie, verskeie oorloë en konflikte wat oor die wêreld woed, die opkoms van kunsmatige intelligensie, politieke populisme, ekologiese uitdagings en die voortgaande vlugtelingkrisisse. Die AV het melding gemaak van hierdie en ander uitdagings wat lidkerke in hul plaaslike kontekste in die gesig staar.

Binne hierdie klimaat het die inhoud van die vergadering, die daaglikse openinge en Bybelstudies sowel as die gesamentlike eredienste getuig van die kerk se roeping om ’n profetiese stem te wees wat voortgaan om die evangelie onverskrokke in die tyd en ruimtes waarin ons kerk moet wees, verkondig. Hoewel die lys van uitdagings wat lidkerke regoor die wêreld beleef oorweldigend is, het die vergadering nietemin met hoop en moed uitmekaargegaan. Almal was vasbeslote om deel te neem aan dit waarmee God reeds in die wêreld besig is, naamlik missio Dei.

Die dinamika en struktuur van die AV van die WGGK

Die inrigting van die AV was van so aard dat daar op verskeie vlakke sinvol aan die vergadering deelgeneem kon word.

Die eerste twee dae van die vergadering het uit spesifieke werkswinkels bestaan waar daar ruimte vir toeligting en gesprek oor bepaalde sake was. Daar was onder andere ’n jeugkonferensie, ’n vrouekonferensie, en werkswinkels oor ekonomiese en ekologiese geregtigheid, sinodale funksionering asook oor mense wat met gestremdhede leef.

Vanuit hierdie werkswinkels het bepaalde voorstelle gevloei wat aan die AV voorgelê is. Nadat die AV na voorstelle en verslae geluister het, is die voorstelle en verslae na die verskeie onderskeidingsgroepe (discernment groups) gestuur vir evaluering en amendemente. Die voorgestelde amendemente wat vanuit die kleingroepe gekom het, is deur die formuleringskomitee oorweeg wat die geredigeerde voorstelle weer aan die AV voorgelê het vir oorweging en finale besluit via ’n konsensusstelsel.

Hierdie struktuur van luister, onderskeiding en konsensus het geleentheid gebied vir afgevaardigdes om nie net in die groot vergadering deel te neem nie, maar om ook in kleingroepverband intensief gesprek te voer oor die teologiese en praktiese implikasies van voorstelle. Hierdie proses was egter nie volmaak nie, in ag genome dat die omvang van die vergadering dit bemoeilik het om elke afgevaardigde tevrede te stel. Tog het die struktuur ruimte geskep vir ’n dinamika waar verskeie – dikwels teenoorstaande – stemme gehoor kon word.

Om hervormd te wees, is om ekumenies te wees

Só lui die verslag van die uittredende voorsitter van die WGGK, ds Najla Kassab. Reformatoriese kerke is van die begin van hul geskiedenis af deur hul onderlinge verbintenis met mekaar gekenmerk. Histories gesproke is die reformasie ’n beweging wat regoor Europa plaasgevind het en die verskeie reformatore, soos Luther, Zwingli en Calvyn, was self voortdurend in gesprek met mekaar. Daarom kan kerke in die reformatoriese tradisie nie in isolasie leef en bestaan nie. Vanuit ons reformatoriese wortels is ons geroep om ons getuienis van die evangelie uit te leef, om dit verantwoordbaar en verantwoordelik te doen en om die vryheid van spraak te hê om ons profetiese stem te laat hoor.

Daarom is ekumeniese deelname en betrokkenheid ononderhandelbaar. Om lidkerk van ’n ekumeniese liggaam soos die WGGK te wees, verseker dat die NHKA op hoogte van diskoerse en uitdagings bly wat kerke binne die reformatoriese tradisie regoor die wêreld raak. Hoewel ons oor teologiese perspektiewe kan verskil, bied ’n ekumeniese liggaam soos die WGGK die geleentheid vir die NHKA om haarself deurentyd krities teenoor die groter diskoerse in die teologiese en kerklike landskap te verantwoord. Terselfdertyd bied geleenthede soos die AV van die WGGK ’n platform waar die NHKA se unieke stem gehoor kan word en waar ons vanuit ons tradisie en geskiedenis krities-teologiese bydraes kan lewer. Die verkiesing van dr Wouter van Wyk as lid van die Uitvoerende Komitee van die WGGK getuig hiervan. Buiten die verkiesing van ’n Uitvoerende Komitee, is ’n nuwe voorsitter verkies. Dr Karen Georgia Thompson van die VSA is as voorsitter vir die volgende sewe jaar verkies. Ons wens die nuwe leierskap sterkte toe met hul taak!

Die waarde van ekumeniese deelname en betrokkenheid

Die bywoning van en deelname aan die AV van die WGGK is ’n verrykende ervaring op verskeie vlakke. Die vergadering het nie net gesprekke oor kritiese kwessies gestimuleer nie, maar het ook geleentheid vir interaksie met gelowiges – predikante, kerkraadslede en lidmate – vanuit die reformatoriese tradisie van regoor die wêreld gebied.

Die grootste waarde van die deelvorming van so ’n ekumeniese liggaam lê dalk juis eerder in die kontak en verhoudings wat met medegelowiges vanuit verskeie kontekste gebou word. Om saam rondom ’n tafel te sit, gedagtes te verwissel, teologiese gesprekke te voer en in die geloof te worstel, vestig ’n onderlinge band wat ons volharding in die geloof en ons reformatoriese identiteit onderskryf. Vanuit ons gedeelde ervaringe groei uiteindelik ook ons gedeelde getuienis.

(Dr Marina Kok-Pretorius is leraar by Gemeente Potchefstroom en dosent by die Hervormde Teologiese Kollege)

Hooffoto: Die vergadering in sitting met die nuutverkose voorsitter wat verslag lewer

Die uittredende voorsitter, ds Najla Kassab, tydens een van die sittings

Die ingangsportaal by die vergadersaal 

Afgevaardigdes van die NHKA 

Afgevaardigdes het besoeke gebring by verskeie projekte in Thailand, onder andere projekte om die reënwoude volhoubaar te onderhou 

Die First Church in Chiang Mai waar afgevaardigdes ’n vergadering bygewoon het

’n Uitstalling op pad na die vergadersaal

Die vergadering het besprekings in onderskeidingsgroepe gevoer 

Dr Wouter van Wyk is vanuit die Afrika-streek as lid van die Uitvoerende Komitee verkies 

Die First Church in Chiang Mai waar afgevaardigdes ’n vergadering bygewoon het 

Die First Church in Chiang Mai waar afgevaardigdes ’n vergadering bygewoon het 

Afgevaardigdes van die NHKA en NGK by die vergadering