Die Midde-Ooste en konflik is sinoniem. Die situasie in die Midde-Ooste is op ’n mespunt sedert die begin van die Israeli-Palestynse konflik. Oorlog is ’n gereelde verskynsel – of dit nou in 1948, 1967 of onlangs op 7 Oktober 2023 is toe Hamas ’n aanval op Israel geloods, die Gasa-stook oorgesteek het en ongeveer 200 gyselaars geneem het. Die aanval het plaasgevind te midde van langdurige spanning tussen Israel en Hamas. Hierdie spanning spruit uit ontevredenheid oor gebied, onafhanklikheid en die blokkasie van Gasa. Die Israeli-regering se belofte om Hamas se militêre vaardighede te vernietig, het tot verdere geweld gelei. Die konflik het gevolglik groot hoeveelhede ongevalle in Gasa teweeggebring. Duisende is gedood, insluitende baie burgerlikes. Tot op hede is daar baie geweld wat op burgerlikes gemik is. Die konflik het gevorder tot ’n uitgerekte oorlog met swaar verliese aan beide kante. Die humanitêre situasie in Gasa is katastrofies en internasionale oproepe vir ’n skietstilstand en hulp het weerklink.

Die aanval op Hamas het groter konflik in die streek veroorsaak met Hezbollah wat in Libanon by Palestynse faksies geskaar het. Dit het tot die aanval op Libanon gelei. Op 27 September 2024 is Israeli-lugaanvalle geloods waarin Hassan Nasrallah, die sekretaris-generaal van Hezbollah gesterf het. Na hierdie sluipmoord het Israel geweldige bomaanvalle oor die hele Libanon geloods, natuurlik met Hezbollah-posisies en -infrastruktuur as teiken. Op 1 Oktober 2024 het Israel ’n inval in suidelike Libanon onderneem. Hul doel was om Hezbollah se militêre vermoëns te vernietig.

’n Skietstilstand is op 27 November 2024 afgekondig waartydens daar van Hezbollah verwag is om alle militêre aktiwiteite in suidelike Libanon te staak en van Israel om sy magte binne 60 dae te onttrek. Die vrede is grootliks steeds in stand ten spyte van oortredings van beide kante.

Israeli-militêre optrede het in 2024 tot 3 002 sterfgevalle en 13 492 beseerdes gelei. Die Wêreldbank het aangedui dat Israeli-aanvalle ongeveer 100 000 huise gedeeltelik of ten volle beskadig het. Die ontsettende skade aan infrastruktuur, insluitende residensiële geboue, paaie en openbare geriewe, het addisionele druk op Libanon se reeds wankelende ekonomie geplaas en die humanitêre krisis in die land vergroot.

Die konflik oorskadu daaglikse aktiwiteite, veroorsaak grootskaalse skade, ongevalle en ontwrigting wat geweldige druk op essensiële dienste plaas. Sommige families, baie met kinders, het na veiliger areas gevlug nadat hul huise beskadig is.

Kort na die skietstaking in Libanon het Sirië ’n belangrike kruispad in die gesig gestaar nadat die Assad-regering na 50 jaar van isolasie uit die kussings gelig is na ’n burgeroorlog wat 13 jaar geduur het. Die land poog om stabiliteit en rekonsiliasie te bewerkstellig ten spyte van moeilike omstandighede. Ahmad al-Sharaa, die leier van die Hayat Tahrir al-Sham (HTS)-faksie staar groot uitdagings in die gesig om beloftes na te kom om minderhede te beskerm, vlugtelinge se terugkeer te bestuur en om ’n werkende regering te stig. Ons kerke in Sirië ervaar vandag veranderende tye. Ons vier die verandering van die regime, maar ons is ook bekommerd oor die toekoms.

Die vraag na hoop bly ’n daaglikse uitdaging vir kerke in die streek, of dit nou Libanon, Sirië, Israel of Palestina is. Ten spyte dat die kerk en die Libanese burgerlikes teen die oorlog met Israel gekant was, moes hulle dit verduur. Die uitdaging vir gelowiges in die Midde-Ooste is om positief te bly en nie moed op te gee nie. Ons, as ’n kerk wat verskeie oorloë beleef het, glo dat geweld nie vrede of rekonsiliasie bring nie – slegs dialoog kan dit vermag. Die kerk sal die brug van dialoog bly. Ons sal nooit dood aanvaar nie, ongeag aan wie se kant ons ons skaar. Ons het geleer dat hoop ons die vermoë gee om ’n invloed te hê op die pyn en lyding wat mense ervaar. Om hoop uit te lewe, is om gefokus te bly in die poging om ’n beter toekoms te skep en om mense wat ly onder ander se politieke agendas en ambisies, te dien.

In die woorde van ’n Palestynse skrywer, Mahmoud Darwish: Die oorloë sal tot ’n einde kom en die leiers sal hande skud en daardie ou vrou sal steeds op haar gemartelde seun wag en daardie jong vrou sal steeds op haar man wag en die kinders sal steeds wag op hulle pa wat die held was. Ek weet nie wie het die land verkoop nie, maar ek weet wie het die prys betaal.  

Die kerk se rol in die versorging van dié wat die prys betaal het, skep vir die kerk hoop. Hierdie rol spoor die kerk aan en plaas ons op die regte pad. Tydens die hoogtepunt van die krisis was die doelwit van ons Kerk, Compassion Protestant Society (CPS), om humanitêre ondersteuning te bied. Ons het onophoudelik gewerk om gemeenskappe op te lig en om hoop te kweek, selfs in die donkerste tye.

Die Kerk het skuilings en warm maaltye aan kwesbare families verskaf. Families is ondersteun in veilige skuilings waar hulle hul waardigheid kon behou. Daar is omgesien na hul psigiese gesondheid en traumaberading is aan die kinders verskaf. 

Terwyl ons dink aan hoop en hoe om dit in die Midde-Ooste te bereik, is ons genoodsaak om aan die huidige lyding van mense aan beide kante te dink. Ek het die lyding vanuit ’n Libanese oogpunt gedeel, maar ek is oortuig dat daar ook baie lyding aan die Palestynse en Israeli-kante van die konflik is. Fred Craddock, die bekende prediker, het in een van sy preke gesê dat hoop baie maal voorgehou word as ’n versagtende woord, ’n term om dinge uit te stel. Hoop begin met die onmiddellike, met die hantering van daaglikse insidente.

Tydens ’n onlangse ontmoeting van die Internasionale Vergadering vir Gebed vir Vrede in Rome, het die ekumeniese patriarg van Konstantinopel, Bartolomeus, gesê dat ons in ’n gesamentlike huis lewe. Die huis is soos ’n kamer vol spieëls. As ons na onsself in die spieël kyk, sien ons die beeld van ons broer en suster en ons sien die werk van God in elke mens. Soos ons die beeld van lyding in ons weerkaatsing sien, ontdek ons hoop in die weerkaatsing van ander. Die hoop in Christus nooi ons uit na hierdie kamer van spieëls waar ons ander en hul pyn sien. Die grootste sonde wat ons vandag mee te make het, is die gebrek van belangstelling. Volgens Genesis 2: 15 is die mens op die aarde geplaas om dit te bewerk en op te pas. Dan kan ons mos nooit na onsself kyk sonder om die beeld van my naaste te sien nie.

Om vandag in die Midde-Ooste te woon, moet jy aan hoop vasklou. Dit help om die haat te verminder en die lyding van almal te sien. Dit help om waardigheid en lewe aan almal te skenk. Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Joh 10: 10). Indien ons die hoop wil uitleef, moet ons ons uitspreek teen geweld en die invloei van wapens in die gebied. Ons moet by almal staan wat swaarkry en ons moet probeer om die ongeregtigheid te ontbloot. Ons moet dialoog en nie geweld en uitsluiting van ander, aanmoedig.

Die deur van hoop in die Midde-Ooste is steeds gesetel in die oplossing van die Palestynse tragedie, die ongelykheid en die besetting. Ons moet streef na die waardigheid van die Palestyne en hul regte, bo en behalwe die veiligheid vir almal in die streek. Ons hoop dat die kinders en die jeug in die Midde-Ooste sal aanhou droom om hier te bly en nie die nagmerries hoef te beleef nie.

GF Watts se skildery met die titel “Hoop” beeld die figuur van ’n vrou uit wat op ’n aardbol sit. Sy is geblinddoek, met ’n instrument in haar arms wat slegs een snaar oor het. Die skildery beeld pyn, vrees en moedeloosheid uit. Dit maak egter nie aan die vrou saak dat die instrument nie volmaak is nie. Sy speel steeds voort op die enkele snaar. ’n Enkele snaar kan aan die instrument sy integriteit gee en die vrou die vermoë gee om pragtige musiek te maak. Die enkele snaar verskaf hoop dat daar steeds die belofte van ’n beter toekoms vir haar en vir die instrument is. Die enkele snaar kan ’n melodie verskaf, miskien nie die beste nie, maar daar is hoop. Dit maak nie saak of ons ’n meerderheid of ’n minderheid is nie, ons kan ’n melodie verskaf. Hoop is binne ons bereik. Ons is geroepe om dit te beskerm en uit te leef in die oopte waar ons die lyding van ander kan sien. Ons melodie sal hulle hoop gee.

(Ds Najla Kassab is predikant in Libanon en president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap