Offisiersopleiding in die destydse SA Weermag het van die beginsel uitgegaan dat militêre mag met die minimum geweld aangewend moet word. (Dié “minimum” is ook ’n gawe gedagte as dit by regering kom: dat die staat se inmenging in die lewe van die burgery so gering moontlik moet wees, só min dat jy dit nouliks agterkom.)

Geweld is nie skielik goed te praat as die regering dit doen nie, en verkeerd as die burgery hulle tot geweld wend nie. Geweld is nooit gewens nie.

Swart lewens maak in die VSA saak. Hier by ons ook, en alle (ander) lewe daarmee saam. As die staat die regte van al haar mense moet dien en beskerm, is dit ononderhandelbaar dat mense aan die lewe moet kan bly om hul regte te kan opeis, verantwoordelikhede na te kom en die geleenthede wat die land hulle bied, te mag benut. Dat die staat geweld geregverdigd mag gebruik om wet en orde te handhaaf, om sodoende die grootste moontlike mate van vryheid aan individue en groepe te verseker, sal niemand betwis nie, solank daardie geweld toepaslik is en tot die minimum beperk word. Ek glo dieselfde waarheid geld onverswak ook vir Jan Alleman.

Nóg onbeteuelde staatsgeweld, nóg die landsburger wat onbeheersd die reg in eie hand neem, kan geregverdig word.  Dié van ons wat die doodstraf voorstaan – en dis nie onbybels om só te voel nie – moet net onthou dat selfs die staat met geweld handuit ruk: Die staat het Jesus met die doodstraf gevonnis en gekruisig, destyds op luidkeelse aandrang van die gepeupel; heel demokraties, nogal. As die destydse owerheid nie daarvan teruggedeins het om dit met Jesus Christus te doen nie, hoeveel te meer sal die huidige staat geneig wees om dit met ons ook te doen? En moet ook nie uit die skare steun verwag nie. Inteendeel: Daar is talle wie se hande jeuk vir ’n verskoning om ’n oog vir ’n oog te vergeld. Ons het al duisende oë verloor. Geweld is in die hande van én die staat én dié van die man in die straat, ewe gevaarlik. Nie een van die twee waarborg reg en geregtigheid nie.

Gelowiges, sou ons ons die lewe geheel en al sonder geweld kon indink: Dís die droom. Helaas, die wêreld is ’n plek waar gelowiges juis geroepe is om teen geweld te bolwerk, want geweld is ’n gegewe. Ons werk is om geweld te stuit, met die ander wang, net soos die stopper aan die einde van ’n treinspoor: tot hiertoe en nie verder nie.

Dis van geloof die bitterste eis. Bitter, en veel moeiliker as wat ons vanself gaan regkry. Dit druis in teen ons menslike natuur! Dis asof jy, aan die kant van jou vyand, oorlog verklaar teen jouself. Maar hoe dan anders? Waarom anders sou die Here dit nodig vind om ons daarop te wys dat selfbeheersing ’n gawe van die Heilige Gees is, iets waarin ek en jy nét met die ingrype van God gaan slaag?

Selfbeheersing is ’n onmenslike eis, na die afgryslike moord op die jong boer van die Senekal-distrik, en met die duisende kruise van die Witkruismonument by ons ingeprent. Tog is selfbeheersing nie ’n eis wat gelowiges kan omseil sonder om ons geloofsbelydenis af te water nie.

Nee, hier volg geen “maars” nie.

Alle saakbeskadiging (kom ons noem dit so, want “geweld”, dink ek, impliseer bloedverlies) uit weerwraak, is al betreurenswaardig. Bloedvergieting is ’n blote katspoegie verder.

Ligloop nou, vir die leuen dat mense wat nie op demokratiese instellings kan staatmaak vir steun nie, en hul lewe hier nie meer seker is nie, demokrasie ten spyt, dit nie deur protes en drastiese optrede aan die groot klok mag hang nie. Want, so word daar mos gesê, daar bestaan in ’n demokrasie mediaplatforms waar griewe vryelik gelug kan word. En hierdie is ’n regstaat wat gelyke regte aan almal verseker en elke Jan Rap se belange sonder onderskeid beskerm. En die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is die beste van enige demokrasie ter wêreld. Die gevolgtrekking: Selfs terreur was in die ou bedeling goed, want geen ander uitlaatklep het toe al bestaan nie, en geen weerstand is geduld nie. Daarenteen is selfs saakbeskadiging in die nuwe bedeling tans boos, danksy “die ware demokrasie”. Daarom is die Senekal-gebeure glo in alle opsigte laakbaar. Wel, ja, mits ons daarop sou kon reken dat die staat hoegenaamd nog erg het aan die goeie Grondwet, as almal van ons aan dieselfde regbank ondergeskik sou wees, en as daar nog waarheid in die media te vinde was.

Die praktyk en die retoriek het mekaar lankal gelos. Hoekom sal die wet dan nog vir enigiemand geld?

Die burgery het vertroue verloor.

Die Senekal-stryd stem hierin met die struggle ooreen: Die frustrasie van nie gehoor te word nie, kook oor, die belewenis van nie saak te maak nie, om van weinig waarde te wees, nie eens meer menswaardig nie, het posgevat, en daarmee saam die ervaring van uitgebuit en bedrieg te word, die gewaarwording van teikens te wees van haat en slagoffers te wees van wreedaardige marteling en moord.

Nee, geweld is nie goed nie, nooit nie, en saakbeskadiging baie selde. Nie eens saakbeskadiging pas by gelowiges nie. Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees, en ons is Geesbeheersd.

Moet dit ook nie miskyk nie: dat die lyk van ’n jongman uitgestal word vir sy ouers om te vind, is aas, nes alle plaasmoorde. Senekal het gebyt. Pasop! Moenie uitgelok word nie.

Daarmee saam moet die onreg wat hier heers, erken en wortel en tak uitgeroei word. Geen doodslag van enige mens of vandalisering van iemand anders se eiendom, nie eens die staat s’n, is te rym met ’n beskaafde gemeenskap nie.

Hier is nou die sogenaamde “hervorming” nodig wat in 1994 so ligtelik vir politiek misbruik is: Bekeer!

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link