Ds Neels van Tonder
Jesus het op ’n keer gesê: Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (Luk 6: 36). Die interessante is dat Jesus daardie woorde gespreek het toe Hy met sy dissipels oor die behandeling van ’n mens se vyande gepraat het.
Die doen van barmhartigheid het nie perke of grense nie. Jesus se gelykenis oor die barmhartige Samaritaan illustreer die saak ook goed. In die tyd van Jesus het die Jode die Samaritane nie as deel van die verbondsvolk beskou nie. Jesus se bedoeling met die gelykenis was om te vertel dat gelowiges vir alle ander mense genade moet hê en teenoor hulle barmhartig moet word.
Saak van liefde
Die grondbeginsel van barmhartigheid is liefde. Barmhartigheid kan immers nie eerlik gedoen word as daar nie opregte deernis, empatie en liefde bestaan nie. Voeg daarby ook nederigheid.
Die ingewikkeldheid daarvan om barmhartig te wees, lê baiekeer in die wyse waarop mense of organisasies vir ander ’n Samaritaan word. Party sal hul hulpverlening van die dakke af wil verkondig. Ander verkies weer dat hul hulpverlening stil en sonder enige aandag moet verbygaan. Of mense hul barmhartigheid luid wil verkondig en of hulle dit stil wil doen, die uitkoms daarvan behoort die verkondiging van die evangelie van Christus te wees.
Die rede waarom mense hul barmhartig-wees prominent wil verkondig, óf waarom mense dit ongesiens wil laat verbygaan, hang meestal saam met die oogmerk wat hulle wil bereik. Aan die een kant is daar sekerlik diegene wat gesien en gehoor wíl word. Aan die ander kant is dit ook waar dat organisasies ’n wyse moet vind om hul diens bekend te stel aan diegene wat daarvan gebruik kan maak.
Die ongesiene daad
Stille barmhartigheid kom wyd voor en word nie altyd raakgesien nie. In baie gevalle word in die verbygaan van die ongesiene daad kennis geneem. Dit beteken nie dat daar geen dankbaarheid vir die stil manier van die doen van liefde bestaan nie. Die stil manier om genade uit te deel, het ook sy eie warmte.
Die Bybel prys die stil manier om genade te bewys selfs as ’n evangelie aan. Jesus het by geleentheid oor die stil manier om barmhartig te wees die volgende gesê: …as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matt 6: 3-4).
Wanneer ’n mens jou eie swakheid verstaan, ontwikkel jy makliker ’n begrip vir ander se weerloosheid. Een van die belangrike eienskappe wat by gelowiges behoort te vorm, is die drang om aan die weerloses beskerming te gee. Die lewe het ’n manier om verby te snel. In die dolle gejaag na wins, roem en sukses, is die meeste mense nie veel ingestel op die lot van ander nie.
Maak ’n verskil
Daar is baie maniere om ’n verskil aan ander se omstandig-hede te maak. ’n Mens het nie altyd geld nodig om iemand se omstandighede op te kikker nie. Opregte belangstelling doen soms meer goed as die uitdeel van ’n aalmoes. Petrus het ook vir die gestremde man wat by die ingang na die tempel gelê het gesê: Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! (Hand 3: 6). Daardie man wat by die ingang wat as Mooipoort bekend was gelê het, het om die genade vir ’n aalmoes gebedel. Toe ontvang hy Jesus.
Daar is talle plekke en baie maniere om barmhartig te wees en Christus aan mense uit te deel. Dink ’n bietjie aan die waarde wat ’n mens vir die volgende mense kan toevoeg.
- Oral in die land is daar armes. Baie van hulle staan in parkeerareas rond en hoop op ’n aalmoes. Op ’n manier is hulle seker ’n bron van irritasie. Amper soos die tollenaars vir mense in die Bybel. Die meeste mense sal seker uit ordentlikheid ’n muntstuk uithaal en so gou moontlik wegry.
- Hoeveel van jou tyd sou dit neem om net vir ’n oomblik na daardie persoon se welstand te vra? Het jy al gedink dat hy ook ’n behoefte aan erkenning het? Hy het waarskynlik ook ’n gesin om te versorg. Miskien het hy ook kinders op skool. Hy, of hulle, kan ook siek raak. Hy het ook jou waardering en motivering nodig.
- Gaan sit ’n bietjie stil op ’n plek en kyk hoe gereeld die karwagte afgejak word. Hoe sou jy voel om in sulke gevalle maar altyd net te swyg en die afjak te “vat” asof dit die normaalste ding in die lewe is om te doen? Jy kan ’n verskil maak aan daardie persoon se lewe deur net ’n bietjie belangstelling in hom/haar te toon. Dit gaan jou nie ’n sent kos om so ’n persoon se waardigheid te erken, oor sy welsyn navraag te doen en jou dankbaarheid vir sy diens te betoon nie. Al wat gebeur het, is dat jy barmhartig geraak het soos wat die hemelse Vader teenoor elkeen van óns barmhartig is.
- Oral om ons is daar straatbewoners. Hulle slaap op straat. Hulle is nie almal skelm nie, maar hulle word meestal as skelms en dwelmslawe beskou. In baie opsigte mag hulle dalk as lasposte geag word. Vra ’n slag of die Here óns as lasposte beskou. Deel maar gerus ’n bietjie barmhartigheid uit. Erkenning, belangstelling en motivering kos nie noodwendig geld nie.
- Daar is die siekes wat krank lê. Nie almal het tyd om by hulle stil te hou nie. Die lewe se tempo maak dat te veel mense nie tyd het om by ander te gaan stilstaan nie. Neem tyd en gaan loer net vir ’n oomblik in by iemand wat aan ’n bed gekluister is. Gaan ontdek vir ’n oomblik watter blymoedigheid jy kan bring vir iemand wat honger is na aandag. Dit sluit mense met gesig-, gehoor- en enige ander gestremdheid in.
- Het jy al opgemerk hoe iemand met Downsindroom se gesig ophelder as jy by hom/haar gaan stilstaan en net vir ’n oomblik ’n bietjie aandag gee? Daardie enkele minuut gaan nie jou lewenstempo kortwiek nie, maar jý kan in daardie minuut die barmhartigheid van Christus aan iemand bring.
- Daar is bejaardes in tehuise wat hul kinders selde sien. Gaan dit regtig só baie tyd van ons verg om net vir ’n oomblikkie tyd te maak om self, of as ’n groep, aandag aan hulle te gaan gee?
Werk van God
Die lys van waar oral barmhartigheid bewys kan word, kan sekerlik baie lank gemaak word. Die bedoeling is egter nie om lyste vir barmhartigheid op te stel nie, maar om te sê dat gelowiges moet aanleer om sensitief te wees oor waar hulle ’n verskil by ander mense kan maak.
In die geval van die blindgebore man het Jesus sy lot só verduidelik: Hy is nie blind as gevolg van sý of sy ouers se sonde nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word (Joh 9: 3).
Moeder Teresa se woorde aan ’n joernalis wat haar probeer aanprys het vir wat sy onder die armes gedoen het, was dat sy nie daardie soort aanprysing verdien nie, want, het sy gesê, ek is net ’n vinger in God se hand.
Binne ons Christelike konteks lê ons gehoorsaamheid aan ons Here in die uitlewing daarvan dat ons hoor dat die Gees van die Here ook vir ons sê: Gaan, en wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.
(Ds Neels van Tonder is leraar in Gemeente Warmbad)