My betrokkenheid by die Teologiese Opleidingsfonds (die Fonds) sedert 2008 wat aan die einde van Junie 2022 ten einde geloop het, verwoord een van die genoeglikste werkruimtes waarby ek oor jare in die Kerk betrokke was. Dit het veral skerp uitgestaan in die breë kerklike ruimte waar oor jare redelike druk op gemeentes beland het as gevolg van die veranderde finansiële omstandighede wat oor ons land en gevolglik ook oor lidmate en gemeentes gekom het.
Juis onder die omstandighede was die dinamika wat in die Kerk teenwoordig is, deurgaans sigbaar, veral wanneer die jaarlikse bydraes uit gemeentes in oënskou geneem word. Dit was verbasend dat relatief klein gemeentes besondere bydraes gelewer het, en as die bedrag onafgerond was, was dit duidelik dat die bepaalde deurkollekte net so aan die Fonds oorbetaal is.
Omsendskrywes oor jare het telkens besondere dank aan gemeentes beklemtoon, want uiteindelik was en is elke bedrag uit gemeentes, klein en groot, diensbaar in die bedoeling van die Fonds.
Die groei was ongelooflik. Die saldo van die Fonds was op 7 Maart 2008 R2,918,014.26. Die bedrag het oor jare aangegroei tot R10,672,285.85 soos op 28 Februarie 2022. Die belegging was in 1999 ongeveer R100,000.00 en die destyds gestelde mikpunt was om by sewe miljoen uit te kom sodat begin kon word om die renteopbrengs te benut sonder om in die kapitaal te delf.
In ’n gepubliseerde nuusbrief in 2009 skryf prof Theuns Dreyer, die destydse hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK): “[a]kademies-teologiese opleiding van predikante aan ’n universiteit was nog altyd vir die Hervormde Kerk ’n hoë prioriteit. Die Teologiese Opleidingsfonds is in die lewe geroep om dit vir die toekoms te probeer verskans.”
Die visie en missie van die Fonds is soos volg geformuleer in die bestuursbeleid van die Fonds:
- Die opleiding van predikante, manne en vroue, wat ge-trou die waarheid van die evangelie van die Here Jesus Christus sal uitdra.
- Die handhawing en ontwikkeling van die Bybels-reformatoriese teologie, uitdruklik die konsensus wêreldwyd binne hierdie raamwerk, in onderskeiding van ander teologiese tradisies, omdat ons in die geloof oortuig is dat hierdie teologiese tradisie die waarheid van die evangelie op die beste wyse tot uitdrukking bring.
- Gebondenheid aan die kerk wat deur die eeue en oor die wêreld getrou bly aan die belydenis dat Jesus die Here is, dat Jesus God is.
- Opleiding waarin die nugtere vroomheid van die hart en ’n uitdruklike Christelike etiese lewenswandel, wat volg uit die geloof in die Here Jesus Christus, ondersteun word met ’n deeglike wetenskaplike onderbou – vergelykbaar met die beste in die wêreld.
- ’n Opleiding wat predikante sal oplewer wat die evangelie sal oordra op ’n wyse waarop die gemeente dit die beste hoor, verstaan en aanvaar – sonder om ooit te twyfel aan die geloof, integriteit, kundigheid, deeglikheid, liefdevolheid, dankbaarheid en blymoedigheid van hul leraar.
Dit is sekerlik moontlik dat oor die inhoud van bogenoemde in die kerklik-teologiese debat verskil kan word, maar terselfdertyd tog belangrik dat die Kerk volstaan het tot op datum met Bybels-reformatoriese teologie [vgl Kerkorde 2019:46, Ordinansie 4.2.2 (vii) (b) (d)]. Kort saamgevat, kom dit neer op die voorneme om kerk van die Woord te wees, want dit spruit uit die belydenis dat Jesus die Here is. Daarmee saam word in die laaste gedeelte redelik nadruklik in die vooruitsig gestel wat van die predikante wat die opleiding voltooi het, verwag kan word met betrekking tot leer en lewe in die kerklike praktyk.
Die aanvanklik gestelde mikpunt van sewe miljoen rand is reeds bereik. Die 72ste Algemene Kerkvergadering (2019) se Beskrywingspunt 51 het die volgende besluit oor die Fonds geneem:
- Die AKV aanvaar die mikpunt van R10 000 000.00 as die kapitale waarde van die Fonds.
- Die Fondswaarde word jaarliks uit renteverdienste en skenkings met ’n persentasie gekoppel aan die inflasiekoers aangevul om voorsiening te maak vir inflasionêre druk.
- Die volle restant word jaarliks aangewend vir teologiese opleiding.
- Die Raad van Finansies word versoek om in oorleg met die Teologiese Opleidingsfonds soveel as moontlik aan studente te spandeer.
Die verskuiwing met betrekking tot die doel en aanwending van die Fonds is veral merkbaar in die laaste gedeelte, wat daarop neerkom dat die Fonds in oorleg met die Kuratorium en die Raad van Finansies vir studente aangewend kan word.
Die omstandighede wat voornemende studente hedendaags in die gesig staar, is radikaal anders as jare gelede – wat ook tot gevolg gehad het dat die totale studentetal wat tans met teologiese opleiding besig is, drasties afgeneem het. Die verwagting is dat die Kerk in die nabye toekoms ’n tekort aan predikante gaan ervaar, gesien in die lig van minder studente wat die studie voltooi, asook predikante wat emeriteer en nie verder vir die Kerk beskikbaar is nie.
Dit plaas die kritieke vraag op die tafel met betrekking tot ’n teologiese opleidingsfonds met die intensie wat steeds is dat studente aan ’n universiteit opgelei moet word. Tydens besoeke aan ringe is menings van dosente wat deur sommige krities ontvang is, op die Fonds geprojekteer in die vorm van ’n stakersbeleid wat daarop neergekom het dat kritiek teen bepaalde teologiese resultate van dosente hanteer is deur geen bydraes vir die Fonds nie. Dit is sekerlik ook so dat die debat oor opleiding van studente wat aan ’n universiteit moet gebeur, steeds aan die gang is, en dat die Kerk sekerlik in die toekoms besluite daaroor sal neem.
Ten spyte van veranderde omstandighede waarbinne die Kerk sy taak moet verrig in ’n drasties veranderde wêreld, kan waarskynlik moeilik afgesien word van die jare lange uitgangspunt dat opleiding van studente aan ’n universiteit moet plaasvind, alternatiewelik opleiding wat op dié vlak moet gebeur en vergelykbaar moet wees met die beste in die wêreld, soos die bestuursreglement in die vooruitsig stel. Kerk, kerk van die Woord, Bybels-reformatoriese teologie en studente wat binne die kerklik-teologiese tradisie eie aan die Hervormde Kerk gevorm word, lê in mekaar se verlenging.
Dit is nie die bedoeling om rigtinggewend in hierdie artikel te argumenteer oor die toekoms van teologiese opleiding nie, maar waarop dit ook al uitloop, daar sal fondse nodig wees om die gestelde mikpunt te bereik. Die plek waar studente opgelei word, mag verander, maar daar kan nouliks ingesien word dat afgewyk sal word van die vooruitsig wat in die bestuursreglement van die Fonds verwoord word.
In die nuusbrief hierbo genoem, het die destydse administrateur van die Kerk, mnr Kobus Viljoen, daarop gewys dat die Kerk by wyse van die Raad van Finansies nie risikobeleggings maak met kerkgeld nie. Daarom is die belegging van die Fonds belê by bekende instellings soos ABSA, FNB en Investec, asook in die Kerkgeld vir Kerkwerk-fonds.
Derhalwe: Die Teologiese Opleidingsfonds het belangrik gebly, omdat dit wesenlik is dat die Kerk predikante nodig het om as dienaars van die Woord die evangelie te verkondig, naamlik dat Jesus die Here is in die wydste betekenis wat grondvat in gemeentes, tussen gelowiges, sodat – soos in die klassieke Nagmaalformulier gestel word – uit baie graankorrels een meel gemaal en uit baie druiwekorrels een wyn gepars word. Dit is kritiek belangrik om in die huidige tye waarin die Kerk sy taak moet volvoer, die dinamika wat in die Kerk is en wat deur bydraes vir die Fonds ter sprake gekom het, te handhaaf en daaraan vas te hou as ’n verbasende werklikheid wat gewone mense in staat stel om die buitengewone te vermag.
Die mening dat selfs en steeds die Kerk, ’n blink toekoms het, mag nie gering geskat word nie. Die kerk oor eeue, die een heilige, algemene, Christelike kerk, het oor eeue alle rede gehad om menslik gesproke tot niet te gaan, maar dit het nie. Die rede daarvoor gaan bokant menslike vermoëns uit en lê anderkant menslike vroomheid en toewyding, want dit kom reglynig van bo, spreekwoordelik.
Die betrokkenheid by die Teologiese Opleidingsfonds oor 14 jaar was ’n uiters genoeglike belewenis en blootstelling. Reslose dank gaan aan ringsvergaderings waar besoek afgelê is en wat bereid was om in hul agenda tyd in te ruim vir die saak van die Fonds, ten spyte van die feit dat dit nie moontlik was om presies aan te dui hoe laat dit gaan wees nie, want soms is meer as een vergadering op een dag besoek. Die welwillendheid as uiting van die Jesus-belydenis (Matt 22: 39) wat op dié vlak in die Kerk beleef is, getuig van die besondere karakter van kerkwees in onderskeid van wat soms in die wêreld buite die kerk beleef word.
Derhalwe, bemoeienis en ’n pleidooi vir die Teologiese Opleidingsfonds funksioneer nie anders as binne die Kerk en soos die Kerk nie, want dit gaan daaroor dat met verloop van tyd gesorg word, of ten minste ’n poging aangewend word, dat die Kerk in staat gestel word om predikante op te lei wat met oortuiging sal verkondig dat Jesus die Here is, die Hoof van die kerk (vgl Ef 1: 22-23).
Ten slotte: broeders en susters, kollegas, baie dankie vir die ruimte wat u vir my gemaak het toe ek u vergaderings besoek het om oor die Fonds te praat. Ontvang asseblief ook kollega ds Peet Esterhuizen op soortgelyke kerklike wyse.
(Dr Barry van Wyk, emeritus, is leraar in Gemeente Warmbad)