Ons moet praat! Hierdie drie woorde kan selfs die dapperstes onder ons in ’n koue angssweet laat uitslaan. Maar, ongeag watter beelde dit by jou oproep, ons móét praat. Almal van ons. Met mekaar. Mens tot mens. Weer en weer.
Dit is opvallend dat mense minder praat, en baie het niemand om méé te praat nie. Dr Gerhard Niemann vra in die voorbladartikel die belangrike vraag of ons ’n ondersteuningstelsel het, want te veel mense leef in eensaamheid en het nie ’n enkele persoon om hulle by te staan in tye van nood nie, en sonder ondersteuning sal ons nooit staande kan bly in tye van onsekerheid nie. Hy dui dan aan watter rol die kerk kan speel om die nodige ondersteuning te bied – ook iemand om mee te praat. Die kerk is immers die draer van ons gedeelde hoop in Christus.
Sosiale isolasie neem stelselmatig toe, en veral twee sake die afgelope aantal jare het dit vererger – die Covid-19-pandemie en oormatige skermtyd. Weens ons groeiende afhanklikheid van digitale kommunikasie was ons sosiaal ryp vir die afsondering wat sou kom weens die pandemie. Dit was ’n perfekte storm wat gelei het tot groter sosiale diskonneksie.
Sosiale media het baie voordele, maar dit maak ongelukkig veels te gereeld inbreuk op ons persoon-tot-persoon-interaksies. Sosiale media behoort eintlik onsosiale media genoem te word. En diegene wat intens of obsessief raak, begin selfs tweedehands leef volgens ander se opinies, vir die opduime. En so kwyn betekenisvolle kontak – en isolasie volg noodwendig.
Sosiale media beklemtoon dikwels wat jý glo verkeerd is met jou – terwyl dit eintlik ’n parallelle heelal is wat soms onherkenbaar lyk vir gewone sterflinge. Op sosiale media is almal perfekte ouers, grootouers en lewensmaats, niemand is ooit in die moeilikheid nie, almal glimlag en lyk gelukkig, niemand is gespanne nie, babas se doeke en kleuters se gesigte is altyd skoon, niemand se tienerkinders maak skandes nie, niemand skuld iemand geld nie, en almal eet gereeld in weelderige restaurante en hou die hele tyd op eksotiese plekke vakansie. Om dit ernstig op te neem en jou eie selfwaarde daaraan te meet, is fataal. Daar is immers geen werklike rede om te vermoed dat iemand anders se lewe minder chaoties is as jou eie nie. En as iemand nog nie met jou ’n diep persoonlike gesprek gevoer het nie, of saam met jou getreur het nie, of jou op jou kwesbaarste gesien het nie, dan is hulle nie jou vriende nie, al sê Facebook ook wat.
Uiteindelik verword ons tot niks meer nie as sleutelbordkrygers in ons eie (geïsoleerde) selfgeskepte werklikheid. Ja, ons dink ons voer ’n gesprek, ons is oortuig ons kommunikeer effektief – maar ons kyk mekaar nie in die oë nie; ons luister nie na mekaar nie, ons hoor nie eens mekaar se stemme nie; ons sien nie mekaar se liggaamstaal nie; ons beleef geen nabyheid nie; ons het geen persoonlike kontak nie. En dit is tog waar betekenis gevind word – dit is waar sin gewoonlik skuilhou. Dit is geen wonder nie dat die verlore kuns van gesprekvoering ook geassiosieer word met hoë angs- en stresvlakke.
Ek is wel ’n voorstander van werk-van-die-huis-af. Vir predikante is dit in elk geval niks vreemd nie. Digitale kerk en erediens het ook ’n regmatige plek post-pandemie. Maar wanneer die kuns van gesels en betekenisvolle gesprekvoering in die slag bly, is die gevolg sonder uitsondering minder gesonde verhoudings. ’n Groep tieners sit in ’n kring, maar elkeen se oë is vasgenael op ’n skerm. Vriende of kollegas sit by ’n tafel in ’n restaurant, maar niemand praat met mekaar nie. Ouers sit in ’n parkie met hul kinders, maar kyk nie op van die slimfoon se skerm nie. ’n Glibberige glybaan van agteruitgang in die geselskuns.
Die uitkringeffek, en uiteindelik die invloed op die kerk, ons teologie en ons geloofslewe, is onheilspellend. Volgens die Duitse teoloog Friedrich Schleiermacher impliseer die kuns van gesprekvoering (dialektiek) en die kuns van verstaan (hermeneutiek) mekaar wedersyds. In dialektiek word gedagtes tot woorde gebring en in hermeneutiek word woorde tot gedagtes gebring. Hy beklemtoon dat hermeneutiek voorkeur gee aan gesproke taal as uitdrukking van iemand se hele lewe. Dit het dus implikasies vir evangelieverkondiging.
Gedurende die afgelope halfeeu of meer het daar ’n paradigmaverandering plaasgevind toe intra-psigiese teorieë oor die oorsprong van sielkundige probleme verskuif het na ’n fokus op die inter-psigiese, oftewel interpersoonlike, oorsprong – in die besonder die rol van effektiewe kommunikasie in verhoudings as grondslag van ’n gesonde psige.
Digitale kommunikasie is dikwels gefragmenteerd en gaan mank aan konteks. Dit vereis geen teenwoordigheid in die oomblik nie en geen toegewyde fokus, meelewing en onmiddellikheid nie – en uiteindelik is daar geen konneksie op ’n dieper vlak nie. Regte gesprekke en korrekte verstaan behels aktiewe luister, wedersydse respek en empatie, en ook ’n dinamiese maar veilige gespreksomgewing waar gedagtes onbevange in woorde omgesit kan word, en gesproke woorde tot gedagtes kan lei – en uiteindelik tot ’n dieper verstaan.
Vir effektiewe ondersteuning en die gesonde funksionering van die gemeenskap van gelowiges is dit noodsaaklik dat mense mekaar se wêrelde beter verstaan en respekteer. Niks minder nie as ons beste is daarom nodig om die haas verlore kuns van gesprekvoering te herwin.
