Dit alles het begin oor ’n koppie koffie by die Grieks-Ortodokse kerk oorkant die Universiteit van Pretoria. Die vraag wat na vore gekom het, was: Wat beteken kerkplanting vir die Hervormde Kerk in 2026? Daar is allerlei gedagtes en vrae wat by ’n mens opduik wanneer die tema kerkplanting bespreek word.

Met hierdie vraag in gedagte het drr Frikkie Labuschagne en Martin Slabbert op 20 Februarie ’n ruimte geskep waar sulke vrae bespreek kon word onder die leiding van die ervare kerkplanter en pastoor, Johan Verster, en Hervormde predikante wat ingesluit het drr Deon du Toit, Johan Bester, Sanrie de Beer, Hannes Janse van Rensburg en ds Stephen de Beer.

Dr Labuschagne het die gesprek aan die gang gesit met die gedagte dat ons as gelowiges geroep en toegerus is om die Koninkryk van God in hierdie wêreld uit te bou. Woorde wat ook diegene wat betrokke was op nuwe maniere laat nadink het oor hόé dit in die konteks van die Hervormde Kerk kan lyk.

Dr Slabbert het hierdie onderwerp as ’n tema beskryf wat hom terselfdertyd uitdaag én ongemaklik maak. In sy opening het hy ’n verhaal van ’n vrou gedeel wat vertel het hoe hul gemeenskap blokkasies in ’n stroom water probeer verminder het deur die plante wat dit verhinder het, stelselmatig te begin uitkap en hoe daar geleidelik water begin vloei het. Hy het hierdie verhaal gekoppel aan Jesaja 35: 5 wat ’n profetiese visie uitbeeld van hoe fonteine in die wildernis sal ontspring en hoe droë grond moet plek maak vir lewe. Teen hierdie agtergrond het hy die volgende vraag aan die groep gerig: Kan hierdie woorde van Jesaja as metafoor dien vir hoe ons in die Kerk ook blokkasies moet uitkap om die water wat ons weet daar is, te laat vloei? Hy het voortgegaan deur die gesprek te stuur in die rigting van hindernisse wat in die Kerk geïdentifiseer kan word en verwyder kan word sodat die beweging van God se werk in Hervormde gemeentes kan vloei.

Hierdie gesprek het elkeen uitgedaag om na te dink oor die toekoms van die Hervormde Kerk en alternatiewe kerk- en bedieningsmodelle wat oorweeg kan word. Ons bevind onsself in ’n samelewing waar daar konstante kontekstuele draaipunte opduik. Die Kerk moet haarself afvra: Hoe kan ek terselfdertyd relevant, maar ook eg bly? Moet daar dalk ’n alternatiewe vraag na vore kom: Wat beteken kerkhernuwing vir die Hervormde Kerk in 2026?

Tydens hierdie verkennende gesprek het pastoor Verster uitgelig hoe beide kerkplanting en kerkhernuwing kan baat by die opleiding rakende dissipelskap. Dit plaas eienaarskap terug in die hande van die lidmate, en daar behoort ruimte gemaak te word vir belangstellende individue.

Die toekoms van die Kerk is heilige grond, en daarom is sulke gesprekke en dinkskrumsessies volgens beide drr Frikkie Labuschagne en Martin Slabbert van kardinale belang. Hulle nooi gevolglik diegene wat in sulke temas en die ontwikkeling daarvan belangstel om hulle te kontak.

Die Evangelie moet ons met tye bietjie ongemaklik maak.Is kerkplanting en kerkhernuwing vir my ’n werklikheid of ’n geestelike stokperdjie?, aldus pastoor Verster. Dit was ’n belangrike aanhaling wat in dié gesprekke geëggo het.

(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)