Maandag 16 Februarie – Die Here vergewe ons ons oortredinge

Psalm 103

Ons wil blydskap en vreugde najaag, maar dan ontdek ons dat ons lewens wipplank ry tussen goed en sleg, vreugde en hartseer. As ons beheer kon uitoefen sou ons langer aan die kant van goed wou vertoef, maar ongelukkig voel dit of die anderkant die swaartekrag het. Seer en pyn ruk die mat onder ons uit en ons sukkel om weer balans te vind.

Die digter begin hierdie psalm met die woorde dat hy die Here wil loof. Hy eindig ook met hierdie belydenis. Hy roep almal op om saam met hom die Here te loof. Hy beleef blydskap en dankbaarheid waaroor hy nie kan stilbly nie. Sy vreugde gaan oor God. Hy besef hoe groot God se liefde en genade vir die sondaarmens is. Soos ’n blom wat eenvoudig in ’n dag kan doodgaan as die warm somerwind daaroor waai, net so maklik kan sy lewe in ’n oogwink verander. Tog gee God aan hom aandag. God het hom lief! Die bewys hiervan lê daarin dat God elkeen wat Hom dien se oortredinge vergewe.

Johannes 3: 16 sê vir ons dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy Seun gestuur het sodat die wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Het jy hierdie beloftes al jou eie gemaak? Sy liefde vir jou word regdeur sy Woord verwoord en daarin lees ons ook van sy genadige verlossing van ons sondes.

Wanneer ons hierop fokus en dit ons eie maak sal ons soos die digter ook nie wil stilbly nie. Om gelukkig te wees moet nie deur ons omstandighede bepaal word nie, maar deur hierdie vaste sekerheid van God se liefde en vergifnis. Die digter skets ons verganklikheid maar ook die grootheid van God. Hy besef sy skuld voor God maar ook God se vergifnis. Dit oortref alles. Daarom wil hy die Here loof.

Moenie vaskyk teen jou omstandighede nie. Verskuif jou fokus na God toe. Besef sy liefde vir jou en dat Hy jou sonde vergewe het.

Ds Manda le Roux, Weskus

Donderdag 16 Oktober – Die regte fondament vir jou lewe

Matteus 7: 24-29 Wat interessant is van die huis wat op die sand gebou is, is dat die woord wat in die oorsponklike taal gebruik is, vertaal kan word met ’n droë rivierloop. Dit wil sê, die dwase mens gaan bou sy huis op sand in ’n droë rivierloop. Wanneer die storm...

read more

Sondag 12 Oktober 0150 God maak nuut en herbou

Jesaja 65: 17-25 Die volk is in ballingskap weggevoer deur die Assiriërs. Uiteindelik hoor die Here die noodkreet van sy volk. Die koning van die Assiriërs het gesterf en die nuwe koning laat toe die volk huis toe gaan, sodat hulle hul tempel in Jerusalem weer kon...

read more

Saterdag 11 Oktober – Vreesloos saam met God

Genesis 12: 1-9 Ná Abram se ontmoeting met God het sy lewe verander. Miskien oor die opdrag wat die Here vir hom gegee het: Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Abram moet oor begin. Hy moet van die...

read more