Sondag 26 Julie – Geloof vra te veel van my
Markus 10: 17-31
Iemand kom na Jesus aangehardloop met ’n vraag wat in hom brand: Wat moet hy doen om die ewige lewe te verkry? Die man wat na Jesus toe kom, kom sy lewe lank die reëls van geloof na. Maar wat méér kan hy doen? Hy is op soek na iets dieper. En dan daag Jesus hom uit: Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.
Toe die jongman aanvanklik vir Jesus kom opsoek het, wou hy versekering gehad het – nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewige lewe. Hoewel hy homself as ’n wetsgehoorsame gelowige beskou het, word die vals sekerheid waarin hierdie jongman leef, deur Jesus ontbloot. Jesus stel aan die ryk jongman wat hy moet doen om betekenis aan sy geloof te gee. Hy moet ’n geloofsprong neem. Jesus nooi hom uit om sy bron van vertroue op te gee en op Jesus alleen te vertrou deur Hom te volg. Jesus se oproep aan die jongman is ’n uitnodiging, maar ook ’n uitdaging om te beweeg na ’n dieper geloof. Maar vir hierdie geloof van selfontkenning, opoffering en diens aan ander sien die jongman nie kans nie. Hy skrik en gaan bedruk weg. Hierdie geloof waarvan Jesus praat, vra te veel van hom.
Die gesprek tussen Jesus en die ryk jongman dring ons daartoe om onsself af te vra: Volg ek maar net die reëls en geykte praktyke van my oorgelewerde geloof? Of volg ek vir Christus op die weg van selfopofferende liefde en toewyding teenoor God en my naaste? Dit is maklik om te verval in ’n geloof wat net om selfbehoud gaan, ’n geloof wat na binne gekeer is. Daarom moet ons gereeld gekonfronteer word met die uitdaging wat Jesus aan die ryk jongman stel: Om ons vertroue weg van onsself en ons aardse sekerhede te draai en dit op God te rig.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom
Maandag 9 Maart – Die waaksaamheid en beskerming van God
Psalm 121 (AFR53) In ’n wêreld vol onsekerhede – van die ekonomiese skommelinge wat ons raak tot die daaglikse uitdagings wat ons beleef – waar vind ons werklik ons hulp? Psalm 121 begin met: Ek slaan my oë op na die berge: waarvandaan sal my hulp kom? (Ps 121: 1)....
Sondag 8 Maart (Derde Lydensondag) – Onmiddellike aanbidding en gehoorsaamheid
Psalm 95 (AFR53) Elkeen van ons ken die swaar van die alledaagse roetine, daardie konstante eise van die lewe, wat ’n mens laat soek na iets dieper. Psalm 95: 1 sê: Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die Rots by Wie ons redding vind! Dit is ’n...
Saterdag 7 Maart – Ek glo, help my ongeloof
Markus 9: 24 Hierdie toneel is roerend: Jesus kom van die berg af en loop in ’n menigte mense vas. Die dissipels is moedeloos, hulle het probeer om die kind van ’n bose gees te bevry, maar hulle het gefaal. Die pa, desperaat, wend hom tot Jesus en sê: As U iets kan...
Vrydag 6 Maart – Die pad van heerlikheid loop deur lyding
Markus 9: 2-3 en 7 Ses dae nadat Jesus met sy dissipels oor sy komende lyding gepraat het, neem Hy Petrus, Jakobus en Johannes saam na ’n hoë berg. Daar, voor hul oë, word Hy van gedaante verander. Sy klere word stralend wit. En dan verskyn Moses en Elia, simbole van...
Donderdag 5 Maart – Waarvoor is jy skaam?
Markus 8: 38 Jesus praat skerp: As iemand skaam is vir Hom en sy woorde, sal Jesus hom ook nie voor die Vader bely nie. Dis harde woorde. Dit sny reg deur enige gemaklike geloof waarin ons wil glo sonder om te waag, of wil volg sonder om op te staan. Kom ons wees...
Woensdag 4 Maart – Wat is jou siel werd?
Markus 8: 36 Jesus stel ’n eenvoudige maar radikale vraag: Wat help dit ’n mens om die hele wêreld te wen, maar sy siel te verloor? Dis ’n vraag wat elke geslag moet beantwoord en miskien is dit vir ons vandag moeiliker as ooit. In ’n wêreld waar prestasie, beeld en...