Markus 10: 17-31
Iemand kom na Jesus aangehardloop met ’n vraag wat in hom brand: Wat moet hy doen om die ewige lewe te verkry? Die man wat na Jesus toe kom, kom sy lewe lank die reëls van geloof na. Maar wat méér kan hy doen? Hy is op soek na iets dieper. En dan daag Jesus hom uit: Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.
Toe die jongman aanvanklik vir Jesus kom opsoek het, wou hy versekering gehad het – nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewige lewe. Hoewel hy homself as ’n wetsgehoorsame gelowige beskou het, word die vals sekerheid waarin hierdie jongman leef, deur Jesus ontbloot. Jesus stel aan die ryk jongman wat hy moet doen om betekenis aan sy geloof te gee. Hy moet ’n geloofsprong neem. Jesus nooi hom uit om sy bron van vertroue op te gee en op Jesus alleen te vertrou deur Hom te volg. Jesus se oproep aan die jongman is ’n uitnodiging, maar ook ’n uitdaging om te beweeg na ’n dieper geloof. Maar vir hierdie geloof van selfontkenning, opoffering en diens aan ander sien die jongman nie kans nie. Hy skrik en gaan bedruk weg. Hierdie geloof waarvan Jesus praat, vra te veel van hom.
Die gesprek tussen Jesus en die ryk jongman dring ons daartoe om onsself af te vra: Volg ek maar net die reëls en geykte praktyke van my oorgelewerde geloof? Of volg ek vir Christus op die weg van selfopofferende liefde en toewyding teenoor God en my naaste? Dit is maklik om te verval in ’n geloof wat net om selfbehoud gaan, ’n geloof wat na binne gekeer is. Daarom moet ons gereeld gekonfronteer word met die uitdaging wat Jesus aan die ryk jongman stel: Om ons vertroue weg van onsself en ons aardse sekerhede te draai en dit op God te rig.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom