Vrydag 12 Junie – Hoe moet ek voel oor die finale oordeel?
Prediker 11: 7-10
Ons wonder soms oor die finale oordeel. Hoe gaan dit wees, gaan ek die toets kan deurstaan, waarheen is ek op pad? Ons dink gewoonlik aan die finale oordeel as ’n dag van straf en oordeel. Dis dalk beter om eerder alles te vermy wat lekker is, want anders beland ek dalk in die verderf! Kom ons sien vandag die finale oordeel vanuit ’n ander perspektief: Die Here wil nie hê dat ek verlore moet gaan nie. Hy is so lief vir my dat Hy selfs sy lewe vir my opgeoffer het. Hy wil dat ek gered word. Hy wil vir my omgee. Die Here het selfs sy Heilige Gees gestuur om my by te staan en te help. Kom ons dink daarom vandag eerder aan die finale oordeel as ’n geleentheid. Hoekom ’n geleentheid? ’n Geleentheid om vir die Here te vertel hoe ek die gawes van die Gees aangeneem en gebruik het.
Kom ons gryp daarom vandag aan en maak die meeste daarvan sonder om bang te wees. Kom ons leef ons lewens voluit met blydskap en vreugde, en geniet wat ons doen. Kom ons leef op so ’n manier dat ons kan trots wees daarop. Nou kan ek vir die Here vertel hoe sy gawes my gehelp het om ’n beter mens te word, hoe dit my geliefdes en my medemens opgebou het, hoe dit sy lig laat skyn het. Nou is die finale oordeel nie meer ’n dag van verskrikking en angs nie, maar ’n geleentheid om saam met die Here opgewonde te raak oor sy koninkryk!
Gebed
Here, help ons vandag om anders oor die finale oordeel te dink. Dis nie net ’n dag van straf en oordeel nie, maar ook ’n geleentheid om dankie te sê. Help ons om vandag só te leef dat ons eendag saam met U opgewonde sal kan wees oor u koninkryk en die verskil wat die Gees in ons lewens gemaak het. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust
Maandag 9 Junie – Die Heilige Gees is God se onsigbare teenwoordigheid by ons
Johannes 14: 15-31 Ons het so pas saam met die kerk van Jesus Christus oor die wêreld heen die hemelvaart van ons Heiland herdenk. Die groot gevaar is dat die dissipels kon dink dat Jesus se hemelvaart ’n wegvaart was. Dat die hemelvaart beteken dat Jesus daar ver bo,...
Sondag 8 Junie (Pinksterfees) – ’n Geweldige groot krag tot beskikking van dié wat glo
Efesiërs 1: 1-23 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Ef 1: 3). Hierdie lofprysing aan God Drie-enig weerklink telkens in die eerste en verdere...
Saterdag 7 Junie – Deur sy Gees laat Hy wederliefde spruit
1 Korintiërs 13: 1-13; Matteus 22: 34-40 Min dinge in hierdie lewe het ewigheidswaarde. Paulus herinner ons daaraan dat daar wel drie dinge is wat ewigheidswaarde het: geloof, hoop en liefde, en dat die grootste hiervan die liefde is. Die liefde is geduldig,...
Vrydag 6 Junie – Ingeplant in die wingerdstok
Johannes 15: 1-8; Galasiërs 5: 22-26 Galasiërs 5: 22-23 gee my geweldige hoop vir die mensdom. Dink net hoe wonderlik sou dit wees as almal so wil leef? ’n Mens kan seker redeneer dit is nie moontlik nie, want ons is maar net menslik en heel dikwels kies ons om...
Donderdag 5 Junie – My ewige meeloper
Rut 1: 16; Johannes 14: 21-25 Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek die geskenk van ’n persoon se teenwoordigheid eerder as ’n tasbare geskenk. Telkens as ek ouer lidmate besoek, hoor ek hulle sê: Al wat ek wil hê, is dat jy soveel moontlik vir my moet kom kuier. Ek...
Woensdag 4 Junie – Wat ’n vriend het ons in Jesus
Johannes 14: 15-20; Johannes 15: 15 Ek het heel dikwels geluister hoe my ouma die Halleluja-lied, Wat ’n vriend het ons in Jesus, gesing het. Ek dink nie ek het altyd die diepte van die lied besef nie. Natuurlik het ek van kindsbeen af besef dat daar niks kosbaarder...