Prediker 11: 7-10
Ons wonder soms oor die finale oordeel. Hoe gaan dit wees, gaan ek die toets kan deurstaan, waarheen is ek op pad? Ons dink gewoonlik aan die finale oordeel as ’n dag van straf en oordeel. Dis dalk beter om eerder alles te vermy wat lekker is, want anders beland ek dalk in die verderf! Kom ons sien vandag die finale oordeel vanuit ’n ander perspektief: Die Here wil nie hê dat ek verlore moet gaan nie. Hy is so lief vir my dat Hy selfs sy lewe vir my opgeoffer het. Hy wil dat ek gered word. Hy wil vir my omgee. Die Here het selfs sy Heilige Gees gestuur om my by te staan en te help. Kom ons dink daarom vandag eerder aan die finale oordeel as ’n geleentheid. Hoekom ’n geleentheid? ’n Geleentheid om vir die Here te vertel hoe ek die gawes van die Gees aangeneem en gebruik het.
Kom ons gryp daarom vandag aan en maak die meeste daarvan sonder om bang te wees. Kom ons leef ons lewens voluit met blydskap en vreugde, en geniet wat ons doen. Kom ons leef op so ’n manier dat ons kan trots wees daarop. Nou kan ek vir die Here vertel hoe sy gawes my gehelp het om ’n beter mens te word, hoe dit my geliefdes en my medemens opgebou het, hoe dit sy lig laat skyn het. Nou is die finale oordeel nie meer ’n dag van verskrikking en angs nie, maar ’n geleentheid om saam met die Here opgewonde te raak oor sy koninkryk!
Gebed
Here, help ons vandag om anders oor die finale oordeel te dink. Dis nie net ’n dag van straf en oordeel nie, maar ook ’n geleentheid om dankie te sê. Help ons om vandag só te leef dat ons eendag saam met U opgewonde sal kan wees oor u koninkryk en die verskil wat die Gees in ons lewens gemaak het. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust