Op 9 April word die teregstelling van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog 75 jaar gelede herdenk. Hierdie is ’n oorsig van sy lewe.

Vanjaar is die 75-jarige herdenking van die ysingwekkende vervolging van Jode (Holocaust) deur Nazi-Duitsland. Een van die mees prominente teoloë wat weerstand teen die Nazi’s gebied het en uiteindelik met sy lewe daarvoor geboet het, was Dietrich Bonhoeffer.

Die tweeling Dietrich en Sabine Bonhoeffer is op 4 Februarie 1906 in Breslau, Duitsland (vandag Pole), gebore. Hy groei op in ’n gegoede, intellektuele middelklasfamilie en vriendekring.

In 1923 begin hy studeer aan die Universiteit van Tübingen, maar skuif ’n jaar later na die Universiteit van Berlyn. Hy studeer onder Adolf Deissmann, Hans Lietzmann, Adolf von Harnack, Karl Holl en Reinhold Seeberg. In 1927 voltooi hy sy doktorsgraad oor Sanctorum Communio (Die gemeenskap van die gelowiges), wat drie jaar later gepubliseer word.

Hy word aangestel in Spanje as tydelike hulppredikant vir ’n Duitse gemeente. In 1929 reis hy na New York en studeer aan die Union Teologiese Seminarium. Sy deelname aan die Afro-Amerikaanse kerk in Haarlem en die lesings van Reinhold Niebuhr het ’n wesenlike invloed gehad op sy ontwikkeling. Hy word ook aan pasifisme blootgestel en sien af van sy aanvanklike steun vir nasionalisme. In 1931 keer hy terug na Duitsland en ontvang ’n dosentepos aan die Universiteit van Berlyn. Hy reis na Bonn en ontmoet Karl Barth – ’n hegte vriendskap ontstaan tussen hulle. Terselfdertyd versterk sy bande met die ekumeniese gemeenskap en word hy as die Internasionale Jeugsekretaris vir Duitsland en Sentraal-Europa vir die Wêreldgenootskap van Kerke (WGK) verkies.

Na aanleiding van die Nasionaal Sosialistiese Party (Nazi Party) se verkiesingsoorwinning het daar ook ’n kerklike stryd, Kirchenkampf, in Duitsland ontstaan. Hitler proklameer dat nie-Ariese burgers (mense met drie of selfs vier Joodse voorgeslagte) summier uit publieke diens afgedank moes word. Sodoende is heelwat predikante ook afgedank. Bonhoeffer skaar hom by die ekumeniese weerstand teen die Nazi-gesteunde kerk en spreek hom in die openbaar sterk uit teen die Führer.

In September 1933 is die Ariese-bepaling egter deur die Duitse Kerk aanvaar en neem Bonhoeffer, uit reaksie daarteen, verlof om twee Duitssprekende gemeentes in Londen te gaan bedien. Hy woon die WGK se vergadering te Fanö in Denemarke by waar Duitsland slegs deur die sogenaamde Duitse Christene, die pro-Hitler-groepering, verteenwoordig is. Onder Bonhoeffer se invloed het die WGK die pro-Hitler-groep verwerp en hulle geskaar by die standpunte van die ekumeniese Belydende Kerk.

In 1935 vertrek hy na Finkenwalde aan die Oderrivier, wat vandag in Pole is, om die opleiding van die Belydende Kerk waar te neem. Hy het ’n nuwe manier van opleiding ingestel in die vorm van ’n studerende gemeenskap waar studente naas studie en aanbidding ook daaglikse huistake moes verrrig. Vanweë sy teenstand teen Hitler, is sy pos aan die Universiteit van Berlyn van hom af weggeneem.

In Finkenwalde ontmoet hy Maria von Wedemeyer en hulle raak later verloof. Sy eerste populêre werk, Nachfolge (The cost of discipleship), is in 1937 gepubliseer. Hierin kritiseer hy die  “goedkoop genade” van die tradisionele Duitse Kerke. Ware dissipelskap van Jesus Christus is navolging teen ’n prys.

Die Finkenwalde-skool is amptelik deur die regering verban, maar bly klandestien voortbestaan tot in 1940. Bonhoeffer se bewegings is ingeperk en enige openbare optrede soos prediking of lesings is hom belet.

Om militêre diensplig te ontwyk, word hy ’n boodskapper vir die Duitse Intelligensiediens, Abwehr. Die anti-Hitler-lede van die Abwehr tree met hom in gesprek oor ’n moontlike sluipmoord op Hitler.

As deel van sy betrekking mog hy nou buite die grense van Duitsland reis en besoek hy die voorsitter van die WGK, Visser’t Hooft, in Genève om sodoende internasionale steun teen die Nazi-regering te werf. Deurgaans was hy betrokke by weerstandsbewegings binne en buite Duitsland.

Op 5 April 1943 is Bonhoeffer saam met ander Abwehr-lede deur die Gestapo gearresteer. Met sy arrestasie was hy nog net ’n maand lank verloof. Hy is sonder enige klag in Tegel se militêre gevangenis in Berlyn opgesluit. ’n Gefabriseerde klagstaat is eers ses maande later op hom beteken. Tydens die 18 maande in die Tegel-gevangenis het hy heelwat briewe en notas geskryf wat die latere Letters and papers from prison uitgemaak het.

Bonhoeffer is daarna na die Gestapo-gevangenis in Prinz Albrecht Strasse oorgeplaas, waar hy aangehou is tot Februarie 1945, waarna hy in die geheim na die konsentrasiekamp van Buchenwald geneem is. Op 3 April is hy oorgeplaas na die Flossenbürg-konsentrasiekamp in die Beyerse woude, maar omdat die kamp te vol was, is hy tydelik in Schonberg aangehou. Op 9 April 1945, bykans ’n maand voordat die oorlog verby is, is hy in Flossenbürg (onder direkte bevel van Hitler) tereggestel en sterf hy aan die galg.

So is ’n uitsonderlike teoloog en gelowige van die kerk en wêreld ontneem, en ’n mens kan maar net dink wat ons nog alles van hom kon leer, sou hy dalk nog langer gelewe het.

(Dr Deon du Toit is ’n beroepafwagtende predikant van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap