In ’n artikel in die ATKV se Taalgenoot in Februarie 2021 vra Schalk Schoombie: Afrikaans skrik nie vir swets nie. Maar hoort vloekwoorde en kruhede in die digkuns, waar woorde fyn gekeur en ekonomies ingespan word?
In dieselfde artikel stel Antjie Krog dit só: Ek is altyd ’n bietjie verbaas as mense vrae oor vloek vra, of nog frons daaroor. Miskien val hul samelewings uit die wolke; miskien lewe hulle in ander tale, kyk ander programme, lees ander boeke. Sedert die weermag duisende en duisende jong manne opgeroep en deur middel van Afrikaanse vloekery geïntimideer en paraat gemaak is, druis Afrikaans om ons heen in ’n magtige vloekrivier. … Nog altyd het elke generasie digters, van oom Lokomotief tot vandag se rappers, opnuut aanspraak gemaak dat hulle skryf soos “die mense praat”; dat jou gedigte uit ’n voormalige keurslyf breek. So, waarom op aarde sal ’n vloekende samelewing nie stem kry in die poësie nie? Ons skryf so vloekende, want ons leef so vloekende.
Só reageer Daniel Hugo: Wanneer taboewoorde herhaaldelik gebruik word, verloor hulle baie gou hul skokeffek. … Die digter ondermyn inderwaarheid sy of haar taal. … Dit skep ’n nuwe retoriek; dit maak clichés van kragwoorde.
En Deborah Steinmair, in daardie stadium uitgewer by Protea Boekhuis: Poësie is taal in die hoogste versnelling. Dis die konsentraat, die bitter droesems van woorde. Dit kan nie aan bande gelê word nie. In digkuns is elke woord ’n kragwoord, daarom is dit nie vir blourokke en bleeksiele nie. Dit verg moed. Daarom gaan ek nooit digters aan bande lê met voorskrifte van fatsoenlikheid nie.
En voeg sy by: Gelukkig of ongelukkig skrik digkuns as genre in elk geval die grootste deel van die leserspubliek af. Dit bring ’n sekere vryheid mee: die vryheid van die verstoteling en veroordeelde.
Eina! Digkuns is nie vir bleeksiele nie. Nè? Dieselfde bleeksiele wat veroordeel word as hulle nie die (duur) digbundels koop nie?
Vroeër vanjaar duik die vloek-of-nie-vloek-in-gedigte-gesprek weer op, onder meer na aanleiding van Antjie Krog se nuutste bundel, Plunder.
En op 23 April lees ek Sonja Loots se Rapport-rubriek waarin sy vertel dat ’n kinetiese gedig (waarin herhaling visueel patroonmatig voorkom) van die anti-apartheidskritikus Wopko Jensma (uit sy reeks gomringer variasies) haar lustelose derdejaarsklas uit hul verveeldheid losgeruk het. Dis veral die musikale verwerking wat Juliana Venter en Rolf-Erik Nystøm van die gedig by ’n poësiefees in Oslo gelewer het, wat hulle wakker skud. (Dit kan op YouTube gekyk word.) Sonja skryf: Ek staan en hou die studente dop. Dit is die soort oomblik waarvoor opvoeders leef. Hulle raak wakker, vergeet van hul fone, laat vaar die sinisme en hardgebaktheid en laat hulle pens en pootjies meesleur. Hier en daar val een se mond letterlik oop. As hulle lag, is dit nie meer misprysend nie, maar eerder ongelowig. Dit is stil toe die musiek wegsterf.
[Lees gerus die teks “Ons kyk vanself – Kreatiewe Skryfkuns, konkrete poësie en ’n verset teen skrywersnorme” van Leti Kleyn, by https://literator.org.za. In dié artikel fokus sy op haar kunstenaarsboek Sanity on the line, ’n katalogus van individuele (studente-)werk saamgestel uit ’n snipperdigprojek wat as deel van die kunstenaarsboekprojek Oor die einders van die bladsy uitgestal is. Sy kyk onder meer na die fenomeen bekend as konkrete poësie, en fokus op onder andere voorbeelde uit die Afrikaanse letterkunde, soos die werk van Wopko Jensma.]
Dit is alles baie interessant, en vanweë my studies jare gelede in onder meer letterkunde kan ek die waarde en invloed van verskillende soorte skryfwerk verstaan en waardeer, maar gaan ek, eintlik maar as gewone leser, noodwendig my swaarverdiende salaris spandeer op duur digbundels wat wemel van kragwoorde, hoe hartverskeurend die emosie daaragter ook al? Gaan ek enige daarvan kan deel in ons weeklikse elektroniese Blitspos?
Móét ek dan gebrandmerk word as ’n “bleeksiel”?
Ag nee wat. In die huis van die letterkunde is daar baie wonings. En hoewel ek nie soek na rymelary en romantiese versies nie, mag ek maar seker rustig deur die winkels se beperkte digbundels blaai, en sélf besluit wat ek wil koop en lees. En dit geniet!
Oop plek
poësie is ver van kuns
ophang kan jy dit nie
en verkoop nog minder
dit het weinig waarde
vir die belegger
en filmmaker
dit ontstig die uitgewer
boekhouer en rugbyspeler
selfs digters het van mekaar
min goed te sê soos tennisspelers sou:
goeie afslaan of mooi hou
diep distigon! slim sestet!
al wat die poësie regtig het
al wat die poësie regtig het
al wat die poësie regtig het
is die alomteenwoordige nie-leser
Christo van der Westhuizen
(Uit: Chrisalis, 2019)
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
