Swaarkry is ’n reis na identiteitsvinding. Dit is die droë jare wat die harde hout maak.

Die wêreld het nood nodig. My pa het graag die beeld gebruik van ’n mielieplant wat te veel reën kry. Nie net word die grond van belangrike voedingselemente uitgeloog nie, maar dit maak ook die plant lui. ’n Bietjie droogte dwing die plant se wortels om na die vog te gaan soek. Op dié wyse verhoog die plant se absorpsievermoë, en die plant word terselfdertyd sterker. Om optimaal mielie te wees, moet daar droogte ook wees.

Miskien meer as wat ons wil besef, het die wêreld Covid-19 nodig. Dalk het ons deur die verloop van goeie jare gedeïdentitiseerd geraak. Wat bedoel ek daarmee? Die gedagte is dat ons in ’n groot mate ons identiteit verloor het. Ons weet nie meer regtig wie ons self is nie. Ek weet nie meer regtig wie ek self is nie. Ons gesin weet nie meer wie ons self is nie. In ’n groot mate het ons in ’n roetinebestaan vasgevang geraak.

Dit is die soort bestaan waar die lewe en die wêreld in baie opsigte veilig, voorspelbaar en seker is. ’n Soort geprogrammeerde, geïnstitusionaliseerde bestaan. Die wêreld is gedigitaliseer en geoutomatiseer. Kwalik kan ons nog van iemand se handskrif praat. Hoogstens het ons dalk ’n gunsteling-lettertipe op ons rekenaarprogram. Daar is nie meer ’n vriendelike ontvangsdame wat die telefoonoproep antwoord nie. Ons lewe word deur regte en regulasies gereguleer. Covid-19 mag dalk net die katalisator wees wat ons help om ons eie identiteit te herontdek, oftewel ons te herïdentitiseer.

Die wêreld is tans ’n blanko vel papier. Covid-19 krap daarop. Vir ons is dit nog ’n ongekodeerde taal wat net deur tyd duideliker en meer verstaanbaar sal word. Maar dalk is dit baie goed vir die wêreld. Dit is immers vanuit ’n Anglo-Boereoorlog dat ’n Winternag gebore is. Dink maar aan al die boeke, films en gedigte wat deur die trauma van die Wêreldoorloë uitgebeitel is. Hierdie virus is dalk ons graaf wat ons sagte velle afskaaf om môre plek vir geëelte hande te maak. Ons omstandighede is die aktivering van die ligsensitiewe sensor van die kamera wat die pyn, hartseer, maar ook hoop, in RAW-formaat opneem. Hoeveel boeke, films en gedigte sal hieruit gebore word? In nood word die wêreld ’n gedig.

Identitisering moet ook koïdentitisering wees. Wanneer ek ontdek wie ek self is, raak ek ook bewus van die unieke ander mens naby en rondom my. Niemand kan sonder identiteit nie. Daar is ’n noue verband tussen selfidentiteit en selfbeeld. Elke persoon se identiteit is sy of haar identiteit. Nie iets waarop ander kan neersien of wat hulle as minderwaardig kan beskou nie. Koïdentitisering staan direk teenoor iets soos rassisme. Die newe-effek van die jarelange stryd teen en debat oor apartheid is dat ons dalk die kind saam met die badwater uitgegooi het. Dit sou beter gewees het om tussen gesonde en ongesonde identiteit te onderskei. Ons mag wéés. Trouens, dit is wenslik dat ons ’n identiteit moet hê, maar nooit ’n meerderwaardige, neersienende identiteit nie.

Selfidentitisering, koïdentitisering, word uiteindelik gedefinieer deur my identiteit voor God. Wie is ek voor God? Is ek nog voor God? En hoe kan ek weer voor God kom? Dit is in my identiteit voor God dat die ander vorme van identiteit hul balans vind. In Jesus se opsomming van die wet, in Matteus 22: 35-40, staan dalk baie meer as wat ons besef: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

NP van Wyk Louw se gedig Ignatius bid vir sy orde het dalk iets vir ons ook te sê:

Dat pyn bestaan, is nodig, Heer,
sodat U aarde vol kan vloei
van rykheid, en die soet geduld
óók aan U vreemde boom kan bloei.

Maar gee vir óns die lot van smart
tot aan die einde van U dae;
laat daar aan ons gepynig word,
maar ons nooit pyn maak nie of klae.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link