Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. (Johannes 21: 12, AFR2020)
Lees Johannes 21: 1-14
Daar word jaarliks groot gewag gemaak van die gebeure in die kerklike jaar wat strek van Kersfees tot Paasfees, selfs die wêreld waarin die kerk leef en werk is klaarblyklik ook gaande, veral tydens Kersfees. Dit is verder ook opvallend dat die aantal besoekers in eredienste van verskillende gemeentes met Kersfees gewoonlik veel beter is as tydens Paasfees. Waarskynlik het dit te make met die bewuste of onbewuste siening dat makliker met ’n pasgebore kind in sulke nederige omstandighede omgegaan word as om die geweld van die wêreld te aanskou waar mense in die openbaar gekruisig is. Moontlik leef daar ook ’n ietwat sentimentele siening oor die Jesuskind se geboorte wat makliker verteerbaar is as die lydende Seun van God aan die kruis.
Dit is natuurlik so dat Kersfees nie los van Paasfees en Paasfees nie los van Kersfees gesien en hanteer kan word nie. Die Jesus van Kersfees is nie ’n ander Jesus as die Jesus van Paasfees nie. Die Jesus van Kersfees is die Seun van God wat volledig mens was om die sonde van die wêreld te dra, maar ook volledig God was om die sonde van die wêreld wég te dra. Albei hierdie twee groot gebeurtenisse in die kerklike jaar verg ’n bepaalde korreksie tot dieper insig. Die kind is die Verlosser wat daar gebore is en die man aan die middelkruis is die Here wat dood en hel oorwin het. Dit is dié gebeurtenis op Paassondag wat plaasvind in ’n Goeie Vrydag-wêreld.
Miskien is dit ’n nog uitnemender korreksie vir gelowiges om nie net te bly staan tussen Kersfees en Paasfees nie, maar ernstig kennis te neem van die gebeure tussen Paasfees en Tiberias. Daar is ’n verskil tussen die voor-Paasfees- en die na-Paasfees-Jesus. Die na-Paasfees-Jesus is die Here wat die dood oorwin en verder inklusief en omvattend alle magte van die bose deur sy dood en opstanding getroef het. Hy is die Here wat bely word, die opgestane Heer, wat deur die opstanding triomfantlik die Hoof en Heer van die kerk is, en die rigting waaraan die sondaarmens blootgestel was deur die sonde, verander het om hemelgerig te leef en daaraan gelowig vas te hou.
Die ontdekking wat die dissipels moes maak nadat hulle moedeloos teruggeval het op hul troostelose bestaan van vroeër, was dat die Here leef, dat Hy méér is as net Jesus van Nasaret.
Daarop volg die belangrike belydenis in hul ontdekking, naamlik: Dis die Here. Hierdie belydenis in die weg van Paasfees na Tiberias het vir hulle, maar vir die kerk, ook en veral hedendaags, kritiek belangrike gevolge. By alles moet die gebeure in die erediens daarop uitloop, sodat die figuur van die bedienaar van die Woord uit fokus kan raak en lidmate huiswaarts keer met: Dit is die Here! Die kerk van hierdie dae word nie lamgelê deur ’n gebrek aan getalle of fondse nie, maar deur ’n afwesigheid van hierdie Tiberias-belewenis in die lewe van gelowiges wat, behalwe gereelde bywoning van eredienste, ook gevoed word deur volgehoue gebed, want deur gebed raak ons bewus van die teenwoordigheid van die Here in ons lewe.
Dit is nie so spontaan om krities op die self te wees nie, maar daar is altyd geleentheid om te werk aan wat genoem kan word ’n Hervormde spiritualiteit (vroomheid) wat deur die weg tussen Paasfees en Tiberias vorm aanneem, sodat uiteindelik in verwondering bely kan word: My Here en my God! (Joh 20: 28).
