Wat maak die dominee met ’n botteltjie parfuum op die kansel? Dis om skelm te drink! So sê die mense wat sy vyande is. En gou lê die storie met stertjies die hele Potchefstroom vol. En dis hoekom hy nie eens behoorlik kon loop tot by die pastorie ná die tyd nie.
Oom Henning Visser (80) vertel in 1925 ’n staaltjie aan ouderling Nico J Campher van Nooitgedacht, PK Rijkaart, van Klerksdorp-gemeente. Ons lees daarvan in De Hervormer van 15 April 1925. Dit gaan oor die laaste keer toe ds Dirk van der Hoff gepreek het. Broeder Henning Johannes Visser, gebore 14 Januarie 1844, het in ds Van der Hoff ’n persoonlike predikant met ’n noue verbintenis gehad. Op 24 Desember 1859 is hy deur ds Van der Hoff as lidmaat bevestig, en op 2 Maart 1863 in die huwelik bevestig met Salomina Maria Gertruida Strijdom. In 1870 word hy as diaken en in 1880 as ouderling bevestig in Potchefstroom-gemeente. Op die foto kan oom Henning en tant Salomina gesien word. Sy pa was “Jan Boomplaats” Johannes Hendrik Visser * 1813 † 1901.
Op die laaste Sondag dat ds Dirk van der Hoff gepreek het, was hy reeds siek en swak – ’n bejaarde 67. Op Sondag 2 Oktober 1881 was die 37-jarige Henning die ouderling wat saam met Dominee tussen die pastorie en die kerkgebou, met ’n stoel moes loop, want Dominee moes rus-rus en sit-sit heen en weer beweeg. Op die preekstoel kon die prediker ook nie meer staan nie. Die kanselstoel is op ’n stellasie geplaas sodat hy kon sit, en sigbaar wees, terwyl hy preek. In hierdie erediens het 63 jongmense belydenis van geloof afgelê, 50 kinders is gedoop, en nagmaal is gevier. Dit moes besonder vermoeiend gewees het vir die swak dominee; moontlik ook nog op ’n warm Oktoberdag. Visser vertel ook dat ds Dirk kort-kort iets gedrink het. Hy noem dit eau-de-cologne. Hoe het dit gekom dat die waardige ds Dirk van der Hoff met ’n botteltjie parfuum op die kansel gesien word?
Skoon water of ’n versterkinkie? Eau-de-cologne is letterlik water van Keulen – ’n bekende gegeurde alkoholmengsel uit Keulen, Duitsland. Dis oorspronklik as reukwater uitsluitlik daar vervaardig. Die ou mense het dit oliekolonie genoem. Dit was in die 18de en 19de eeu baie gewild, nie net as parfuum nie, maar ook as ’n geneesmiddel. Mense het dit gedrink – met water verdun – teen koors of swakheid, soos ’n opkikker of energiedrankie.
Hier is ’n tipiese 19de-eeuse resep vir eau-de-cologne, soos dit in aptekersboeke van die tyd voorgekom het. Dit is ook genoem aqua mirabilis: wonderwater.
Bestanddele: geurige (vlugtige of essensiële) olies: 30 g suurlemoen, 12 g bergamot, 6 g lemoen, 2 g neroli (lemoenblomolie/oranjeblom), 1 g roosmaryn, 1 g laventel en 1 g jasmyn. Die olies is ’n ruk in ± 1 liter 80-90% alkohol (gewoonlik wynspiritus) gelos om te “trek”. Daarna is dit gefiltreer en in botteltjies gebêre.
Gebruike: ’n Paar druppels op ’n sakdoek of in ’n botteltjie om te ruik teen duiseligheid of floute. Ook as spoelmiddel vir hande/gesig ter wille van verfrissing. Soms dan ook gedrink, soos in hierdie geval. Waarom sou mense dink Dominee was dronk? Omdat die basis sterk alkohol was, het dit vinnig die asem na drank laat ruik. As die dominee gereeld ’n slukkie geneem het vir sy siekte, kon mense maklik dink hy drink iets soos brandewyn op die kansel.
Dit was die gewoonte van ds Van der Hoff om kwartaalliks die Maandagmôre ná nagmaal ’n kerkraadsvergadering te hou en dan middagete saam aan ’n lang tafel in die pastorie, aangebied deur mev Anna Maria van der Hoff, te geniet. Ds Van der Hoff het weens swakheid die kerkraadsvergadering uitgestel na 10 Oktober. Hy het egter vir Henning alleen in sy kamer gesê daar sal op daardie dag geen kerkraadsvergadering wees nie, want dan sou hy al oorlede wees. En so was dit ook. Ds Van der Hoff is oorlede op 9 Oktober 1881.
Vandag drink die dominees kort-kort Energade – veral teen die einde van die jaar!
(Hooffoto: Oom Henning en tant Salomina Visser en ds Dirk van der Hoff)
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)