Marico – 14 Augustus 1868 – een geducht pak sjambokslagen. Nou Neef, sal ek darem jou dit vertel… Daar het toe mos ’n ding op die plaas Kwaggafontein van G Schoeman gebeur. Die petalje het twee hoofkarakters: Jan Viljoen en ds Frans Lion Cachet, en twee bykarakters: proponente Hofmeyr en Jooste.

Die bekendste en tipiese Transvaalse wesgrenspionier, koning op sy plaas en baas in sy wyk – dít was kommandant Jan Viljoen! Johannes Willem Viljoen: gebore 14 Mei 1812 op Kleinwintershoek distrik Uitenhage, gedoop 16 Augustus 1812 te Graaff-Reinet, oorlede 30 Maart 1893 op sy plaas Vergenoeg no 3 distrik Marico. Hy noem sy plaas Vergenoeg – ver genoeg weg van die Britse oorheersing! ’n Staat en kerk vry van Britse bande speel deurlopend ’n groot rol in Viljoen se lewe. Hy trou in 1833 met Maria Catharina Messer (1816-1900). Sy is ’n Duitse sendelingsdogter en hulle het 15 kinders. Viljoen was besonder kort en skraal van postuur met ’n wye baard en ’n uitdagende houding. Een klein oud mannetjie met twee zwarte fonkelende oogen, skryf ds JC de Vries. Van hierdie grootwildolifantjagter word vertel dat hy die Victoria-waterval vóór Livingstone gesien het. Weens sy verset teen Britse anneksasie van Transoranje (vandag die Vrystaat), beland hy in 1847 vir drie maande in Colesberg-gevangenis, maar omdat hy ’n oortuigde Hervormer was, die ou naam van die Kerk waarmee die Voortrekkers bekend was, weier hy herderlike besoeke van die NG predikant ds Reid. Sedert 1848 ná die Slag van Boomplaas vestig die Viljoens hulle in die Marico.

As ’n oortuigde Hervormer en getroue amptenaar (kommandant) het Viljoen gemeen die stigting van die Gereformeerde Kerk in 1859 was die oorsaak van die burgeroorlog van 1862-1864. Toentertyd het hy ds Postma van die nuwe Kerk verbied om naby Vergenoeg te kom. Nou wou hy ’n tweede kerklike afskeiding in Marico verhoed vanweë die Nederduitse Gereformeerde Kerk se verbintenis met die Britse Kaapkolonie. Hy was bang dat nuwe staatkundige beroeringe en broederbloedverlies sou volg. Nóg ’n nuwe kerk was vir hom die grootste ramp denkbaar!

Ds Frans Lion Cachet (1835-1899, gebore in Amsterdam van Joodse ouers wat in 1849 tot die Christendom oorgegaan het) was sedert 1865 predikant van Gemeente Utrecht wat reeds verbonde was aan die Kaapse NG Kerk. Op die Algemene Kerkvergadering van die NHK in November 1865 gee hy te kenne dat hy de geheele Republiek in lengte en breedte te zullen doortrekken om zuiver gereformeerde gemeenten op te richten. Onder sy leiding kom die Transvaalse Nederduitsch Gereformeerde Kerk in 1866 tot stand. Dit was gespanne en bitter tussen die NHKA en NGK. Die Kaapse NG Kerk het twee pasafgestudeerde proponente van Stellenbosch, proponent Arend Hermanus Hofmeyr (1837-1903) en proponent Jacobus Petrus Jooste (1844-1929), afgevaardig om ondersoek in te stel na die kerklike toestande in die ZAR. Maar in plaas van ’n onbevooroordeelde waarneming, was hulle spoedig onder die invloed van Cachet en help hulle mee met die bestendiging van die skeuring. Spoedig was die Marico-distrik aan die beurt. Op Donderdag 13 Augustus sou Cachet en die twee proponente kerk hou op die plaas Koedoesfontein van John Snow en op die 14de en 15de by DJ van der Berg – met die oog op ’n moontlike gemeentestigting.

Viljoen kom te hore van die dominee se voorneme om in Marico te kom kerk hou. Hy sien gevaar daarin vir sy wyk en poog per brief om hulle op die 12de te laat omdraai. Toe ds Cachet die brief in die wa lees, het hy egter net gelag en gesê: Jan Viljoen is gek, ik zal kerk houden waar ik wil! Viljoen het hulle daarna persoonlik by Maricosdrift (die grens) voorgekeer. Harde woorde val en Viljoen stamp die dominee onder sy neus. Maar steeds word die reis voortgesit – selfs met ’n staptog van Cachet en Jooste deur die nag – en die beplande diens by Snow word gehou. Dit blyk dat Viljoen kort tevore ’n slaanding gevra het waarmee hy Cachet kon slaan en vir dié doel het hy ’n besondere sambok uit dié wat aan hom aangebied is, uitgesoek. Sy vriend Albert Meintjies (sr) het glo gesê dat hy Cachet daarmee uitmekaar gaan skeur.

Die hooftoneel vind ons nou op 14 Augustus by die woonhuis van G Schoeman op die plaas Kwaggafontein. Terwyl ds Cachet by die osse gestaan het, het Viljoen, sittende op sy perd, skielik in die rigting van Cachet begin ry met die oënskynlike doel om hom onderstebo te ry. Cachet het uit die pad van die aanstormende perd gespring, maar Viljoen het sy perd omgedraai en vir ’n tweede keer, als een razende, in die rigting van Cachet aangejaag gekom. Toe Cachet die teuels van die perd probeer vasgryp het, het Viljoen hom met sy sambok (Hofmeyr het verklaar een kameelzweep met het handvat van een jagtzweep) twee houe oor die linkerskouer gegee. Twee roode dikke streepen wat die volgende oggend paarsch kleurig-blaauw was. Hulle is ’n hele ent soos gevangenes weggeneem en vrygelaat om na dezen nimmer weder in Marico sal begefen om ferdere moeyelykheyt te fer oor saaken. Op 15 Augustus word die NG gemeente Marico toe wel gestig waar ’n piepklein dorpie Jacobsdal, suid van Zeerust, later was.

Ds Cachet-hulle het die Marico-distrik op 20 Augustus verlaat en lê verklarings voor landdros Otto van Potchefstroom af. Die aanklag teen Viljoen is egter nooit verder gevoer nie en het doodgeloop. Tog jammer, want die verweer van Viljoen en sy mense sou ’n ander kant van die donker prent belig. Hierdie voorval het mettertyd rugbaar geword en is in die breë met afkeur bejeën. Viljoen was later self spyt daaroor en wou glo nooit juis daaroor praat nie. Selfs op die derde sinode van die Transvaalse NGK in Desember 1868 in Potchefstroom duik dit via ’n beskrywingspunt van Amersfoort op en daar is besluit om Viljoen oor te laat aan Hem (God) die rechtvaardig oordeelt.

Jan Viljoen was nooit ’n ampsdraer nie, maar wat sý Nederduitsch Hervormde Kerk betref het hy alles behalwe passief gestaan. Hy het fanaties gestaan by wat hy geglo het reg was. Jan Viljoen se Statenbybel word in ons Kerkargief bewaar. Dis in November 1868 juis kort na die sambokinsident aan hom deur Barend Burgers, die broer van president Thomas Burgers, geskenk. 

(Hooffoto: Ds Frans Lion Cachet en Jan Viljoen)

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Jan Viljoen se Bybel

Jan Viljoen en Barend Beyers