Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. (2 Korintiërs 4: 7)

Hierdie beeld het so tot my gespreek: kleipotte wat maklik breek. Die tyd en eise van die tyd laat ’n letsel op die mense om ons en ook op ons. Vir ’n oomblik voel ek ook soos ’n kleipot wat maklik kan breek.

Lees ’n mens egter die Griekse teks, kom jy iets verrassend agter. Die frase wat maklik breek ontbreek. In die 2020-vertaling is dit inderdaad nie daar nie. Dit laat die vraag ontstaan: Die kleipotte waarvan Paulus praat – hoe breekbaar is dit nou werklik?

Kyk ons hoe die teks in die verlede geïnterpreteer is, sien ons duidelik twee opvattings. Aan die een kant sien hulle in die teks kleipotte wat breekbaar, onaansienlik, swak en goedkoop is. Miskien is dit vir ons vandag maklik om die breekbaarheid van ’n kleipot deeglik te besef. In vergelyking met ysterpotte is dit seker so. Maar onthou, in daardie tyd is yster nie as ’n pot of kruik geken nie. Daarom is daar ook ander verklaarders wat die duursaamheid en die bruikbaarheid van gebakte kleipotte uitlig.

WC Vergeer wys in sy sosio-historiese ontleding van die teks (In Skriflig, Volume 42 Nommer 2, Januarie 2008, AOSIS Publishing) daarop dat kleipotte gemaak in Korinte in dié tyd allemins gesien is as breekbare, swak artikels. Inteendeel; dit was vir hulle ’n goddelike wonder, ’n geskenk van die gode dat sagte klei so kon verander in vuur dat dit hard, duursaam en bruikbaar is. Van die begin af was Korinte bekend vir sy kleipotte. Die besondere aard van die klei het duursame artikels opgelewer wat gebruik is vir die vervoer van olie en wyn, en selfs vir duur skatte soos goud en silwer.

’n Nuwe verstaan van die teksvers bring my by hierdie besef: Ons is toe nie so breekbaar nie. Al voel dit vir ons asof ons so maklik kan breek, is ons eintlik sterk. Ons kan baie meer verduur as wat ons dink. Vuur vernietig ons nie. Dit bak ons. Maak ons sterk. Lyding is die vuur wat ons sterker maak. Ons kan omstandighede oorwin, baie erger omstandighede as wat ons kon dink.

Boonop het ons ’n skat in ons, ’n krag wat van God kom, ’n krag wat alles oortref. 2 Korintiërs 4: 7 bemoedig mense in diens van God met die gedagte dat hulle deur die wonderbare krag van God wat in hulle werk, in staat is om omstandighede te verduur wat ver bo hul natuurlike vermoë strek.

Mag ons in 2021 dié krag binne ons ontdek.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap