Die ordening van prop Peet Bloem is op 1 Maart deur die koor van Gemeente Secunda geopen. Ds Peet se intreeboodskap het oor die ongemaklike pad van Jesus op pad na die kruis gehandel, maar het ook die teenwoordiges uitgedaag om hul eie ongemaklike pad waartoe hulle geroep is, te omarm.
Ds Peet Bloem se pad het in Delareyville begin met sy geboorte in 1958. Alhoewel hy van kindsbeen af ’n roepingsbewussyn ervaar het, het hy uiteindelik besluit om eers vir vier jaar as ’n lid van die destydse SAP te dien en die volgende 36 jaar as ambagsman by Sasol werksaam te wees. Uit sy huwelik met sy vrou, Ina, beleef hulle seën deur die geboorte van hul drie dogters: Ronel, Marlene en Lienkie.
Gedurende hierdie 40 jaar het sy roeping om predikant te word, konstant in sy gedagtes gedraai. In 2019 duik ’n geleentheid op om dié roeping in die bediening op te neem. Hierdie geleentheid is moontlik gemaak deur die herstrukturering wat by Sasol plaasgevind het. Ds Bloem het toe ’n gesprek met sy vrou gevoer en hulle het tot die besluit gekom dat hy aansoek gaan doen om as teologiestudent van die Hervormde Kerk by die Universiteit van Pretoria te studeer.
In 2020, op die ouderdom van 61, begin ds Peet sy pad na die bediening as eerstejaar teologiestudent. Met die afhaal van sy studentekaart het die sekuriteitswagte vir hom aangedui dat dié geleentheid nie bedoel is vir ouers of grootouers wat hul kinders vergesel nie, grap hy.
Binne die eerste jaar van sy studies beleef hy onsekerheid oor die voltooiing van sy kursus. Nes die toneel van Jesus in die woestyn wat hy in sy preek geskets het, het hy self hierdie ongemaklike plek beleef waar sy karakter getoets word. Hy verduidelik dat hy uiteindelik besluit het: Daar is ook wonderwerke in die woestyn – wonderwerke in die vormingsproses. Dit is veral belangrik wanneer ’n mens jouself in ’n woestyn van verwagtinge bevind. Maar daar is sekere waarhede wat konstant bly: die Here laat alles op sy bepaalde tyd geskied, selfs al is dit op die jong ouderdom van 68.
Gemeente Secunda is sedert 1983 die geestelike tuiste van die Bloem-gesin. Dit is hier waar ds Peet oor die jare as diaken, ouderling en nou uiteindelik ook as predikant gedien het.
Op hierdie pad – die pad van roeping – is ds Peet deur persone soos drr André Ungerer, Frikkie Labuschagne en di Martin Meyer en Hannes Wolmarans bemoedig. Die ondersteuning en bemoediging van sy klasmaats, naamlik ds Christo Pieterse, prop Kharla Guest en di Zanedrieka de Lange, Helga du Plessis en Carien Janeke was vir hom ’n groot bron van inspirasie.
(Hooffoto:Ds Peet en sy vrou, Ina)
(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)
Ds Peet Bloem en sy gesin