Ek wil behoort, sluit my in asseblief, moet my nie vergeet nie, al kos dit ’n bietjie moeite.

Hierdie is die woorde van Daniël, ’n jongman wat ’n breinbesering opgedoen het in ’n ongeluk. Na baie maande van mediese behandeling het hy weer kerklike aktiwiteite begin bywoon. Hy het egter nou beperkinge ten opsigte van sy spraak, mobiliteit en handfunksies. Daniël en ’n groep ander persone met gestremdheid het in ’n navorsingsprojek hul voorstelle gegee oor hoe hul insluiting in die kerk bevorder kan word.

Daniël vertel soos volg van sy ervarings in die kerk:

Ons wil net menswaardig behandel word soos enige ander persoon

Daar is geen plaasvervanger nie vir die absoluut onvoorwaardelike aanvaarding van persone met gestremdheid. Ek wil net graag toegelaat word om in die kerk deel te neem op my eie terme. Ek gaan kerk toe om God te dank vir my lewe, en nie om genees te word van my gestremdheid nie, of om jammerte van ander te ontvang nie.

Dit sal baie help as mense met my soos met enige ander persoon interaksie het. Ek weet ek het nou beperkinge, en my breinprosesse is stadiger, maar moet asseblief nie met my omgaan asof ek NIKS kan doen nie. Moet veral nie namens my praat as ek soms stadig praat nie.

Vertrou my met die vermoëns wat ek wel nog het. Dit maak my moedeloos as ek sien mense dink ek is hulpeloos. Dit voel of hulle my menswaardigheid misken. Sommige mense praat met my by die kerkbasaar op ’n manier wat wys dat hulle my nie regtig vertrou om die geld te tel nie. Een tannie praat met my asof ek ’n kind is. Haar neerbuigende houding bevorder nie ons verhouding nie.

Laat ons tog die persepsies oor gestremdheid verander

Sommige mense het die persepsie dat gestremdheid ’n abnormale en onaanvaarbare verskynsel is. Daarteenoor voel ons as persone met gestremdheid dat ons “andersoortige” lewenstyl bloot deel is van die verskeidenheid van die lewe. Ek voel soms om vir mense te sê: Die woord “normaal”, jy beter mooi dink wat dit regtig beteken, miskien is dit bloot net ’n stelling op ’n wasmasjien!

Daar is ook so baie ongegronde persepsies oor die oorsake van gestremdheid. Mense in die algemeen, maar ook ons as gestremdes, wil dikwels die oorsaak soek in iets wat verkeerd gedoen is, en soek dan iemand om te blameer. Dit sal ’n groot verskil maak as ons almal maar net ons medemenslikheid met mekaar sal deel in hierdie gebroke wêreld waaraan ons almal blootgestel is.

Die mees vrymakende persepsie van gestremdheid is dat dit bloot deel is van die diversiteit van ons samelewing. Dus verdien elke persoon op aarde, en juis ook gestremdes, onvoorwaardelike respek en aanvaarding.

Betekenisvolle geestelike ondersteuning behels sensitiewe luister en toepaslike hulp wat daartoe lei dat die persoon sy lewensdoel bereik. Dit gaan daaroor om jou eie doel te vind as ’n persoon met ’n gestremdheid, hoe jy ook kreatief kan wees.

Toeganklike geboue is belangrik ja, maar dis nie al nie

My vriend Kobus sê altyd: Dit gaan nie in die eerste plek oor ’n oprit (“ramp”) by die ingang nie, dit gaan oor die afbreek van mure tussen gestremdes en nie-gestremdes. Inderdaad moet ons kyk dat alle fasiliteite by die kerk toeganklik is – die looppaadjies, die toilette – asook in die erediens moet die behoeftes van gestremdes in ag geneem word. Vra asseblief vir die gestremdes by jou kerk waar die haakplekke is, en hoe hul ervaring van die fasiliteite en geboue vergemaklik kan word. Moet egter nie daarmee volstaan en dan dink ons het ons deel gedoen nie. Die grootste bewys van omgee is om direkte vriendskap te bou tussen gestremdes en nie-gestremdes.

Bevorder die bewussyn ten opsigte van gestremdheid by elke moontlike geleentheid

Dit is belangrik om op gereelde basis bewustheid te bevorder. ’n Paar idees in dié verband is die volgende:

  • Nooi gereeld iemand met gestremdheid om deel te neem aan die erediens, byvoorbeeld met Skriflesing uit die Braille Bybel, of vertel haar lewensverhaal.
  • Maak die jaarlikse Sondag vir Persone met Gestremdheid deel van die kerkprogram – elke jaar op die laaste Sondag van Augustus.
  • Maak seker dat alle kerkaktiwiteite toeganklik is vir gestremdes, in terme van die lokale en die tyd waarop dit plaasvind.
  • Voer gereeld gesprek met die persone met gestremdheid wat wel in die kerk betrokke is, en maak seker dat hulle tuis voel. Moet egter ook nie net altyd fokus op hul gestremdheid nie – aanvaar hulle as ’n welkome deel van die gemeenskap van gelowiges.

Ons as gestremdes is self ook verantwoordelik

Persone met gestremdheid is nie onthef van die  verantwoordelikheid om die gemeenskap van gelowiges op te bou nie. Ons het ook geestelike gawes wat kan bydra tot die versterking van gelowiges. Laat ons saam planne maak oor hoe dit geïmplementeer kan word. As daar beurte gemaak word om byvoorbeeld Bybelstudie te lei, moet ons ook ’n beurt neem. Sommige van ons het leierskappotensiaal wat so dikwels onder die maatemmer toegesluit is dat niemand meer daarvan weet nie, ook nie onsself nie. Dit kan nie so bly nie, ons moet almal daaraan werk dat almal se gawes gebruik word in die koninkryk.

Maak ons ook gesamentlik verantwoordelik vir die insluiting van gestremdes. Een voorbeeld wat in ’n gemeente goed gewerk het, was bloot ’n groepie van vier persone wat aan die saak van insluiting aandag wou gee. My vriend Francois wat blind is, was deel van die groepie. ’n Vrou van wie een arm geamputeer is, het by hulle aangesluit. Hulle kon dus saampraat oor wat prakties gedoen kan word. Hulle het begin om families wat deur gestremdheid geraak word, te besoek. Vriendskappe het begin vorm, hulle het by mekaar se lewens betrokke geraak en veral gevra hoe hul behoeftes hanteer kon word. Daar is intens na mekaar geluister en so by die dieper sake van die hart uitgekom. Uiteindelik was die tyd reg dat sommige van die gestremdes weer eredienste begin bywoon het. ’n Bank of twee in die kerk is verwyder sodat daar genoeg plek is vir rolstoelgebruikers en hul familielede.

My vriend Francois vertel verder: Ons het geleer dat sommige mense met gehoorverlies moeilik funksioneer in groepe. Ons het saam met hulle planne gemaak om oplossings te vind en dit te implementeer. Een Bybelstudiegroep is aangepas met mense wat werklik wou leer hoe om met gehoorgestremdes om te gaan. Almal het mekaar gehelp om dit te laat werk. Ons het gevoel ons kom by mekaar se harte uit omdat ons meer moeite gedoen het om na mekaar te luister.

Ek wens vir elke gemeente toe die geseënde ervaring om persone met gestremdheid as deel van hul geloofs-gemeenskap te hê. Inderdaad verg dit soms groot aanpassing, maar moenie dat dit julle ontneem van die rykdom wat daar is in die verskeidenheid van lewenservarings nie. Tree gerus in verhouding met ’n gestremde, leer ken sy of haar leefwêreld, hul uitdagings, hul pyn, maar ook hul geestelike wysheid wat hulle deur baie moeilike ervarings geleer het.

Mag ons almal op tasbare wyse ervaar dat God ons almal onder alle omstandighede insluit.

*Alle name is skuilname.

(Erna Möller is die projekleier van RampUp – wat die insluiting van persone met gestremdheid in kerke bevorder)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap