Covid-19 het ons lewens oornag verander. Op vele maniere. Van die veranderinge was ten goede, maar hierdie artikel probeer die lens draai na die ekonomie en hoe ons na verwagting die rimpelings daarvan in die Kerk en ons gemeentes gaan beleef.
Die ekonoom Dawie Roodt praat eerlik en op die man af. “Ons is nie gereed vir hierdie krisis nie, hierdie korona-epidemie het ons onverhoeds betrap en niemand was voorbereid nie. Eerstens moet ons erken dat ons ekonomie reeds na die waakeenheid op pad was al lank voor die koronavirus aangekom het.”
Nou is ons egter in ’n veel groter krisis, meen Dawie. “Wêreldmarkte is besig om te struikel. Indekse ervaar beduidende onstuimigheid ter waarde van honderd miljarde dollars per dag. Beleggers is paniekbevange, beleidsmakers sit met hul hande in hul hare.
Dit is onmoontlik om akkuraat te skat wat die uiteindelike impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal wees, maar ons kan leer uit vorige krisisse. Die resessie sal nou dieper wees en langer duur. Die ekonomie behoort veral in die tweede kwartaal skerp te verswak, en ’n baie diep depressie is bykans ’n uitgemaakte saak vir die jaar in geheel. Baie ondernemings sal ten gronde gaan en duisende mense sal hul werk verloor. Dit is veral sekere ondernemings in die dienstebedryf, soos haarkappers en restaurante, wat besonder swaar gaan trek.”
’n Ontwikkelingsekonoom van die Noordwes-Universiteit stem saam en meen in hierdie diep depressie sal werkloosheid styg tot bo die 30%-kerf en ’n klompie besighede sal toemaak. Dit was indien die grendelstaat op 17 April opgehef sou word. Noudat dit langer neem, kan die werkloosheid styg tot 40% en selfs 45%.
Dr Frikkie Labuschagne wys daarop dat die effek van Covid-19 maar net een gebeurtenis is! In hierdie oomblik van verbasing het daar ook twee ander gebeure plaasgevind wat tot verdere ekonomiese druk op almal lei, naamlik die afgradering deur Moody’s na rommelstatus en ook die verdere afgradering deur Fitch van Suid-Afrika se beleggingstatus. “Die gevolge hiervan is korttermyn en langtermyn van aard. Die onmiddellike depresiasie van die rand en die toename in pryse (omrede Suid-Afrika die meeste van sy goedere invoer) is na alle waarskynlikheid ons voorland.
Wat gaan die rimpelings daarvan in die Kerk en op gemeentevlak wees? ’n Mens kan natuurlik nie met akkuraatheid voorspel nie, maar ons hallusineer as ons dink dat ons net kan voortgaan asof niks gebeur het nie. Ons gemeentelede is deel van die statistieke, van hulle gaan waarskynlik ook hul werk verloor, hul besighede kan ook toemaak, meer mense kan verlagings in hul salarisse te wagte wees.
Dit beteken waarskynlik ’n daling in offergawes. Daarmee saam moet ons besef baie gemeentes het reeds teen hierdie tyd duisende indien nie honderd duisende rande nie, se verliese op hul begrotings getoon, vanweë fondsinsamelings wat nie kon plaasvind nie en waarskynlik nie gaan plaasvind nie.”
Dr Labuschagne meen gemeentes sal onmiddellik alle maatreëls in plek moet stel om hul kontant positief en gesond te hou. “Jesus Christus is die hoop vir die wêreld! Hoe gaan u offergawes, deurkollektes en ander inkomstebronne invorder om die bediening van die evangelie van Jesus Christus te laat voortgaan? Lidmate se voortgesette betrokkenheid en investering in die plaaslike bediening van die gemeente is meer as net ’n prioriteit.
Ons finansiële modelle (sinodaal en gemeentelik) is boweal op gesonde kontantvloei gebaseer. Kontantvloei is die geld wat binne ’n bepaalde maand in en uit die gemeente beweeg (vloei). Offergawes/donasies (kontant) kom van lidmate af (invloei), terwyl kontant uit die gemeente in die vorm van betalings vir verbande, huur, oortrokke fasiliteite, belastings, ensovoorts, vloei. As meer geld inkom as wat uitgaan, is jy in ’n positiewe kontantvloeisituasie en het jy genoeg om jou verpligtinge na te kom. As meer kontant uitgaan as wat inkom, is die gemeente in gevaar om oortrokke te wees. Hoe gaan gemeentes van die Kerk die nodige aanpassings doen wat nou kritiek nodig is? Elke lidmaat van die NHKA is rentmeester van die bediening van die versoening wat aan ons toevertrou word (2 Kor 5: 18).”
Prof Pierre Jordaan (Antieke Taal- en Teksstudie NWU en leraar in Gemeente Wonderfontein) het ’n verrassende uitkyk op Covid-19 en die Kerk: “Die krisisse van die finansiële agteruitgang, Moody’s se afgradering en Covid-19 het (on)gelukkig ’n nuwe kairos in die Kerk laat aanbreek. Kairos is ’n Griekse woord vir ’n kritieke seisoen waarin spesifieke optrede verwag word. In hierdie tydperk is dit nodig om buite die kassie te dink. Die dominees van die Nederduitsch Hervormde Kerk behoort gelukgewens te word met hul pogings om steeds tydens die inperking die evangelie met elektroniese media te verkondig. Die pastorale bystand van lidmate is eweneens prysenswaardig. Ek weet van ten minste twee predikante wat hul hele gemeente gebel het in hierdie tyd. Albei het getuig van groot waardering by die lidmate. In die nabye toekoms voorsien ek dat kategese asook Bybelstudies en selfs kerklike vergaderings aanlyn sal plaasvind.
Die kairos van finansiële oorlewing is egter ’n ander storie. Alle dosente aan die NWU moes binne ’n week ’n aanlynkundige word, modules herskeduleer, asook nuwe metodes van assessering voorlê. Net so sal gemeentes die finansiële kairos vindingryk moet hanteer. Dalk is ’n virtuele basaar, veiling en bestellings die aangewese weg om fondse aan te vul. Die internasionale Grand Prixs asook fietswedrenne wat uitgestel is, het ’n paar opportuniste nie verhinder om dit aanlyn te doen nie. Die uitslae daarvan word selfs op nasionale televisie bekendgemaak. Die kairos van finansiële oorlewing is hier of jy daarvoor gereed is of nie. Raak kreatief betrokke by die wêreld, en gebruik die geld om die Kerk te laat oorleef!”
Daarmee saam besef ons dat die materiële nood gaan styg en ons barmhartigheidstaak dienooreenkomstig gaan vergroot. Dr Martin Jansen van Rensburg (Delmas) deel met ons ’n paar gedagtes oor barmhartigheid. “Hoe gaan barmhartigheid in ’n post-Covid-19-era lyk? Die NHKA se barmhartigheidswerk gaan na alle waarskynlikheid onder druk kom weens sosio-ekonomiese faktore wat die gevolge van Covid-19 gaan wees. Sonder om volledige antwoorde op bogenoemde vrae te gee, sal die volgende in gedagte gehou moet word:
- In die lig van die akroniem MOED sal die letter E wat staan vir EENVOUDIGER KERKWEES, duideliker omskryf moet word. Wat is noodsaaklik om kerk te wees?
- Die ADV se tema van 2020 is 20 treë in die voetspore van Jesus. Hoe gaan dié voetspore in ’n post-Covid-19-era lyk?
- Daar sal anders gedink moet word oor barmhartigheid.
- Gemeentes sal moet herbesin oor hul roeping en verantwoordelikheid.
- Bedieningsplanne sal aangepas moet word.
- Gemeentes se begrotings sal aangepas moet word om mense se nood te verlig.
Is dit vreemde tye hierdie? Ja. Is dit ’n unieke tyd hierdie? Nee. Die wêreld het al voorheen groot krisisse beleef. Die Spaanse Griep van 1918 en die depressie van 1930 was maar twee geleenthede wat, te midde van pyn en trane, diakonale energie tot gevolg gehad het. Te midde van groot nood het die NHKA nog altyd daarin geslaag om haar diakonale roeping uit te leef. En gehoorsaam aan die Heer van die kerk, sal dit nou ook so wees.”
(Ds Dalene Lourens is leraar in Gemeente Selcourt)
